View Full Version : Gedigte: Almal is eintlik Hartseer
CFJ
Aug 8th 2007, 02:28 PM
Hierdie gedigte is almal geskryf, wanneer ek 'n oorwinning op my pad met die Here behaal het en hierin moes ek leer dat alle mense presies dieselfde hartseer het. Ons stories verskil egter, maar ons is almal hartseer en oor daardie rede het ons 'n Trooster. Anders sou 'n Trooster nie nodig wees nie en miskien is dit die rede hoekom Dawid God se liefling was, Dawid het beter as enige iemand anders besef dat God werklik sy Trooster is. Hier is 'n verhaal wat deur gedigte vertel word en hopenlik vertel dit ook dat ons nie een 'n beter storie as die ander het nie, maar dat van ons net besef het ons het werklik 'n Trooster nodig en dan is mens net meer sensitief om dinge raak te sien. Ek dink dit is die hartseerste verhaal, dat mense hartseer is en dit nie eers agterkom nie, want hulle word nooit getroos nie...
Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie. Daarom het ek die dooies wat lankal gesterf het, gelukkig geprys bo die lewendes wat nog lewe,
(Pred 4:1-2 AOV)
CFJ
Aug 8th 2007, 04:00 PM
Hier is 'n gedig wat handel oor hoe ons almal maar 'n maat soek. My eie verhaal is een waar ek vir 38 jaar gesoek het en altyd alleen was. Wat ek eintlik graag wou deel met almal, het ek basies vir myself geleer toe ek ook gesoek het en net nooit kon kry nie... ons soek almal ons maats hier op aarde. Ons soek 'n leeftyd lank en vind hulle nie, waar is my geliefde... hoekom kry die ander, hoekom?... waar is myne asseblief Here, asseblief Liewe Jesus, waar?
Ons Beste Maat
Ons almal soek na ‘n maat
‘n maat wat jou bystaan in elke raat
‘n maat wat jou lief het sonder saak
een wat jou altyd diep kan raak…
…ons dink almal die maat is hier
en eintlik is ons nie so vêr nie, my dier
die maat wat ons eintlik soek
is nie ‘n maat nie, maar behoed…
…daar’s Een wat alles kan verleen
Dawid-Jonathan, man-kind-vrou… alleen?
ons sal nooit nie vind in ‘n ander mens
sonder die Een wat tog so wens…
…dat almal net eenkeer op sal kyk
om net eenmaal sy kosbaar siel, te verryk
neem Jesus aan my vriend, vriendin
Hy is die Een, wat jy eintlik bemin!
19 Mei 2002, 7:59
CFJ
Aug 8th 2007, 04:02 PM
Daar is 'n raaisel wat meeste in die wêreld nie sien nie, hulle hoor net daarvan en verwonder hulle aan diegene wat reken hulle het iets gevind... ken jy ook hierdie raaisel?
Blik aspaai
Raai raai, blik aspaai
wat het ekke hier gevind
dit is ietsie baie fraai
dis so mooi – tog so blind!
Moenie ophou soek My kind
Ek vra mooi – asseblief
soek en soek en jy sal vind
dit is kosbaar en so lief…
Die tragies en die hartseer
is dat baie nie kan raai
en ander nooit, ja… nooit probeer
vir hulle bly dit, blik aspaai?
6 Mei 2002, 1:40
CFJ
Aug 8th 2007, 05:17 PM
Almal van ons het maar drome en soms word min van hierdie drome waar. Baie van ons verwelk met tye en elkeen kry een of ander tyd seer. Mense stel ons teleur en die son kom op en die son gaan onder en dae maak met tye nie sin nie. Almal bid en raak moedeloos en elke liewe mens voel maar een of ander tyd alleen. Die son se hitte kan mens nogal blootstel en die son van die lewe is maar op elkeen se pad. Die Here se son van geregtigheid is genadiglik beskikbaar en is iets wat ek hier ontdek het, dit gee mens nuwe krag en is iets wat mens kan uitsien na! (Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. Mal 4:2)
Lank terug het ek 'n Engelse gedig gelees wat al hierdie dinge so werklikheid vir my gemaak het, dat ek dit op 'n kasdeur geplak het... en op 'n dag, toe is die inspirasie daar...
Ek droom in die son want ek kon
Ek het baie gedroom maar dit nooit bereik
hulle't vervaag soos mis voor die son
genoeg van my drome het ek wel bereik, dank die Heer,
nou droom ek nog want ek kon
Ek het baie gebid maar net niks wou gebeur
ek het gewag op die Heer se son
genoeg het Hy tog antwoorde gegee,
nou bid ek nog want ek kon
Ek het mense vertrou wat my hart gebreek
ek het alleen gestaan in die son
genoeg mense kan ek nog vertrou
nou vertrou ek nog want ek kon
Ek het saadjies gesaai deur die wind verwaai,
vir voëls om te eet in die son
genoeg het gegroei om my hart te verkwik
nou saai ek nog want ek kon
Ek het gedrink uit die beker van hartseer en pyn
baie dae sonder musiek in die son
genoeg nektar het ek tog gesmaak,
nou leef ek nog want ek kon!
23 September 2006, 9:49
Ta-An
Aug 8th 2007, 07:38 PM
Uitstekend my vriend!!
'n Talent om te dig het jy beslis!!
CFJ
Aug 9th 2007, 08:10 AM
Die liewe Here se wil is iets wat die mens komplekser maak, as wat nodig is. Sy wil is altyd onmiddelik waarneembaar, tog soek ons Sy wil op wyses wat dit verborge hou. As jy nie moet weet nie, is God se wil bloot dit, jy moenie weet nie. Ons aanvaar dit net nie altyd nie en so weet ons met tye nie wat God se wil is nie, want ons soek eintlik ons eie wil. Elke mens moet die Here as Verlosser en ook Here van sy/haar lewe aanneem, dan sal jy soos Job kan sê... "Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!"
U wil
Laat U wil geskied, net U wil
dankie dat ek kan bid
eers dan val alles in gelid
dis so vervelig as ek vra
wat ek nee en wat ek ja
maar as ek U maar net vertrou
dan gee U altyd nou
dit o HERE, is U wil
2 Mei 2002, 3:30
CFJ
Aug 10th 2007, 06:45 AM
Op hierdie forum is 'n artikel oor Richard Dawkins (http://bibleforums.org/forum/showthread.php?t=95881), wat vertel hoe geestelik dood hierdie arme mens is. Hy is net meer bekend, maar daar is baie mense wat werklik geestelik dood is. Hulle leef op 'n ander planeet en dit wat God gegee het, bestaan nie vir hulle nie. Mens moet bid vir hulle, dat ook hulle 'n oorwinning kan kry... hier is 'n gedig wat daaroor handel...
