Ons almal het op dieselfde manier “ontstaan” as te ware : ’n selletjie van jou pa, en ’n selletjie van jou ma ontmoet mekaar, interweef met mekaar, en word een nuwe sel. Hierdie sel bevat die helfte van pa, en die helfte van ma se kromosone, en ’n splinternuwe, absoluut unieke DNA string begin om die res van jou te kodeer.
Het jy ’n keuse gehad in hierdie proses ? Kon jy self besluit of jy wil gebore word, en of jy minder of meer soos jou ouers wil wees ?
In Psalm 139 staan daar :
Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.
My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Die KJV sê dit eintlik nog mooier :
I will praise thee; for I am fearfully and wonderfully made: marvellous are thy works; and that my soul knoweth right well.
Ons is inderdaad almal wonderwerke : wonderlike werke van God. Die Lewende God wat, nog voor die skepping, reeds alles bepaal het, en ons vleeslike liggame in ons mamma se skoot gevorm het.
Die vraag is dus : Indien ons as individue geen keuses gehad het met ons vleeslike geboorte nie, en dat ons weliswaar elkeen ’n Goddelike skepping is, hoekom sal ons geestelike geboorte anders wees ?
Christus sê aan Nikodemus :
.... Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. (Joh 3)
en later in dieselfde hoofstuk :
Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.
Paulus skryf in Romeine :
Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. (Rom. 8 : 29,30)
Wat ’n wonderlike gedagte is dit nie hierdie nie ! Net soos ons vleeslik gelykvormig is aan die beeld van ons ouers as gevolg van ons vleeslike DNA, is ons vooraf bestem om geestelik gelykvormig te wees aan Christus, as gevolg van ons “geestelike DNA” .
Net soos ons nie ’n keuse het om ons ouers se gene te besit, en gebore te word nie, het ons ook nie ’n keuse om ons Geestelike Vader se geestelike DNA te besit, en geestelik gebore te word nie.
Ek gebruik natuurlik die idee van geestelike DNA figuurlik, maar die punt staan : Die Soewereine God het besluit jy word weer gebore, as ’n Kind van Hom. Ons het, net soos met ons vleeslike geboorte, nie ’n keuse of ’n sê hierin nie. ’n Ander alternatief is niks anders as die verkondiging van ’n goedkoper genade nie, waar jy as nietige mens die Hand van God elke keer kan laat oorspeel, waar mens beweer dat die verordinge van God geveto kan word deur die wil van Sy skepsels.




Reply With Quote
Bookmarks