Fila. Ek dink jy's reg. Om te verstaan dat God die keuses van mense om gered te word vooraf predestineer, kom neer op fatalisme.
Dit is nie hoe ek die uitverkiesing verstaan nie.
Die voorneme en die grond van die uitverkiesing
Die soteriologie is deurslaggewend tot die verstaan van die uitverkiesing. Die uitverkiesing is daarom nie vreemd aan die soteriologie nie. Dit is ook nie in stryd met die bestaansdoel van die mens nie. Die uitverkiesing onderstreep juis God se begeerte om met die mens in ‘n persoonlike verhouding te tree.
Om die uitverkiesing te verstaan, is dit nodig om ‘n onderskeid te maak tussen God se voorneme van verkiesing (Rm 8:28; 9:11; Ef 1:9,11; 3:11; 2 Tm 1:9) en die grond of toegang tot die verkiesing.
Die voorneme van sy verkiesingdui op die voorafbepaalde heilsplan in Christus. Die heilsplan wat Hy van ewigheid af gehad het, het betrekking op Christus se dood, waardeur almal gered kan word. Dit is die hart van die uitverkiesing. Dit is die genade en liefde wat God uitstort oor die wêreld (Jh 3:16). Daarin het die wil van die mens geen inspraak nie. Dit berus volkome by die soewereiniteit en die vrye inisiatief van God. God hoef dit nie te gedoen het nie. Dit was egter God se voorneme om mense wat aan Christus se verlossing deel het, te kies en te bestem vir die ewige lewe. God se uitverkiesing vind dus uitdrukking in die heilsplan in Christus.
Die grond vir die uitverkiesing is die geloof. Dit is die manier waardeur die mens toegang het tot die verkiesing. Geloof behaag God (Heb 11:5-6). So kry ons toegang tot die genade waarin ons nou staan (Rm 5:2). So raak ons deel van die uitverkore volk van God (Gl 3:7). Geloof is die wyse waarop mens deel raak van die ewige heilsplan in Christus.
Ef 3:8-12 som dit goed op: Paulus sê aan hom is die genade gegee om die evangelie onder die heidene te verkondig. Hy noem dit in vers 4 en 9 ‘n verborgenheid. Dit word saam met die voorneme van God se verkiesing verstaan (1:9,11). Vers 9: “sodat dit aan almal aan die lig kan bring wat die rentmeesterskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Christus.” En dit (vers 11-12) “volgens die ewige voorneme wat hy opgevat het in Christus Jesus in wie ons vrymoedigheid het en die toegang het met vertroue deur (op grond van) die geloof in Hom.”
Die probleem met die verstaan van die uitverkiesing ontstaan wanneer dit gesien word as ‘n partikuliere beslissing wat ten opsigte van elke individu gevel word. In die verlede is dit hoofsaaklik verklaar vanuit twee hoeke:
1.Die Gereformeerde siening verklaar die uitverkiesing aan die hand van God se soewereine, transendente besluit, wat beide ‘n ewigheids- (universele-) en effektiewe (partikuliere) dimensie bevat. God se uitverkiesing vind heilshistories plaas en omvat die menslike besluit.
2.Die Arminiaanse siening verklaar die uitverkiesing aan die hand van God se voorkennis. God het vooraf geweet wie sou Hom aanneem in die geloof en wie nie.
Beide sieninge bevat myns insiens ‘n gedeelte van die waarheid. Die probleem met die Gereformeerde siening is egter dat dit nie werklik die menslike vryheid tot sy reg laat kom nie en tog ‘n sekere determinisme veronderstel. Die probleem met die Arminiaanise verklaring is dat dit grens aan ‘n soort fatalisme. God weet reeds alles vooraf, en wat moet gebeur, moet gebeur.
Die vraag is of daar hoegenaamd ‘n partikuliere of individuele moment in die uitverkiesing bestaan?