Paradys
U het dit gemaak
ongelukkig, het dit so anders geraak
Die meeste mense woon nie daar nie
die Paradys – hul weet nie waar nie?
As hul maar net kan besef…
die tweede ADAM het herstel
wat eerste Adam – weggehel
dis tragies en nie mooi gestel –
Hulle’t gekies, die dieretuin
(in ‘n hok vasgekamp),
maar die mooiste mooiste tuin
het vir hulle weggedamp…
Dis so hartseer om te dink
dat iets so mooi…, vir hulle stink
Hulle’s maar tevrede, met iets wat sonder rede
voorsien in hul valse vrede
Gee ons krag om te bid
vir diesulkes wat daar sit –
sonder heenkome… die gejok
dis so tragies – hulle hok
Ons weet, iewers is ‘n opening
as hul maar net tot daar kan spring
dan… is hulle vry!
O Here, maak ons harte bly!
want ook hulle’t… die Ewigheid gekry!
4 Mei 2002, 7:47
CFJ
Aug 10th 2007, 11:52 AM
Van tyd tot tyd is dit nogal aangenaam om met ateïste en ongelowiges in gesprek te tree. Omdat mens dinge geestelik moet beoordeel as jy ‘n kind van die Here is, kom mens gou agter dat daar ‘n diep kloof in spesifiek mens se eie wêreldbeskouing met sulkes s’n is. Dit neem dan ook nie lank nie, dan begin hierdie mense met jou spot en natuurlik ook met God. Hulle probeer jou wys dat daar ‘n meer, verhewe en beter weg is as geloof, want die moderne mens hou homself net nie meer op met sulke primitiewe dinge van veral ‘n absolute geloof in God nie. Een van hierdie ateïste se skuilnaam is Nathan Bond, wat veral op die rug van evolusie baie van sy standpunte regverdig (van bobbejaan na mens, van eenvoudige dinge ingewikkeld maak en ook van dinge lank, lank, lank gelede... ). Hy kan heel moontlik die Richard Dawkins in die kleine van Suid-Afrika wees en het ‘n redelike invloed op ander en dan woon hy toevallig nog in die selfde plek as ek ook!
Met 2 Timóteüs 3 ingedagte en terwyl ek eendag so sit en kyk na al die spot en sarkastiese aanmerkings op die forum waar ek geskryf het, toe ontstaan die volgende gedig sommer so spontaan met die hartseer wete dat satan agter dit alles sit (Nathan Bond rym toe in goeie reg heel mooi met Satan Blond)…
SATAN BLOND en vriende
Dis die blou dis die blond
daai die ene naam-gestond
Dis die dame met die hare
wat lyk so deur die blare
Dis trippe trappe trone
wat ertjies sien as bone
Dis bob-jaan agter’d berg
wat ander kinders terg
Dis hulle wat belowe
maar is self van eer berowe
Dis stotter piep en mompel
in die leuen gedompel
Dis Satan blond en vriende
wat gaan hoor dis hul verdiende
Dis Jesus wat net wag
wanneer hul heeltyd lag
Dis waarheid op te tel
voor ewigheid en hel…
30 Julie 2006, 14:20
CFJ
Aug 11th 2007, 07:56 AM
Ons almal ontmoet een of ander tyd 'n baie spesiale persoon, of dit nou net 'n vriend is, 'n ouer is of meer as dit, maar spesiaal is spesiaal en dit word op 'n ander skaal gemeet as die wyse waarop glans-tydskrifte spesiale mense uitbeeld. In Hollywood kry 'n vrou soms 10 uit 10 vir "looks", maar is sulkes altyd spesiaal? Self het ek in 2002 iemand ontmoet wat baie spesiaal was en dit sluit nie noodwendig uit hoe iemand lyk nie, maar is baie dieper as dit en ek kan dit vir ander ook gee. Hier is 'n gedig daaroor...
Een uit ‘n miljoen!
Jy, is een uit ‘n miljoen
dis waarmee ek wil versoen
net een, tog net een
dit is die een, aan my verleen
Baie meet op ‘n ander skaal
as hul net kan sien - hoe hulle faal
al is jy fisies tien uit tien
niemand, het dit inelk geval verdien
Maar een skaal, ja net een
die is ‘n skaal wat krag verleen
hierdie skaal – oneindige seisoen
die een van – een uit ‘n miljoen!
12 Mei 2002, 11:45
Ta-An
Aug 11th 2007, 08:02 AM
Van tyd tot tyd is dit nogal aangenaam om met ateïste en ongelowiges in gesprek te tree. Omdat mens dinge geestelik moet beoordeel as jy ‘n kind van die Here is, kom mens gou agter dat daar ‘n diep kloof in spesifiek mens se eie wêreldbeskouing met sulkes s’n is. Dit neem dan ook nie lank nie, dan begin hierdie mense met jou spot en natuurlik ook met God. Hulle probeer jou wys dat daar ‘n meer, verhewe en beter weg is as geloof, want die moderne mens hou homself net nie meer op met sulke primitiewe dinge van veral ‘n absolute geloof in God nie. Een van hierdie ateïste se skuilnaam is Nathan Bond, wat veral op die rug van evolusie baie van sy standpunte regverdig (van bobbejaan na mens, van eenvoudige dinge ingewikkeld maak en ook van dinge lank, lank, lank gelede... ). Hy kan heel moontlik die Richard Dawkins in die kleine van Suid-Afrika wees en het ‘n redelike invloed op ander en dan woon hy toevallig nog in die selfde plek as ek ook!
Met 2 Timóteüs 3 ingedagte en terwyl ek eendag so sit en kyk na al die spot en sarkastiese aanmerkings op die forum waar ek geskryf het, toe ontstaan die volgende gedig sommer so spontaan met die hartseer wete dat satan agter dit alles sit (Nathan Bond rym toe in goeie reg heel mooi met Satan Blond)…
SATAN BLOND en vriende
Dis die blou dis die blond
daai die ene naam-gestond
Dis die dame met die hare
wat lyk so deur die blare
Dis trippe trappe trone
wat ertjies sien as bone
Dis bob-jaan agter’d berg
wat ander kinders terg
Dis hulle wat belowe
maar is self van eer berowe
Dis stotter piep en mompel
in die leuen gedompel
Dis Satan blond en vriende
wat gaan hoor dis hul verdiende
Dis Jesus wat net wag
wanneer hul heeltyd lag
Dis waarheid op te tel
voor ewigheid en hel…
30 Julie 2006, 14:20
Amazing!!!!!!!!!!!! Welgedaan my vriend :)
CFJ
Aug 12th 2007, 07:32 AM
Hoe mens praat en hoe jy getuig oor die waarheid en oor jou eie Verlosser, is bepaald meer krities as om net inligting oor te gee aan ander. Ons woorde en die gesindheid waarmee mens dit sê, bepaal hoe ontvanklik dit vir ander gaan wees. Om hierdie gesindheid te kan lééf het ons die Here se Woord en Sy leiding deur dié Heilige Gees nodig. Mens weet nooit, of vandag moonlik jou laaste geleentheid gaan wees, om die heel mooiste boodskap van alle boodskappe, dié Evangelie aan iemand te gee, wat dalk vandág nog dit móés hóór en dit kon aanneem nie...
