Your Advert here
cure-real
Page 1 of 2 12 LastLast
Results 1 to 15 of 18

Thread: Gasa: Vyandskap Teen Israel Eskaleer Vinnig

  1. #1
    Join Date
    Oct 2007
    Location
    Newcastle, KwaZulu-Natal, South Africa
    Posts
    1,146

    Gasa: Vyandskap Teen Israel Eskaleer Vinnig

    Gasa: Vyandskap Teen Israel Eskaleer Vinnig

    Prof. Johan Malan, Middelburg (6 Januarie 2009)

    Die oorlog tussen Israel en die Hamas-terroristegroep in Gasa is maar net een van verskeie fronte van ‘n veel groter stryd tussen twee godsdienste, naamlik Judaïsme en Islam. Daar is egter groot verdeeldheid onder Israel se vyande oor watter strategie teen hulle gevolg moet word. Verskeie gematigde lande en groepe erken Israel se bestaan en soek ‘n politieke oplossing vir vreedsame naasbestaan met hulle. Nogtans oefen hulle groot druk op Israel uit om nog meer van sy grondgebiede aan die Palestyne af te staan en ook om Jerusalem te verdeel.

    Dan is daar die radikale lande, asook verskeie terroristegroepe, wat glad nie Israel se bestaansreg erken nie en hulleself tot die algehele uitwissing van Israel verbind het. Vir hulle is daar net een metode om hierdie doel te bereik, en dit is ‘n heilige oorlog, of jihad. Onder hierdie radikaliste is daar Iran, wat nie ‘n Arabiese nie maar wel ‘n Moslemland is; Sirië; die Hizboellah terroriste in Libanon; Hamas en die Islamitiese Jihad in die Palestynse gebiede; asook Al Qaeda wat internasionaal teen Israel, Amerika en hulle bondgenote optree. Hamas erken glad nie die bestaan van die Joodse staat nie en weier om diplomatieke bande met hulle aan te knoop. Hulle het net een doel voor oë en dit is om Israel op alle moontlike maniere te beveg en te ondermyn.

    Hamas se noue bande met Hizboellah, Sirië en Iran, bring mee dat hierdie eendersdenkende bondgenote maklik tot Hamas se hulp kan kom. Hulle doen dit reeds deur wapens en militêre opleiding aan Hamas se weermag van 15 000 lede te verskaf. Hulle kan hierdie hulp natuurlik uitbrei deur self militêre aanvalle op Israel te doen. Iran se geestelike leier, Khamenei, het ‘n oproep op alle Moslems gedoen om Hamas te help en ook selfmoord-bomaanvalle op Israeli’s te doen. Hy het aan Moslems wat in die proses sterf, al die voordele en loon vir martelaarskap in die hemel belowe, en probeer om 10 000 van hierdie massamoordenaars te werf.

    Die idee van martelaarskap is baie sterk in die Hamas-beweging aanwesig. Hulle begeer die dood met dieselfde intensiteit as wat die Israeli’s begeer om te lewe. Hulle leef net vir Israel se ondergang en hoop dat hulle die eer sal hê om as martelaars in die stryd te sterf. Dit is waarom hulle Israel al jare lank deur vuurpylaanvalle tart en uitlok om ‘n oorlog teen hulle te verklaar. Sedert Junie 2007 toe Hamas in ‘n staatsgreep volle beheer oor Gaza oorgeneem en Fatah-amptenare van Mahmoud Abbas verdryf het, het hulle die vuurpylaanvalle op nabygeleë dorpe en stede in die suide van Israel aansienlik verskerp. Daar was tye toe hulle tot 600 vuurpyle per week afgevuur het.

    Hamas het intussen kragtiger vuurpyle van Sirië en Iran af gekry en dit deur tonnels van Egipte se kant af ingesmokkel. Hulle kan nou ook groot dorpe soos Askelon, Asdod en Bersheeva tref. Asdod met sy hawe is die vyfde grootste stad in Israel. Bersheeva is die sesde grootste stad en beskik ook oor ‘n universiteit. Die vrees bestaan dat Hamas nog groter vuurpyle en missiele kan bekom waardeur hulle ook Tel-Aviv en Jerusalem kan tref as hulle nie betyds gekeer word nie.

    Uit Israel se oogpunt is die skrikwekkende scenario dat sy vyande al hoe meer word en hulle wapentuig al hoe dodeliker. Hamas beoog om die hele suide van Israel uit Gasa met vuurpyle en missiele te bestook. Hizboellah in Suid-Libanon het hulleself herbewapen nadat hulle in 2006 in ‘n oorlog teen Israel betrokke was. Hulle is nou in staat om die hele noorde van Israel onder die bomme te steek. Dan is daar Sirië wat sy weermag aansienlik deur moderne Russiese wapentuig uitgebrei het. Hulle is ook ‘n groot bedreiging vir Israel uit die noorde.

    Die grootste bedreiging kom egter uit Iran in die noord-ooste. Hierdie fundamentalistiese Moslemland is besig om kernwapens te ontwikkel en sal dalk reeds hierdie jaar kernplofkoppe vir langafstand-missiele kan vervaardig. Iran weet dat Israel dit oorweeg om hulle kernaanlegte te bombardeer, en daar word vermoed dat hulle agter die eskalasie van vyandelikhede uit Gasa sit sodat Israel se aandag van Iran afgetrek kan word. Die net word al hoe nouer om Israel getrek, en sy vyande beoog om dié land van alle kante af aan te val.