Hoewel daar skrifgedeeltes is wat praat van predestinasie (proorizw = “decide from the beginning”), waarvan die bekendste waarskynlik Ef 1:5-11 is, het dit altyd te doen met die universele voorneme van verkiesing. Dit praat daarvan dat God van alle ewigheid af die wat gaan deel word van die verlossing in Christus (deur geloof), bestem het om as sy kinders aan te neem. Dit praat nie van die uitverkiesing van spesifieke individue nie.
In ‘n sekere sin beteken die voorneme van verkiesing dat God van die grondlegging van die wêreld af reeds vir die mens gekies het. Ons keuse tot geloof is ‘n reaksie op God se “ja”in Christus (2 Kor 1:18-20). Die beslissing van die uitverkiesing is dus reeds gevel. Dit bestaan daarin dat God prinsipiëel vir die mens in Jesus Christus gekies het. Daar bestaan nie ‘n tweede moment wat God weer sekeres kies nie. Hy het klaar gekies in Christus.
Ons is in Christus uitverkies
Christus is die punt waar die uitverkiesing sy finale en beslissende moment bereik. Dit is waarheen die voorneme van verkiesing heengewys het, en waarin dit volbring is.
Daarom sê Ef 1:4 en 2 Tm 1:9 ons is in Christus uitverkies. Die wat deur die geloof deel kry aan Christus is deel van die verkiesing. Die uitverkiesing het in die eerste plek betrekking op Christus. 1 Pt 1:18-20: “...julle weet dat julle nie uit ververganklike dinge... losgekoop is... nie, maar deur die kosbare bloed van Christus... wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld...” Hy is die Uitverkorene van God (Jes 42:1). Mt 25:34 sê: “Dan sal die Koning (Jesus: vgl. vers 31) vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” Ander verse wat hierop dui is Hd 2:23 en 4:28 (vgl. Hd 3:18).
Die heilsgebeure in Christus verteenwoordig die voorneme van God wat van die begin reeds daar was. Deur die geloof kry ons deel aan Christus (Gl 3:7,16,26-27) en dus deel aan die ewige voorneme (verlossingsplan in Christus) wat God van die begin af gehad het. God het reeds van die grondlegging van die wêreld af geweet van die verlossing wat in Christus sou kom. Alle dinge het deur Christus ontstaan (Kol 1:15-19). God het dit van die begin af so bestem dat die wat vir God liefhet, gelykvormig sal wees aan die beeld van sy Seun (Rm 8:28-29). Die manier waarop God vantevore die uitverkiesing in Christus beplan het, is nie op ‘n deterministiese of fatalistiese wyse nie. Dit was ‘n plan wat God ten alle koste voorgeneem het om uit te voer. Niks kon Hom stuit nie, want Hy is oormagtig.
Mens sou dus kon sê uitverkiesing is net ‘n ander woord vir evangelie. Dit onderstreep eintlik die hele evangelie. Dit onderstreep ook die genade van God: die genadige voorsiening wat God vir die mens maak om gered te word sonder verdienste – nie op grond van goeie werke of herkoms nie; op grond van geloof – daar is geen onderskeid nie. Niemand word spesiaal bevoordeel nie. Dit onderstreep die liefde en regverdigheid van God. Dit is ‘n saak wat vreugde bring (goeie nuus) vir die hele wêreld (Jh 3:16). Dit is nie ‘n obskure element in die teologie wat liewer vermy moet word nie. In die lig van die soteriologie is die uitverkiesing daarom nie ‘n doel op sigself nie, maar die omskrywing van God se begeerte om met die mens in ‘n persoonlike verhouding te tree.
Die universele aard van die uitverkiesing
Soos reeds gesien, is dit problematies om die uitverkiesing te verstaan aan die hand van ‘n partikuliere beslissing. Hoewel die uitverkiesing van Israel meer in hierdie rigting verstaan kan word (wat later bespreek sal word), moet hul verkiesing steeds nie deterministies verstaan word nie.