Wees altyddeur bly.
Bid sonder ophou.
Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
Blus die Gees nie uit nie.
Verag die profesieë nie.
Beproef alle dinge; behou die goeie.
Onthou julle van elke vorm van kwaad.
(1Thes 5:16-22)
Jy moet altyd
Jy moet altyd so met mense praat
asof dit jou laaste keer
jy moet altyd mooi met hulle praat
want hierdie keer kan hul bekeer.
As jy dit onthou My kind
dan sal jy My gou gou vind
want My koms is nie meer vêr nie
Ek gaan jou kom haal, dalk is jy dan nie meer daar nie…
3 Mei 2002, 10:00
En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
(1Thes 5:23)
CFJ
Aug 14th 2007, 04:32 PM
So baie mense voer aan dat hulle Jesus ken. Tog sien mens in jouself en ander gereeld eienskappe wat mens skok. Mens se behoud is egter om dit te kan erken, maar hoekom wil so min "Christene" dit nie erken nie? Dink mense nog oor wat hieronder in Matthéüs staan, want dit is met "Christene" wat hier gepraat word en dit is iets waaroor mens baie wonder... :(
Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
(Mat 7:16-23)
Godsdiens is hul eer
Daar’s so baie mense
wat ten spyte van al die wense
van die wat Hom gevind het –
ook maar hul sondes bely
en dit, terwyl hul stry
teen hul beterwete;
Godsdiens is hul eer
hul trek ook die baadjie aan en baie keer
is en bly dit maar net, hul eie eer.
3 Mei 2002, 8:08
CFJ
Aug 16th 2007, 04:40 PM
Daar is niks wat so seer maak, soos selfsugtige liefde nie. Baie verhoudings in ons dag ontstaan net omdat een onophoudelik hom- of haarself aan 'n ander een opdring. Omdat baie maar onseker is, kan dit later gebeur dat mens maar toegee en dan is die gevolg meeste van die tyd dat jy gaan seerkry. Selfsugtigheid is maar die wese van al mense se probleme en die kompleksiteit en intensiteit van liefde in 'n verhouding, is baie sensitief vir die destruktiewe element in selfsugtigheid. Daar was 'n stadium in my lewe waar ek nie die Here geken het nie en my eie besluite was meesal dwaas... daarvoor, moes ek 'n prys betaal wat slegte gevolge maar ook 'n goeie eindresultaat vir my gehad het. Romeine 8:28 het vir my waar geword en ek vertel graag later daarvan. Toe ek jonk was het dinge regtig vir myself ernstig skeefgeloop in 'n verhouding waarin ek in "gedwing" was, miskien identifiseer iemand ook daarmee...
Gepluk voor ek ryp was
Eenmaal lank gelede…
het ek my skoonheid verloor
en dit sonder rede
want eenmaal… was ek getoor
Toe die listige slang
my laat pluk het
toe ek so bang…?
in hofsake beland het
En dit toe ek al groot
maar nie ryp was nie
dit is, ja… dit is nood
as jy nie reg is nie
Ai die skade en geknoei
ek was amper dood
maar genade het laat groei
en nou’s ek regtig groot!
Halleluja! Ek is vry!..
ek’t gesoek en gevind
en uiteindelik gekry!
ook ek, is nou U kind
11 Mei 2002, 14:19
CFJ
Aug 17th 2007, 11:45 AM
Uit eie ondervindinge het ekself iets geleer van verhoudings, jy en jou maat moet gereed wees voor julle mekaar pluk. Iemand wat gepluk word voor hy of sy ryp is, kry seer en dit maak in elk geval so iemand nie so mooi soos dit moontlik is vir 'n mens om te kan wees nie. Moenie selfsugtig in jou eie begeertes wees nie, ware liefde soek nie eie belang nie, maar die belang van die ander een (1Kor 13:5). Hoeveel verhoudings is daar vandag waar dit uitsluitlik deur die selfsug van een of selfs beide se selfsug uitgebuit word. Dit is niks anders as verkragting nie, want op subtiele, dog geforseerde wyse, kaap die een die ander se hart of beide misbruik mekaar se harte. Ons is almal soos ‘n blom wat gepluk moet word…, onthou, ‘n blom is net regtig mooi wanneer dit volryp is!!!
Die Here wag eers dat die oes ryp is, voor Hy Sy oes kom insamel. Daarom sal God ons nie kom pluk voor die tyd reg is nie, ons word gelouter vir Sy koninkryk en wat God doen, stel vir ons die voorbeeld! 'n Maat gaan nie so mooi wees vir jou, as jy hom of haar pluk, voor hulle reg is vir die liefde nie... die Bybel leer dit ook...
Ek besweer julle, dogters van Jerusalem: Waarom wil julle wakker maak en waarom wil julle opwek die liefde voordat dit die liefde behaag?
(Hooglied 8:4 AOV)
Volryp blom
Ons is almal soos ‘n blom
as ons net, so bietjie dink daarom
dis die mooiste blom vir my
as jy soek kan jy ook kry
Dit is asof – wanneer gereed
hierdie blom die duurste eed –
gepluk moet word in die tuin
van volmaakte liefde – uit basuin!
‘n Volryp blom is altyd reg
om bemin te word – ons Kneg
Hy maak jou so uiters mooi
emmers liefde uitgegooi
6 Mei 2002, 2:38
CFJ
Aug 18th 2007, 09:06 AM
Almal van ons het maar 'n bepaalde verstaan van die Here se Woord. Sekeres se verstaan is soms net meer of minder afhanklik van die Here self. Ongeag hoe naby mens aan die Here is, mens word eintlik maar klein gehou deur nie alles net in 'n oogwink te verstaan nie. Soms verstaan mens gou en soms neem dit letterlik jare, alhoewel dit seker gaan verskil van mens tot mens, kan mens aanvaar nie een van ons kan sommer net in 'n oogwink alles verstaan nie.
