Beginsels van eksegese - Lesing 2
In die vorige lesing is verduidelik dat ons nie net kennis aangaan die God van die Bybel kan opdoen deur middel van natuurlike tegnieke van eksegese nie, maar dat ons ook geestlike, metafisiese kennis van God kan opdoen deur middel van ons geestelike sintuie en ons persoonlike verhouding met God. Hierdie twee aspekte staan in wisselwerking met mekaar.
Taalteorie
Eksegetiese tegnieke kan nooit onstnap van die medium van taal nie, want ons werk eerstens met die Bybelse teks wat in taal gegiet is, en ons verwoord ons interpretasie van die teks in taal. Wat is taal? Taal is simbole of tekens wat ons toeken aan dinge wat ons as ‘n realiteit ervaar. In terme van die konkrete wêreld is taal ‘n betreklik akkurate instrument waarmee ons fisiese objekte kan beskryf en verklaar (bv. stoel, tafel, pad, berg). In terme van meer abstrakte begrippe is taal ‘n minder akkurate aanduider en meer van ‘n rigtingwyser. Mense se persepsie en verstaan van dinge soos bv. liefde, selfsug, genoegsaamheid of blydskap verskil. Dit raak nog meer vaag wanneer eienskappe of emosies van God in die Bybel beskryf word (bv. God het berou, Jesus het mense innig jammer gekry, God swyg in sy liefde). Hierdie konsepte is dikwels moeilik om te vertaal, en die betekenis daarvan is nie altyd glashelder nie. Die Bybel verklaar nie God se karakter op ‘n teologies gedistilleerde wyse nie. Gelowiges het oor die eeue heen probeer om taalsimbole te skep wat poog om God se karakter te beskryf, bv. drie-eenheid, almag, alomteenwoordigheid, alwetendheid, oormag, ens. Dit is belangrik om te besef dat geen menslike taal die wese van God volledig kan beskryf of omvang nie. Taalsimbole is nooit ‘n volledige lewensgetroue weergawe van dit waarna dit verwys nie, veral in terme van abstrakte begrippe, maar is slegs analoog tot die werklikheid waarop dit dui.
Dit geld natuurlik ook van die taal waarin die Bybel geskryf is.
Kulturele verwysingsraamwerk en simboliese universum
Enige taal bevat karaktertrekke wat eie is aan die kulturele verwysingsraamwerk van daardie taal. Mens moet iets verstaan van die Suid-Afrikaanse kultuur om woorde soos “braai,” “boerewors” of “biltong” te verstaan. Hierdie konsepte sou nie regmatig in bv. Chinees vertaal kon word nie. Buiten dat die Chinese waarskynlik nie ekwivalente woorde in hulle taal vir “braai,” “boerewors” of “biltong” het nie, het hulle ook nie ‘n kulturele verwysingsraamwerk waarin hierdie begrippe na regte verduidelik kan word nie.
Die simboliese universum van ‘n kultuurgroep, verwys na die somtotaal van taalsimbole en kulturele simbole wat hulle gebruik om hulle ervaringswêreld mee te beskryf. Dit spreek vanself dat die simboliese universum van tradisionele Aboriginese verskil van dié van ‘n Amerikaner wat in New York woon. Buiten dat hulle taal verskil, gaan hulle dieselfde konsepte op verskillende maniere verstaan en beskryf. Daar bestaan dus ‘n bepaalde diskontinuïteit tussen die Aboriginese en Amerikaans-Westerse kultuur.
Dieselfde diskontinuïteit bestaan ook tot ‘n mindere of meerdere mate in die manier hoe ons sin maak van die taal van die Bybel.
Die beperktheid van taal
As gevolg van die genoemde faktore is dit belangrik om te besef dat taal steeds ‘n gebroke, menslike instrument bly waaraan betekenis aan God en sy handelinge in die geskiedenis gegee word. Dit is nie volmaakte boksies waarin ons God en die geestelike realm kan inforseer nie. Dieselfde is natuurlik waar van die taal van die Bybel. Dit bly simbole wat analoog is tot die werklikheid waarop dit dui.
Semantiek, konteks en co-teks
Semantiek is “betekenisleer.” Dit dui op die manier hoe ons betekenis heg aan woorde en konsepte, en veral ook hoe ons betekenis heg aan ‘n teks. Een van die belangrike beginsels in semantiek is naamlik: “woorde het nie betekenisse nie, maar betekenisse het woorde.” Wanneer ‘n skrywer ‘n stuk teks skryf, het hy gewoonlik ‘n spesifieke gedagtelyn wat hy wil tuisbring. Hy gebruik woorde om daardie gedagtelyn aan sy lesers te verduidelik. Woorde se betekenisse word primêr bepaal deur die konteks en die co-teks waarin dit geskryf is. “Konteks” verwys na die simboliese universum, asook die omstandighede waarin die skrywer verkeer - dit verwys na die faktore wat ‘n invloed uitoefen op sy situasie. Dit behels ook dat mens kyk na die omliggende tale en kulture waarin die skrywer homself bevind. Die “co-teks” verwys na die res van die geskrewe teks. Baie verwys hierna verkeerdelik as die “konteks.” Dit co-teks is die omliggende grammatika en / of die omliggende tema’s, begrippe en gedagtelyn van die res van die teks.