Sommige beweer dat Christus se dood slegs bestem was vir ‘n gepredestineerde groep mense wat hy uitverkies het. Dit staan bekend as die leer van die limited atonement. Verdedigers van hierdie standpunt (bv. Owen 1985) wy egter die meeste tyd daaraan om teksgedeeltes wat op die universele redding van die mens dui, weg te verklaar. Argumente in hierdie verband berus dikwels op aannames en is moeilik versoenbaar met ‘n eg evangeliese boodskap.
Tekste wat op die universele redding van die mens dui is die volgende:
1.Tekste wat daarop dui dat Christus vir alle mense gesterf het: Jes 40:5; Jh 3:16; Jh 12:32; Tt 2:11; Rm 5:15,18; 14:15; 1 Kor 8:11; 2 Kor 5:15,19; 1 Tm 2:6; 2 Pt 2:1; Heb 2:9; 10:29!; 1 Jh 2:2; Mt 18:14.
2.Tekste wat daarop dui dat God wil hê dat alle mense gered word: 1 Tm 2:4; 2 Pt 3:9.
Die Bybelse getuienis dat Christus inderdaad vir alle mense gesterf het, is oorweldigend. God se heilsplan wat daar was van voor die grondlegging van die wêreld af bestaan, sluit alle mense in. Daarom kan alle mense deel in die verlossing in Hom, want God wil hê dat alle mense gered word. Alle mense verkry egter nie outomaties die ewige lewe nie en deel nie in die lewendmakende krag van sy dood en opstanding nie, want almal kom nie tot geloof in Christus nie, en nie almal word gelykvormig aan sy dood en opstanding nie (Rm 6:5).
Belangrike Skrifgedeeltes
Jos 24:15; 1 Kon 18:21
Die volk moet self kies wie hulle wil dien: Die Here of die Baäl-afgode, want God is ‘n jaloerse God (Jos 24:19).
Jh 1:12
Aan almal wat Jesus aanneem (lambanw),gee God die mag om kinders van Hom te word. As iemand Jesus Christus aangeneem, skenk God aan hom die wedergeboorte. God maak hom ‘n nuwe mens. Die aanneming moet geskei word van die wedergeboorte. Die aanneming het te doen met die menslike keuse van geloof, terwyl die wedergeboorte te doen het met die hartsveranderende werk van God wat Hy doen op grond van die geloof.
Rm 5:2
Die geloof is die toegang tot die genade waarin ons staan. Dit is die manier wat God uitgekies het in sy voorneme waardeur die mens deel raak van God se heilsplan. As die mens glo, raak hy deel van die genade van God in Christus Jesus.
Rm 10:12-13
Die Here is ryk oor elkeen wat sy naam aanroep, want elkeen wat die naam van die Here aanroep sal gered word. Die redding van die mens kan nie losgemaak word van ‘n bewuste besluit en belydenis om Jesus as die Here van jou lewe te aanvaar nie.
1 Tm 4:10
God is ‘n behouer van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
NKJV: God is the Savior of all men, especially of those who believe.
Dus, die redding is vir alle mense, maar die wat glo, kry deel aan die verlossende genade in Christus. Ongelowiges deel ook in God se genade (deur die skepping en sy voorsiening deur die natuur), maar nie aan die genade in Christus nie, omdat hulle nie glo nie.
Heb 11:6
Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag, want hy wat tot God gaan moet glo. God se oordeel bring ook die mens se dade binne rekening (Mt 16:27; Jh 8:39; 1 Kor 3:12-15; 2 Kor 5:10; 1 Pet 1:17; Op 22:12), nie as beslissende of finale kriterium vir redding nie, maar as vrug van geloof, anders is geloof dood (Jk 2:20). God se oordeel behels meer as net dat iemand hemel toe of hel toe gaan. Dit het ook te doen met loon wat toegereken gaan word op grond van werke. Die Bybel brei egter nie uit oor hierdie dimensie van God se oordeel nie.
Groete, Philip
Joh 8:32 "And you shall know the truth, and the truth shall make you free."
Bookmarks