In hierdie soeke na kennis is daar ook hoe ons deel met ander t.o.v. kennis. 'n Kind van die Here weet dat mense ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis. As mens iets ontdek het wil mens so graag vir ander ook vertel. Dit is by hierdie vertel waar die probleem ontstaan, want almal wil nie noodwendig alles wat mens vertel aanvaar nie. Oor goeie redes natuurlik, want sekere dinge in die Here se Woord is nie so krities rakende ons redding soos ander dinge nie. Dit is veral oor sekondêre waarhede waar die groot verskille tussen kinders van die Here ook groot onmin, hartseer en verdeeldheid bring. Ek moes so les ook leer toe minder belangrike kennis iemand anders seer gemaak het.
Tydens 'n baie rare vakansie wat ek gaan hou het, want ek doen dit amper nooit, eindig ek op Elandsbaai en ontmoet toe twee van die ongelooflikste mense wat vandag nog goeie vriendinne van my is. Aleta was besig om ‘n boek te skryf en is een van die vrouens wie se geestelike lewe, my nog die meeste beindruk het. Die tannie (Irene) in wie se gastehuis ek gebly het, het dadelik gesien waar my belangstelling lê en sy het nie geaarsel om ons aan mekaar voor te stel nie. Ongelukkig was my eie en Aleta se geloofsoortuigings verskillend en ek het myself voorberei om haar so bietjie te be-arbei. Tot my eie skande kom ek toe agter ek is eintlik besig om haar te veroordeel… ek kom toe ook agter dat kennis van God se Woord, skadelik kan wees. Hier is die gedig wat ek toe vir Aleta geskryf het, om die les wat ek geleer het, weer te gee. Ek glo dit is 'n les aan ander ook, want almal van ons gaan iewers onverantwoordelik met "kennis" van die waarheid om.
Kennis Vermoor!…maar Onkunde Versmoor?
Die wonder van godsaligheid
is onbegryplik, gevul met heerlikheid
ons kan dit nie altyd insien…
omdat ons dit vir onsself wil verdien
Dit is hoekom ons so faal
want ons eie-ek…, tot tien-duisend-maal!
as ons tog maar net wil probeer
om die vloed van woorde te kan keer
Met kennis kan ons so maklik vermoor
die verskoning is eenvoudig…
ons weet almal, onkunde versmoor!
Dit maak ons so dikwels in ons optrede, oorbodig
Die les wat liefde leer is anders
presies net soos die see se branders
dis iets wat werk, keer op keer
sonder om verkeerd te leer
Maar nooit moet ons van die gesag,
van kennis van die Woord afwyk
want om te leer uit onkunde…, hierdie mag –
sal voorsien dat minder siele beswyk!
As ons ons onkunde erken
dan eers sal ons meer kennis wen
en dit sal ons hart en siel verryk
om ander te wen, vir Sy Koningkryk.
25 Mei 2002, 10:39
Ta-An
Aug 18th 2007, 09:38 AM
Fantasties Ferdi... jou gedigte spreek van baie emosie :)
CFJ
Aug 19th 2007, 08:49 PM
Die hartseerste wat ek ooit in my lewe was, was 'n skemer-aand waar ek vir die eerste keer in my hele lewe, vir iemand moes vertel, dat ek lief is vir haar. Inteendeel, dit was die eerste keer wat ek hierdie woorde oor my lippe ge-uiter het. Hierdie storie wat ek graag wil vertel, het alles begin by 'n gedig en ek moes net die Here vertrou in hierdie blootstelling van die wêreld van die liefde, tussen 'n man en 'n vrou, wat vir 38 jaar my nooit beskore was nie!
Ek noem graag die storie...
... HARTSEER...
Dit het alles begin by 'n gedig...
Marlene..., se gedig...
Al my eie gedigte, handel oor geestelike oorwinnings en ook die datum en presiese tyd wanneer dit gebeur het. Ek dig net as daar 'n oorwinning kom in my geestelike pad van heiligmaking en as die inspirasie daar is. Toe ek jonk was, het ek my vingers verbrand in 'n verhouding, waar die meisie te "slim" vir my was. Omdat ek maar baie konserwatief groot geword het, was ek maar dom met die "dinge" van die lewe. In standerd 8, het ek nog "karretjies" gespeel, want ek het groot geword in Suidwes se stofvlaktes. Toe ek standerd 7 was, het ons verhuis na Pretoria... 'n plek wat nie goeie herhinneringe vir my het nie... verwronge en selfsugtige liefde maak seer, baie seer...
Nou ja, so land ek toe op die ashoop van die lewe en sonder dat ek dit besef het, was die "nare" ondervinding met die meisie nodig, sodat ek in 'n hoek was... ek is een van die gelukkiges, om op hierdie wyse amper kan mens sê, geforseerd was om Jesus aan te neem. Dit was of die dood (selfmoord en/of depressie) of die lewe (Jesus).
Omdat ekself maar sensitief is, het dit 'n geweldige effek op my as mens gehad. Ek het 'n persoonlike ontmoeting met Jesus reeds in 1987 gehad (wedergeboorte)... en tog kon ek nooit weer my hart vir 'n meisie gee nie. Ek was ontsettend bang vir vrouens. Daar was Winnie ('n pragtige meisie) wat ek in 1992 ontmoet het, maar ek kon net nooit werklik my hart vir haar gee nie. So stuur die Here toe iemand na baie gebed en jare se geduld of eerder ongeduld, in 2002! Haar naam is Marlene en ons het mekaar in Oudtshoorn ontmoet, maar daarna het ek haar nog nooit weer in lewende lywe gesien nie... en nogal 'n meisie van Windhoek, die Suidwes waarvoor ek so lief was en is. Ons het maar telefonies en d.m.v. e-pos en nou en dan 'n brief, gekorrespondeer. Hier is wat gebeur het, die gedigte vertel die storie.
Omdat ek lief is vir skryf, was dit goed om te weet sy skryf gedigte. Sy stuur toe hierdie gedig vir my...
Hartseer
Die lewe is soms hard - gemeen
die trane wat heel vrylik vloei oor my wange heen
wat sal ek met jou doen, o hart
wat sal ek met jou doen die wortel van al my smart
Omstandighede waarin ek myself bevind
kan ek nie maar weer wees die blondekop kind
as ek kyk na die donker storms in my lewe
ek hoop dat Hy my sondes sal vergewe
Ek is tog so vreeslik bang - die vrees die angs
onsekerheid, swakheid - ek struikel voort - padlangs
wat sal ek met jou doen, o hart van bekommernis
was die droefheid, pyn en donkerte tog maar heel uitgewis
M. Esterhuizen
Dit was nie om dowe neute dat die gedig oor die hart en oor hartseer gehandel het nie. Marlene se eerlike gevoelens wat sy so kragtig op papier vasgelê het, het my bedwelm. Sy het haar hart op papier oopgemaak... ek moes ook! Ek weet toe ek sal vir die eerste keer in my lewe vir 'n meisie moet sê... Ek is lief vir jou!