Louw en Nida [1988] het ‘n Griekse woordeboek saamgestel wat gebaseer is op semaniese domeine. Eerder as wat dit betekenisse aan spesifiekse woorde heg, kategoriseer dit woorde aan die hand van velde en sub-velde van betekenis. Dieselfde woord kom dan dikwels voor in verskillende semantiese domeine. Natuurlik moet mens bedag wees op die interpretasies van die saamstellers van hierdie woordeboek, maar in baie opsigte is die aanwenging van hierdie tipe woordeboek meer sinvol.
Lexicons en “illegitimate totality transfer”
Lexicons (verklarende woordeboeke vir die grondtale) soos Strongs, Brown-Driver-Briggs of Thayer kan gevaarlik wees om betekenis aan ‘n woord binne ‘n bepaalde teks te heg. Lexicons gee gewoonlik al die moontlike betekenisse van ‘n woord wat dit binne ‘n bepaalde konteks of co-teks kan hê. Dit is hoogs onwaarskynlik dat ‘n skrywer al die moontlike betekenisse van ‘n woord in gedagte het wanneer hy dit in ‘n stuk teks gebruik. Gewoonlik het hy net een betekenis in gedagte.
Wanneer al die moontlike betekenisse van ‘n woord na die teks gebring word, soos wat die Amplified Bible neig om te doen, dan word dit “illegitimate totality transfer” genoem. Dikwels maak predikers as’t ware lang preke vanuit lexicons in plaas daarvan om eksegese te doen, en preek oor ‘n spesifieke betekenis van ‘n woord wat sy teologie pas, of hy preek oor al die moontlike betekenisse van ‘n woord.
Die beste manier om die betekenis van ‘n woord te bepaal is om die konteks en co-teks in berekening te bring, en te kyk watter grense dit trek met betrekking tot daardie woord se betekenis. Wanneer woorde bv. in bepaalde sinskonstruksies, grammatikale konstruksies of bepaalde idiome gebruik word, stel dit nouer grense aan die moontlike betekenis van daardie woord. Wanneer woorde in lexicons opgesoek word, kan al hierdie faktore nie altyd in ag geneem word nie.
Etimologie van woorde
Die etimologie van ‘n woord verwys na sy herkoms. Dit verwys na die grondvorm of grondvorms waavan die woord afgelei is. Etimologie kan misleidend wees, want die betekenis van ‘n woord in ‘n teks kan nie altyd teruggeherlei word na sy etimologie nie. Die klassieke voorbeeld is die Griekse woord hamartia (αμαρτια), wat die Nuwe Testamentiese woord is vir “sonde.” Etimologies kan dit herlei word daarna om ‘n teiken “mis te skiet.” Predikante is lief daarvoor om dan preke te maak oor dat sonde eintlik is “om jou doel te mis.” Wanneer mense woorde gebruik, het hulle nie die etimologie van daardie woord in gedagte nie, maar wend dit aan binne ‘n bepaalde konteks wat ooreenstem met hulle simboliese universum. Die regte manier is om sonde te definiëer aan die hand van die konteks en co-teks van die Bybelse teks (soos vroeër gedefiniëer). Dit gebeur dikwels dat skrywers nuwe inhoud aan woorde gee, en dit kan mens slegs bepaal deur die gedagtelyn van die skrywer te probeer bepaal.
Etimologie is wel waardevol wanneer unieke woorde in die teks gebruik word, wat nie in ander tekste teruggevind kan word nie, of wanneer die skrywer nuwe woorde skep.
Samevatting
Taalteorie en semantiek leer dat:
1) taal is net simbole van die weklikheid wat dit aandui en nie die werklikheid self nie.
2) taal is ‘n gebroke, menslike tekensisteem wat analoog is tot dit wat dit aandui.
3) abstrakte begrippe en God se karaktereinskappe kan nie volledig in woorde saamgevat word nie.
4) hierdie beperkinge van taal geld ook vir die teks van die Bybel.
5) “woorde het nie betekenis nie, maar betekenisse het woorde.”
5) die betekenis van woorde word bepaal deur die konteks (wat te doen het met die simboliese universum van die skrywer) en die co-teks (omliggende teks) waarin daardie woord gebruik word, en nie primêr deur sy etimologie nie.
6) omdat ‘n skrywer gewoonlik een betekenis van ‘n woord in gedagte het as hy dit gebruik, moet mens lexicons (wat al die moontlike betekenisse van ‘n woord aandui) met omsigtigheid gebruik.
Verwysings
Louw, JP, Nida, EA 1988. Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantic Domains. New York: United Bible Societies.
Joh 8:32 "And you shall know the truth, and the truth shall make you free."
Bookmarks