Fila
Ek kan nie help nie maar ek hou van jou vrae. Dit getuig van baie goeie agtergrondskennis van die hele situasie.
Jy is so reg. 'n Baie groot probleem in die verstaan van die Nuwe Testament is dit wat jy hier noem. Baie ouens aanvaar dit vanselfsprekend dat die nuwe verbond "uit huis uit" oop is vir al die nasies. Dit is by verre nie die geval nie. Eerstens moet ons daarop let dat die voorspelling van die nuwe verbond in Jeremia net vir Israel gegee is. Jer. 31:31 sê: "Daar kom dae , spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit" Geen twyfel kan daaroor bestaan nie. Die Nuwe verbond is vir Israel.
Let op dat Jesaja, Jeremia en Esegiël deel van hulle beloftes van die nuwe verbond spesifieke voorspellings gee oor die stad wat sal herbou word, Jode wat uit die verre Noorde (Rusland) sal terugkeer na Palestina, en ander beloftes wat nie op enige manier, nie eers in "vergeestelikte vorm" deur die kerk in ontvangs geneem kan word nie. Ek verskil dus radikaal met diegene wat sê dat die nuwe verbond "uit huis uit" oop was en bedoel is vir al die nasies. So 'n uitspraak is 'n 180 verdraaiing van die Bybel.
Hierdie feit word ook in die Nuwe Testament bevestig. Die Nuwe verbond begin amptelik by die opstanding van Jesus (die Nagmaal lui die nuwe verbond is en word so ook bevestig in Hebr. 12:24) en dit word nog 'n stap verder geneem by Pinkster. Van die nasies is hier egter nog geen sprake nie. Alles is eksklusief Joods. Die Nuwe verbond is dus ingestel presies soos wat dit geprofeteer is - as 'n geskenk vir Israel. Let egter op dan nie al die fisiese bykomstige elemente van die nuwe verbond wat die profete van praat, daar en dan by die begin van die nuwe verbond realiseer het nie. Hulle is nie dadelik van hulle vyande verlos nie en die koninkryk is nie dadelik vir hulle ingestel nie. MAAR DIE GELOWIGE JODE VAN DAARDIE DAG WAS BAIE BESLIS BEWUS DAARVAN DAT DIE NUWE VERBOND BEGIN HET EN HULLE HET MET GOEIE REG VERWAG DAT DIE ANDER ELEMENTE VAN DIE NUWE VERBOND SPOEDIG OOK SOU REALISEER.
Maar het dit? Nee dit het nie. Het die profete hulle dan misgis? Nee, hulle het nie. Die fisiese aspekte van die verbond sou gekom het as Israel hulle bekeer het. Lees Hand. 3:19-22 in die verband aandagtig. In plaas van bekeer, reageer Israel met die moord op Stefanus. (Let op dat Stefanus nie die eerste Christen-martelaar was soos ons almal in ons katkisasie geleer het nie). Stefanus was 'n Messiaanse nuwe verbond Jood en dit is nog iets anders as 'n Christen (die kruisevangelie was nog nie bekend nie). Met die moord op Stefanus het die maat van Israel se sonde vol geword. Hulle het die sonde teen die Vader (in die OT reeds het hulle die God van die verbond verlaat en sy profete doodgemaak), die Seun (tydens die hoë besoek van Jesus Christus aan sy eiendom, het hulle Hom verwerp en laat kruisig) en die Heilige Gees gepleeg (die getuienis van die Heilige Gees het vir oulaas na Pinksterdag uitgegaan om Israel te probeer oortuig. Dit is bevestig met baie kragtige dade voor die volk, maar hulle vermoor Stefanus).
Wat sê Stefanus vir hulle net voor hy sterf? Let mooi op na die woorde. Dit is woorde wat vir Israel bedoel was: "Julle hardnekkige en onbesnedenes van hart en van ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle." Lees self verder van Hand. 7:51 af. En baie belangrik, lees ook die laaste woorde van Hand. 7:58 en die eerste woorde van Hand. 8:1. Ja, hier lees ons die eerste keer van Saulus (Paulus). Die slag is gelewer. Israel het aan die einde van Hand. 7 sy besluit geneem. Hulle gaan nie bekeer nie. Die nuwe verbond (vir Israel) het begin, maar gaan nie nou (vir Israel) verder geneem word nie. Maar wat dan nou? Wat gaan in die plek daarvan kom?
Wel, vir ons wat die res van die verhaal reeds ken, word hier 'n baie betekenisvolle "clue" gegee in Hand. 7:58 en 8:1. Die res van die verhaal sal gebou word rondom die naam Saulus (Paulus).
Paulus is God se antwoord op Israel se finale verwerping van die nuwe verbond. In Korinthiërs en Hebreërs veral kom Paulus nou vir ons die nuwe verbond herinterpreteer en oopbreek soos dit nou in die bediening aan al die nasies van die wêreld van toepassing sal wees. Die verhaal in Handelinge bevestig dus baie duidelik die beginsel wat Paulus in Rom. 11 uitspel. Eers toe Israel tot 'n val gekom het, is die evangelie na die heidennasies uitgeneem.
Jy vra: Wanneer is die nuwe verbond uitgebrei om die heidene in te sluit? Die antwoord: Toe Israel die sonde teen die Heilige Gees gepleeg het (Hebr. 6:4-6 wat ook deur Paulus gesê is. Hier is mos êrens 'n draad met die naam Hebr. 6:4-6. Wel, hierdie plasing is ook sommer my antwoord op daardie draad.) en Saulus van Tarsus daarna geroep is om die evangelie van die genade van God na al die nasies uit te dra.




Reply With Quote
Bookmarks