Probleem is, ek moet haar kan vertrou... ek weet nie hoe nie... sy is nog so jonk...? Die dinge maal in my gedagtes rond en druk my in 'n hoek, want ek weet, Marlene is die vrou wat die Here vir my gestuur het... ek weet dit ek weet dit ek weet... Die Here het aan my gewys dat ek so naby aan haar sal wees, soos die groewe van die skilde op die Leviathan (Draak) se pantser (vel)...
Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie. Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.
(Job 41:16-17)
Ek weet nie hoe ek moet maak nie... die middag laat ry ek om die mense wat vir my werk te gaan aflaai en in wanhoop breek ek voor die Here, na ek op 'n verlate pad alleen by Hom was. Dit was die tweede groot ontmoeting wat ek met die Here gehad het, na ek Hom as my Here ook aangeneem het (om goed en sleg aan te neem as reg)... hier is die drie gedigte wat die direkte gevolg daarvan was en vertel hoe die Here in 'n oogwink, my van alle soorte liefdes geleer het...
Vanaand…
Hoe vry het U my gemaak
‘n aand in April net voor die nagwaak
my inspirasie, Marlene… se gedig
Ek kan nie eintlik dig nie, maar ek moes probeer
want die hartseer en verdriet was net te seer
Ek wonder hoe kan dit wees
dat op agt-en-dertig ek die eerste maal
my hart verloor het, ja …die eerste maal
Dit was so vreemd dat ek skoon verward
die pad gevat het wat my hart bepaal
Ek ken nie hierdie pad nie en moes helaas -
tydelik die aftog blaas
O HERE ek wil by U kom skuil
die rigting soek na hart-fontein
Marlene is nog so jonk o Heer
maar iewers…, iewers het U ouderdom uitgewis…
dit kos my net dit uit te vis
Ek wil nie seerkry nie, k‘wil maar net probeer
om sin te maak uit die lesse wat die lewe leer
‘n Man huil nie, maar vanaand…
het ek onbeheersd en platgeslaand
my tot U gewend, want ek val voor U in sondeskuld
ek smeek en smeek en smeek om hulp!
Help my Jesus, red my siel!
want hierdie lewe’t my al so verniel…
ek kom altyd tweede en voel al oud
so alleen, sonder behoud
maar vanaand…, ja vanaand het U met my gepraat
so sagkens, so mooi, so… as my beste Maat
U het mý in hierdie aand geleer
daar is twee soorte liefde’s in die hemelsfeer
die een is genade en van U o Heer
die ander een maak ‘n mens se hart, so seer…
{(24 April 2002, 17:30)}
My Opdrag
Wat kan ek vir U doen, hierna…
ek’t by die wenpaal gekom, deur U gena
As ek terugkyk na die see van menigtes
en ek sien hoe hulle val… en strompel…, o ja
dan onthou ek wat U vir my gedoen het
toe die wedloop sonder rigting
my in doellose - smartlike bestaan… ontnugtering?
My woorde is so min
maar gelukkig is my hart gewin
vir ‘n groter Saak
wat ander mense, se siele raak
{(24 April 2002, 18:00)}
So Kragtig!
Ek onthou ‘n donker nag
toe ek in geestelike bankrotskap trag
Dit was iewers in negentien-sewe-en-tagtig
waar U my aangeraak het, so kragtig!
Ek was so verlig na vele maande
van ander-mense-hartseertrane
hierdie is my laaste gedig
my toekomsplanne ingewig
- U sielsverlore aarde -
{(25 April 2002, 3:00)}
CFJ
Aug 21st 2007, 07:51 AM
Nou ja, ek kon nie glo dit was so maklik, om vir iemand te kon sê, ek is lief vir jou nie!
Eerste het ek dit vir 'n vriend en vriendin van my vertel... hulle was so opgewonde om te hoor ek het iemand ontmoet, dat ek eintlik oorweldig was oor hul eie gevoelens jeens my liefdeslewe. Wat presies die aand van die 24ste April 2002 gebeur het, was eintlik baie meer as dit. Die Here het aan my gewys, dat as ek my hart nie vir 'n meisie kan oopmaak nie, dan beteken ek nie eintlik iets vir Sy koninkryk nie. Net 'n oop hart kan hartewerk doen! Toe ek dit kon regkry, toe ontvang ek iets baie groter as wat ek verwag het... 'n sielelas!
Dit is 'n brandende liefde vir die siel van 'n ander mens. Ek was so leeg na die drie gedigte wat ek geskryf het, dat ek gereken het dit is verseker die laaste gedig, toe die derde een geskryf was... min het ek geweet dat gedigte terapeutiese waarde het. Ek het Marlene ook duidelik laat verstaan, ek het nou alles geskryf in daardie gedigte wat ek nog altyd wou sê... of so het ek gedink...
Op Witsand, terwyl ek besigheid daar gaan doen het, het ek 'n tydjie gehad om so bietjie daar op die strand te gaan sit. Die vorige aand se kuier by my vriend en sy vrou, het my bygebly en ek skryf toe hierdie gedigte...
Ou Manie
Jy is dierbaar, jy en Sonja
sy is so bemind oor my
gevoelens-om-‘n-vrou-te-kry
dit is lekker, dis ‘n fees
om deur sulkes geken te wees
Ek kon nog altyd op jou reken
vir my is dit ‘n goeie teken
dat daar liewe kinders van Hom is
wat nog omgee, in ‘n wêreld wat stom is…
1 Mei 2002, 9:30
Marlene’tjie
Ek het nog een geskryf
aan ‘n vriend en vriendin
vir wie ek vertel het
hoe ek jou bemin
Ek wou hulle so graag vertel
wie in hierdie lewe, is my “Pal”
Dis so maklik as jou hart jou lei
dis onsettend spesiaal vir my
as jy lief is vir die lewe
dan het jy ‘n groter strewe
van tydelik?… ewig rus
dis amper, aan die slaap gesus.
