Quick Links
Bible Search Christian Links
Online Bibles Link to Us
  Downloads Web Hosting  
  Domain Names  


PDA

View Full Version : Bespreking Doppers se besluit oor vroue so' geneem


Die Filadelfieer
Jul 28th 2009, 09:53 AM
Die volgende artikel oorspronklik hier (http://jv.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2542549,00.html). Ek dink dit is goed om dit in totaliteit te plaas voor dit wegraak in die argiewe .....


Al die argumente wat onlangs in die media ten gunste van die vrou in al die ampte geopper is, is tydens die baie lang debat in die sinode genoem.
Die sinode het ’n omvattende studieverslag behandel waarin onder meer standpunte in die geskiedenis en die praktyk in ander kerke bespreek word.
Tog was die argument wat die swaarste geweeg het: Wat sê die Here in sy Woord? En die meerderheid van die sinode was eerlik oortuig – ná biddende oorweging – dat die Here in sy Woord bekend maak dat Hy spesifiek mans wil gebruik vir die dienswerk van ouderling en predikant.

Verskil in uitgangspunt

In die Nuwe Testament is daar per-tinente bevele oor die vrou se posisie in die kerk en in die huwelik (bv. 1 Tim. 2:8-15; 1 Kor. 11:2-16; 14:26-40; Ef. 5:22-33 en 1 Pet. 3:1-7), wat op die oog af daarop dui dat die vrou in die kerk nie mag onderrig gee en regeer nie, en dat sy in die huis haar eggenoot as hoof moet erken.
Dié moeilike Skrifgedeeltes word op verskeie maniere deur verklaarders hanteer, afhangende van die verklaarders se benadering tot die Skrif:
) Sommige verklaarders verwerp die spesifieke voorskrifte as ongeldig vir die veranderde, moderne tyd. Dit is slegs geldig vir destyds of verteenwoordig die persoonlike mening van die menslike skrywer (Paulus). Dit maak dan volkome sin om te sê dat aanwysings oor man en vrou in die Bybel uitgediend is.
Op die sinode was egter eenstemmigheid dat die Bybel God se openbaring is en nie die neerslag van mense se nadenke oor God nie. Die Bybel is wel tydgerig, maar nie tydgebonde nie. Dit beteken dat gesagsverhoudings in die huwelik steeds geld. Wat Paulus oor die kerk en huwelik skryf, is nie bloot Paulus se eie (mangesentreerde) mening nie – te meer omdat dit uit die eerste hoofstukke van Genesis gemotiveer word. Dié hoofstukke gee nie bloot ’n tydgebonde antwoord van Israel op die veelgodedom nie, maar is openbaring van God se skeppingsdaad en sy doen met die mens.
) ’n Tweede moontlikheid is om te sê: Dit gaan in die betrokke Skrifgedeeltes nie oor ’n altydgeldende swyggebod in die erediens en ’n beperking op leiersrolle vir vroue in die kerk nie. Al wat dit sê, is dat die man in die huwelik die hoof van sy vrou is. Die sinode het hierdie verklaring oorweeg, maar is nie daardeur oortuig nie.
) Die derde moontlikheid is om te erken: Die Skrifdele waarin geleer word dat vroue nie in die leer- of regeerdiens mag staan nie, is bedoel om as sodanig verstaan te word. Dit is ’n voorskrif vir alle tye. Die man is in die huwelik die hoof van die vrou (Ef. 5:22-23). In die kerk funksioneer ’n soortgelyke hoofskap (1 Kor. 11:2-16). Die Christelike huwelik en kerk is unieke instellings, wat nie gelyk gestel kan word met ander instellings waar vroue wel leiersposisies beklee nie.
Die sinode was oortuig dít is die manier waarop God in sy kerk gedien wil word en wil daaraan gehoorsaam wees. Daardeur staan die GKSA nie veroordelend teenoor ander kerklike gemeenskappe wat vroue wel as ouderling en predikant toelaat nie.