1 Mei 2002, 10:00
CFJ
Aug 22nd 2007, 09:14 AM
Toe ek nog in Pretoria was, het ek in Johannesburg gewerk en elke dag tot soveel as 220 km werk toe en terug gekarring. Ek was ‘n produktiwiteits konsultant by Portnet (vir wat dit nou ook mag werd wees…lol). Reeds in 1992, was dit vir my duidelik dat regstellende aksie nog ‘n kopseer gaan word. Dit het nie baie oortuiging gekos om ‘n pakket te neem en maar my eie ding te begin nie. Ek het begin om met volstruise te boer, daarna ook een van die eerste volstruis-slaghuise in Transvaal begin en eintlik meer probleme opgesaal as wat ek nodig gehad het.
Niks wou net werk nie, as daar nie kwarantyn toegepas was weens Newcastle siekte nie, dan kon die volstruis-slagpale in Magaliesburg nie slagvöels kry nie of my volstruiskuikens vrek… en glo my hulle gaan nie dood nie, hulle raak sommer vanself oorlede. Of… die ou waar ek onderverhuur (nie almal nie, maar 2 van die drie waar ek heen geswerf het) besteel my. Daarby het ek nog dom foute ook gemaak en so word my Isuzu bakkie op die 10de Januarie 1995 geroof, terwyl ek vleisprodukte in Soshanguwe noord van Pretoria verkoop het. Wonder bo wonder het ek lewendig daar uitgekom, want een van die rowers het teruggekom om my te kom doodskiet. Daar het ek gesien, ‘n skietgebed het groot krag, die rower het onverklaarbaar weggeloop en so is die bakkie vort… tot vandag toe nog en om alles te kroon (swak speurwerk en nog wat), het die versekering nie ‘n dooie sent uitbetaal nie (tegniese punt soos gewoonlik)!
Die besigheid wat reeds swak was, was sommer daar en dan tot niet en al genade was maar om Oudtshoorn toe te verhuis. Ek is met ‘n bus op, my bietjie goedjies wat oorgebly het, is met PX agterna. Ek het net R250 in my hand gehad, nadat daar vroëer ook ingebreek was waar ek gebly het, feitlik al my besittings (wat ook maar nie baie was nie) was gesteel… en glo dit of nie, weereens geen terugbetaling deur die versekerings maatskappy nie… tegniese punt natuurlik!
My ouers woon in Oudtshoorn en ek kon genadiglik by hulle ‘n dak oor my kop vind en ‘n warm bed om in te slaap. Sommer van meet af het volstruiseiers my gefasineer en ek het begin om horlosies en allerlei snaaksighede daarmee te maak. Ek kry toe gelukkig ook gou werk by ‘n volstruisboer as voorman… vandag is die boer een van my beste vriende… dieselfde Manie wat ek die gedig voor geskryf het.
In die 18 maande wat ek by Manie gewerk het (die beste, verreweg die beste werk wat ek ooit gedoen het), het ek meeste aande na-ure, soms tot 3 uur in die oggend, gesit en stoei om produkte met volstruiseiers te maak. Wat my die meeste gefasineer het, was om op hulle te kerf en te grafeer. Ek is maar nog altyd 'n baie eensaam en alleen mens gewees... daar was dus baie tyd vir my nuwe stokperdjie. Min het ek geweet dat ek 'n heel nuwe tegniek en konsep ontwikkel het, die speletjie was net te aangenaam om verder as dit te dink, maar die produkte was suksesvol en so begin ek einde 1996 weer ‘n voltydse besigheid.
Dit het maar moeilik gegaan en die eerste 2jaar het ek geloop waar ek wou wees. Ek het geen ryding gehad nie en ek koop toe ‘n klein Mini vir R3500! Sjoe, was ek trots op daai Mini!!!
Ongelukkig het die besigheid vereis dat ek ‘n bakkie moes hê… ek verkoop toe die Mini en koop toe ‘n klein Mazda bakkie, toe ‘n Bantam, toe ‘n Courier en so het dit aangegaan waar ek vandag ‘n besigheid het waar tussen 17 tot 35 mense vir my werk, afhangende van die toerisme- en volstruis seisoene.
Genoeg oor die besigheid… ek het sedert 1993 geen vakansie gehad nie en nadat ek Marlene ontmoet het in 2002, besluit ek om so bietjie Weskus toe te gaan. Ek het ‘n goeie besigheidskontak daar gehad, sy het by my volstruiseierdoppe gekoop en self ook produkte gemaak. Sy is ‘n ouerige Hollandse dame wat Engels, Afrikaans en Nederlands so deurmekaar opdis in ‘n smaaklike soort van potjie-kos. So sit en gesels ons en sy vertel my haar lewensverhaal…. Die inspirasie het gou in ‘n gedig ge-eindig, oor dié gelowige maar eksentrieke tannie wat in Darling bly!
Mieke from Darling
The Lord is our Shepherd
die Here sal voorsien
it’s the only method
glo dit en jy sal sien
The power of His glory
is the punch line of this story,
ek staan verwonderd en tog
het U alles volmaak besorg
Vir ‘n ystervrou wat liefde leef
it’s so amazing listen to the warning!
Die krag van U kinders laat ander beef
this is the story, of Mieke from Darling!
23 May 2002, 11:30
CFJ
Aug 26th 2007, 07:23 PM
Ek en Marlene het gereeld kontak gemaak, hoofsaaklik maar e-pos. Sy het net drie gedigte vir my gestuur... hier is die ander twee...
Take the time
Take the time to think a while
take the time to smile a smile
take the time to look around
take the time to hear the crying sound
Our lives are too busy for us to see
we do not know who we really are - or who to be
we rush by each other everyday
without having so much to say
We do not take the time to feel
we do not take the time to mend a broken heart - to heal
we close our eyes not to see, our hearts not to care
everyday we pass by each other and greedily our hearts we do not share
Take time to speak your heart, soul and mind
for when you give you will find
love is easy to receive, if only we were to take the time
to stand still and listen to others for a while
M. Esterhuizen
My hart en jy
'n spesiale plekkie vir 'n spesiale persoon
dis my hart en jy
geen komplikasies, geen vrille en valle, geen goue kroon
in my hart, gedagtes, gevoelens daar sal ek jou altyd kry
jy met jou hart van goud
ek is dankbaar om met jou te kan deel
jy wat meer beteken as die see en al sy sout
van liefde en goedheid het jy tog soveel
'n spesiale, unieke jy met jou grote hart
daarom sal ons vriendskap altyd bly voortbestaan
deur dik en dun, blydskap en smart
my hart en jy, net so spesiaal soos al die sterre en die maan
M. Esterhuizen
Ek was so bly dat die Here iemand so sag en sensitief op my pad gebring het. Sy het egter nooit haar hart aan my bekend gemaak nie en alles het daarop gedui dat sy net "vriende" wil wees, maar haar ge-aardheid was van so aard dat dit my nie gepla het nie. Ek is amper seker geen ander meisie sou my so gemaklik kon laat voel om my hart vir haar te gee nie. Onthou die drie gedigte, sy het Hartseer, Take the time en My hart en jy, vir my gestuur.
Ek het haar so waardeer en dit het nie veel geneem om geïnspireerd te wees vir nog 'n gedig nie... miskien die beste een (my eie opinie) wat ek geskryf het!
…dis al, dis dit…
Met Hartseer het jy my iets geleer
en dit is weet jy – my hart is seer
maar Take the time moet ek erken
is skitterend!!… met hom kan jy ‘n wedstryd wen
My hart en jy is vreeslik sag
dit laat ‘n mens so anders lag
Ek hoop ek glo en ek vertrou
dat ons twee’s vrienskap nog lank gaan hou!
jy moet my asseblief vertel
as ietsie fout is my liefste “Pal”
Dan, sal ek vir jou bid
en bid…dis al, dis dit…
3 Mei 2002, 1:10
Na ek hierdie gedig hierbo vir haar gestuur het, was sy verbaas dat ek geweet het sy het Take the time ingeskryf en dat sy werklik pryse met daai gedig gewen het! Dit is dan wanneer mens weet, inspirasie het 'n Outeur, omdat God vooraf aan mens dinge kan wys sonder dat mens dit weet!
CFJ
Nov 4th 2007, 01:59 PM
Die een gedig wat Marlene geskryf het, Take the time, was een waarmee sy werklik pryse mee gewen het, dit is regtig ‘n goeie gedig. Ek was nooit baie goed met Engels nie en my besigheid het my maar geforseer om Engels beter te skryf en te praat. Dit is net interessant, as jy wil weet of iemand van Suidwes afkom, vra of hy/sy kan swem en of hulle kan Engels praat. Nee, was nogal 'n algemene antwoord tot redelik onlangs… <smile>
Dit was vir my nogal besonders om te ontdek ek kan dig, maar die Engelse gedig wat Marlene geskryf het, het my ook ‘n begeerte in die hart gewek… ek sal ook nog eendag..., ‘n Engelse gedig wil skryf…
Die eendag was toe vroëer as wat ek gereken het. Vroeg 2002 het ek die eerste keer ‘n rekenaar vir my besigheid gekoop. Die eerste ontdekking wat ek gemaak het was dat daar elektroniese Bybels is wat jy verniet kan aflaai van die net!! Die tweede ontdekking was dat daar gespreksforums soos hierdie was. Ek het juis op Bible Database afgekom, wat tans al meer as 20 000 lede het en ek neem nog steeds deel hier en hulle het my verder genooi om moderering hier te doen, wat nog net 'n voorreg en seën was. Iets wat my opgeval het van die Amerikaners was hulle buitengewone beheptheid met die wegraping. Ek wil nou nie dogmaties wees nie, maar my eie sienswyse was nog altyd dat Jesus se wederkoms die groot fokus van ons godsdiens moet wees… hoekom die wegraping? Ek het werklik hierdie vreemde fokus as bejammerenswaardig gesien (die reg of verkeerd van die wegraping is nie vir my ter sake nie, want mens kan dit bepaald regverdig, maar die fokus op die wegraping was vir my vreemd)… hier is die gedig (my EERSTE Engelse gedig!) wat spontaan gekom het…
The rapture
My dearest friends, I’m so sorry… so sorry
but I must confess, don’t worry
the rapture is not before the Great Tribulation
it’s before God’s wrath!!!
Because His wrath is not meant for you
it’s for all the people in the zoo
think about it and refresh…
you will see there’s no way out of here, in the flesh
If you really believe, you will see
the rapture is for you and me
when we decide to leave from here
that very day, oh! God adhere…
3 May 2002, 11:59
Spontaan het oorwinnings gekom. ‘n Meisie wat by my gewerk het, het werklik nie ‘n lewende verhouding met die Here nie (ek hoop regtig sy het nou), maar as ek open met skriflesing in die oggend, dan straal haar gesig en ek wou haar so graag bemoedig!
Trots op jou
Ai ou Liezel vanoggend vroeg
was jou oë die skerpste gewees
wat sonder ellende en die moeg
na die stappe van genees…
geluister – asof jy gevind
Hy sê: luister asseblief My kind
die ander was darem ook nie vêr nie
dit was so mooi gewees,
nie meer so vêr… van die huis af nie
3 Mei 2002, 10:09
Al die gedigte wat ek vir iemand geskryf het, het ek ook vir hulle gegee. My skoonsuster, het met permissie gesê, heeldag gesit en luister na die radio, niks verkeerd nie, maar is dit regtig so?
Stilte
Jy kan maar radio luister
maar luister mooi as Iemand fluister
dalk is die musiek te hard
dit maak ‘n mens tog so verward
Ek bedoel dit goed ou “Girl”
dat jy luister na Sy wil
dat jy luister hoe dit stil is
dis ‘n voorreg - wat self vertel is
Jy sal sien dis die waarheid
dit gee mens waarlik reinheid
Die stilte het ‘n krag
waar ons almal… eindig in Sy mag!
6 Mei 2002, 6:50
In dieselfde tyd toe ek so geïnspireerd was, het daar elke oggend ‘n lagduifie, wat iewers uit ‘n hok moes ontsnap het, reg op my afgedaal, so asof God met my wou praat deur die duifie. Die duifie het my pa net so beindruk! Ek het natuurlik kos by my gehad en die duifie het kom eet, uit my hand uit! Een oggend, toe is die duifie net weg en ek het hom nooit weer gesien nie, maar sy doel was gedien… ek het die gedig vir myself geskryf, maar ook vir my pa gegee…
Duifie
Ou duifie, my beskermer
waar is jy…?
die groot ontfermer…?
ek weet, jy was vry!
Ek wonder nou nie meer
want jy was gestuur,
deur ons liewe Heer
wat neerdaal soos ‘n vuur
Jou doel is gedien
ook vir ‘n ander
miskien…?
kan U hom ook… verander
11 Mei 2002, 13:50
Mens is soms so lelik met die mense naaste aan jou en so baie luister heeldag na die radio, my ma ook, maar my ma was ook die slagoffer van my skerp mond…
Liewe Ma
Ons is soms so vêr van mekaar
ek hou nie daarvan nie en dit pla my
dat ons alewig so moet stry
kan ek ma ietsie leer
ma moet net, ag net probeer
Ontdek Hom in die stilte
dis waar Hy ons almal raak
waar Hy die mooiste musiek… ook maak
2 Mei 2002, 6:30
CFJ
Nov 18th 2007, 08:50 PM
Marlene het vir my ontsettend baie beteken. Die oorwinning wat ek gesmaak het om net my hart te kon oopmaak, was hemels!