Wat die saak ánders maak

Soms word die vraag of vroue in die amp mag dien of nie, verbind met sake soos slawerny of die dra van hoede in die erediens, waaroor vandag anders geoordeel word as in die verlede. Daar is egter ’n wesenlike verskil.
Dit gaan hier oor direkte aanwysings hoe die Here sy kerk wil regeer. Fundamentele uitgangspunte oor Skrifgesag en Skrifhantering kom op die spel.
Dit is vreemd dat die GKSA se besluite oor die vrou in die kerk soveel negatiewe publisiteit geniet omdat verreweg die grootste getal Christene in die wêreld deel is van kerkgemeenskappe (met uiteenlopende leerstellinge) met slegs mans in die regeer- en leerampte.
Onder hierdie denominasies (almal sterk plaaslik verteenwoordig) tel die Rooms-Katolieke en die Ortodokse kerke, asook verskeie Pinkster-, Baptiste- en gereformeerde kerke.
Die GKSA het noue bande met verskeie oorsese kerkgemeenskappe. Die groot meerderheid van dié kerke is oortuig dat net mans as ouderling en predikant mag dien.

Susters in aksie

Oor die gelyke posisie van verloste mans en vroue voor die Here is daar geen twyfel nie. Galasiërs 3:26-29 verwys daarna.
As vroue nie as ouderling of predikant dien nie, beteken dit allermins dat hulle van dienswerk in die kerk uitgesluit word. In die kerk van die eerste eeue was vroue in besonder betrokke by barmhartigheidsdiens en allerlei ondersteuningsdienste.
Calvyn het ’n besondere dienswerk van weduwees bepleit. Die Christelijke Gereformeerde Kerken in Nederland (in ’n sekere sin die moederkerk van die GKSA) benut vroue op ’n manier wat aansluit by Calvyn.
Dr. Erik de Boer van die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) in Nederland het onlangs ’n belangwekkende boek geskryf oor die onderwerp: Zij aan zij: Pleidooi voor een vrouwlijk ambt in de kerk.
Die GKSA se sinode van 2003 het ’n studie goedgekeur oor die dienswerk van vroue in die kerk, afgesien van die dienswerk deur middel van die besondere dienste van ouderling, predikant en diaken wat nog nie behoorlik in werking gestel is nie.

Vroue se perspektief

Die kwessie of vroue as ouderling en predikant kan dien, is nie ’n saak van mans versus vroue nie. Dat slegs mans die besluit geneem het, behoort geen verskil te maak nie omdat dit gaan oor die verstaan van Skrifbeginsels.
Vroue wat dieselfde Skrif- en teksbenadering as die GKSA se sinode volg, kom wêreldwyd tot dieselfde gevolgtrekking. Onder hulle tel verskeie professionele vroue wat verantwoordelike poste in die samelewing beklee.
Susan Hunt, Rebecca Jones en andere het boeke geskryf vanuit die standpunt dat vroue nie in die leer- en regeerdiens moet dien nie. Margaret Köstenberger het onlangs ’n doktorsgraad in teologie by Unisa oor ’n verwante onderwerp behaal.

Aanvullende rolle

Baie mense wat die vrou as ouderling en predikant wil sien, verwerp ook die hoofskap van die man in die huwelik. Sienings oor die vrou se rol in die kerk en die huwelik hang egter saam.
In die VSA word die rol van die vrou in die kerk en gesin al lank druk bespreek. Daar is hoofsaaklik twee standpunte, wat onderskeidelik bekend staan as die egalitêre en komplementêre standpunt.
Die egalitêre benadering beskou man en vrou in die huwelik en kerk as gelyke vennote.
Die komplementêre benadering lê daarop klem dat man en vrou, hoewel gelykwaardig, verskillend en aanvullend tot mekaar geskep is sodat man en vrou in die huwelik en kerk nie identiese rolle het nie.
Die GKSA se besluit verwoord grootliks laasgenoemde (komplementêre) standpunt.
Tydens die sinode is meermale tereg gesê: “Die Here se werk gaan oor baie meer as hierdie een, enkele kwessie.”
Mans en vroue móét in die kerk saamwerk. Vroue móét voluit deel wees – selfs al dien hulle nie as ouderling of diaken nie.
As ons eenvoudig gehoorsaam is aan die Here se groot opdrag vir sy kerk sál Hy ons seën en laat groei.



) Proff. Jordaan en Krüger is van die Teologiese Skool Potchefstroom van die GKSA.

SA Topsites