Ek was egter so bietjie gefrustreerd oor haar amper passiewe reaksies, maar nogtans het die gedagte my nooit ontgaan, dat sy vir my baie beteken en ek maar vergenoegd met my omstandighede moet wees. Ek het bly glo dat die deurbraak sou kom... ek en haar nefie (Frans), sou later die jaar in Suidwes gaan toer... dan kon ons sien wat gebeur... so het ek gedink...
Intussen gaan die lewe aan en ek het reeds in 1999/2000, 'n meisie ontmoet wat by 'n plaaslike Christelike boekwinkel gewerk het. Haar naam is Zelda en ons was geestelik op feitlik presies dieselfde vlak. Daar is feitlik nie 'n stukkie dogma, waaroor ek en sy opsigtelik verskil het nie.
Net om bietjie agtergrond te gee... Reeds toe ek klein was, veral so van standerd 6 (nou graad 8 ) se kant, het ek net 'n goeie vriendin begeer. Daar was so baie van my vriende wat sulke goeie, platoniese vriendinne gehad het... ek het ook so vriendin begeer. Terwyl ek so sit en top oor my en Marlene, toe raak ek skielik skaam oor my selfsugtige begeertes... Die Here het so vriendin vir my gegee! Ja, haar naam is Zelda... ek het haar nog net nooit waardeer nie! Dit was 'n groot oomblik in my lewe... sjoe, as ek darem nou daaraan dink!
My Beste Vriendin
Geskenk uit genade…
gegee toe dit nodig…
die rots van ons aarde –
altyd sterk… bewillig… ja genadig
Sy is beter as ‘n maat
in die huwelik gegee
dit is kosbaar en ek baat…
in diè vriendskap, tyd te bestee.
Dankie Jesus vir die krag
en die vrede elke dag,
dat ek haar gevind –
om te sien, ek is U kind!
Ons soek altyd en verniet –
wat ons vind is net verdriet…
Maar as ons eenmaal regtig soek
dan vind ons, U beskik oor hemels-goed…
17 Mei 2002, 11:59
Toe ek in die hospitaal was, het ek vir 7 weke daar gelê, ek het geweldig baie aandag van die verpleegsters gekry. Hulle het almal om my bed kom staan... en dan lees ek my gedigte vir hulle. So het ek op grond van die dinge wat hulle my vertel het, gedigte met inspirasie geskryf wat my nou nog verstom, as ek sien wat alles met my gebeur het in die ongeluk. Die Here het geweet hoekom ek daar in die hospitaal (Worcester Medi Kliniek) moes wees. Daar kon ek bid saam met mede-pasiente, voor hulle vir operasies gaan en dies meer. Baie het geestelike raad by my kom vra... ek was so dankbaar om net iets vir die Here te kon doen. Vir my was dit 'n fees en oor baie redes.
Ek het nooit vriendinne gehad nie en die aandag het my opgewek laat voel... die grootste daarvan natuurlik die aanraking wanneer hulle my versorg. Ek kon niks myself doen nie. Ek het sonder dat ek dit besef het, eintlik eers nadat ek ontslaan was, gesien dat my onderbewussyn gesmag het na 'n vrou se aanraking. Daar ontmoet ek toe vir Elzibe. Ons uitkyk op die geloofsleer was net soos met Zelda, feitlik dieselfde. Meer oor Elzibe later.
Omdat ek redelik aktief was op godsdiensforums, het ek heelwat mense op die net ontmoet, een so iemand was Tersia. Ek dink van almal wat ek nog leer ken het, was Tersia die een met wie ek die meeste geheime gedeel het. Sy weet alles van my en net so weet ek alles van haar... dit moes so wees, want ons het beide net 'n oor nodig gehad oor ons eie unieke omstandighede. Ek was al so dankbaar oor Tersia, sy het vir my regtig baie beteken. Ek dra dan ook die gedig oor my Beste vriendin, op aan Tersia, Aleta, Elzibe en Riana. Riana is iemand wat ek in Oudtshoorn ontmoet het, net soos die ander vrouens, was ons gemeenskaplike uitkyk op die Bybel dieselfde. Hulle almal was sulke vriendinne, wat op die regte tyd daar was toe ek hulle nodig gehad het, soos die gedig ook uitspel, hulle sal altyd wees, selfs al hoor ons moontlik nooit weer van mekaar nie. Ek kan C'tjie (skuilnaam) ook insluit by daardie groepie, maar van haar sal ek julle later vertel...
Elzibe het my vertel van haar hartseer oor haar egskeiding, dit het haar so onaanvaarbaar laat voel. Ek glo met my hele hart haar aandeel in haar eie egskeiding was nie groot nie, maar sy moes hoor dat die Here ons vergewe vir dinge wat verkeerd geloop het. Ek wou ook nie God se vergifnis 100% aanneem nie, maar ek moes as ek waardig voor God wou wees... hier is 'n gedig wat ek vir haar geskryf het...
Volkome Vergewe
Moenie terugkyk soos Lot se vrou
dit is iets baie kosbaar, wat jy moet onthou,
want die lewe het ‘n pas
wat die ongeloof van twyfelaars verras
As Jesus jou sondes vergewe
en jy weens omstandighede, geen rede
het om te twyfel weens jou skoonheid,
dan moet jy weet die kruis wat jy dra, is waardigheid!
As jy jou kruis opneem
is dit die genade verleen
vir dit wat Christus gedoen het,
toe Hy jou sondes versoen het en gesterf het aan die kruis –
Ja…, dink maar vir ‘n wyle en jy sal besef, wat Hy vir jou gedoen het
Die geraamtes in jou kas
het altyd ‘n gewig wat jou swaar belas,
maar as jy jou kas se deur oopmaak,
sodat Hy die geraamtes – sondes uit kan laat
en Hy jou met Sy genade vry laat raak…
…dan, moet jy onthou
die wonder van genade ontvou
en laat jou sonder las,
die dag toe Jesus jou sondes – skoon gewas!!
18 Junie 2002, 01:00
CFJ
Jun 7th 2009, 07:14 PM
Miskien moet mens maar weer begin skryf, maar inspirasie is nodig en dit lyk of dit terug is...
protea
Jun 8th 2009, 06:12 AM
Ferdie , jy en Karen het nou nie juis agter in die ry gestaan toe die skryfkuns talente uitgedeel is nie ne.....;) Vir jou se ek ook : Doet zo voort!
|
|
Hosted By Webnet77vBulletin® v3.8.4, Copyright ©2000-2009, Jelsoft Enterprises Ltd. |