    Daar is ‘n ander faktor wat sekerlik ook die huidige konflik beïnvloed, en dit is die rol van Amerika as Israel se bondgenoot. Israel kon nie wag totdat Barack Obama die leisels in Amerika oorneem nie, omdat hulle nie van sy volle ondersteuning seker kan wees nie. Trouens, dit is ‘n uitgemaakte saak dat hy Israel nie ongekwalifiseerd sal steun nie.

    Oral in die Moslemwêreld is daar groot afwagting op Obama se inhuldiging as president van die magtigste land ter wêreld. Daar word aanvaar dat hy ‘n Moslem is omdat sy pa ‘n Moslem was. Hulle hoop dat hy vir Israel sal veronagsaam en sodoende sal help om die Joodse staat aan die magte van Islam uit te lewer. Obama het hom egter tot die Christendom bekeer, maar dit is duidelik dat hy sterk multigodsdienstige idees koester. Niemand weet wat hy gaan doen nie, want tot dusver was hy doodstil oor die konflik in Israel. In elk geval het hy genoeg probleme in Amerika waarmee hy hom moet bemoei.

    Indien Obama nie aan die verwagtings van die radikale Moslems sal voldoen nie, sal dit hulle in die arms van Rusland dryf, wat ook ‘n groot moondheid met sterk belange in die Midde-Ooste is. Rusland werk reeds op tegnologiese en verdedigingsgebied ten nouste met Iran en Sirië saam, en dit mag wees dat hy selfs bereid sal wees om militêr saam met hierdie lande teen Israel op te tree. Wanneer dit gebeur, kan ons die groot oorlog van Esegiël 38-39 te wagte wees.

    Dit is duidelik dat die hele wêreldmening besig is om teen Israel te draai. Hamas word nie oor hulle aanhoudende vuurpylaanvalle geblameer nie, maar Israel word ten sterkste veroordeel vir wat die oormatige gebruik van geweld genoem word. In ‘n denkklimaat soos dié sal die wêreld eenkant toe kyk wanneer Israel se vyande onder die leiding van Rusland probeer om die Joodse staat totaal te verdelg.

    Dit is duidelik dat ons hier met veel meer te doen het as net ‘n interne konflik tussen die Palestyne en Israel. Wat in Gasa gebeur, is een van die brandpunte wat na die groot eindtydse stryd tussen Israel en sy vyandige buurstate kan lei, soos in die Bybel beskryf word. Selfs al word daar ook ‘n vredesooreenkoms in Gasa bereik, sal Hamas en hulle ewe radikale bondgenote nie van siening oor Israel verander nie. Hulle sal die staking van vyandelikhede gebruik om net nog meer tonnels te grawe en dodeliker wapens in te smokkel vir ‘n toekomstige hervatting van die oorlog teen Israel.

    Die huidige oorloë en gerugte van oorloë bou alles op na ‘n punt wanneer die Antichris as ‘n valse vredevors op die toneel sal verskyn, en die weg sal baan vir die uitbreek van die grootste oorlog van alle tye in die Midde-Ooste, naamlik die slag van Armageddon. Die Here sê: “Ek sal alle nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sag. 14:2). Hier sal Hy volgens Joël 3:2 met die nasies in die gerig tree omdat hulle Israel so kwaadwillig aangeval, verstrooi en probeer verdelg het.
    Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan, en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 14:12).

    Dit sal Hamas niks help om te voorspel dat Gasa ‘n begraafplaas vir Israel se soldate sal word nie. Dit sal nie gebeur nie. Wat wél sal gebeur, is dat daar ‘n reuse begraafplaas vir Israel se vyande sal wees nadat die groot oorlog van Esegiël 38-39 verby is. Esegiël sê: “En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank” (Eseg. 39:12).
    As ons na die groter prentjie kyk wat in die Midde-Ooste ontplooi, dan hou dit slegte nuus vir Israel se vyande in. Israel self sal ook nie skotvry kom nie. Hulle sal in die tyd van benoudheid vir Jakob kom omdat hulle steeds nie met hulle Messias versoen is wat 2000 jaar gelede al gekom het nie (Jer. 30:7; Sag. 13:8-9). Vrede sal eers vir hulle aanbreek wanneer hulle as ‘n volk sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en “bitterlik oor Hom ween” (Sag. 12:10). Hy is die enigste ware Vredevors wat blywende vrede vir Israel én die hele wêreld sal bring.

    Bid om die vrede van Jerusalem

    Hoe moet ons as Christene vir die baie ernstige situasie in die Midde-Ooste bid? Ons moet die hele raadsplan van God vir Israel én hulle buurnasies in ag neem en in ooreenstemming met God se wil vir almal van hulle bid. Niemand mag by ons gebede uitgesluit word nie – selfs nie die ergste vyande van Israel nie. Die redding van siele moet altyd voorrang in ons gebede geniet, gevolg deur versoeke vir vrede en materiële seën.
    Die basiese opdrag is: “Bid om die vrede van Jerusalem” (Ps. 122:6). Ons moet begryp dat Israel as ‘n Messiaanse volk deur die Here geroep is sodat die Messias of Verlosser van Israel én die nasies in hierdie volk gebore kon word. Sy eerste taak sou wees om die geestelik verblinde afstammelinge van Jakob na die Here terug te bring. Met Jerusalem en Israel as vertrekpunt sou Hy deur sy dissipels sy reddende genade aan alle nasies op aarde bekend maak (Hand. 1:8; Luk. 24:46-49). God het van sy Seun gesê:
    Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Dit is dus God se wil dat daar ná die koms van sy Seun Messiaanse gemeentes in Israel gevestig sou word, sodat die afstammelinge van Jakob se twaalf stamme van hulle dwaalweë af na Hom toe teruggelei kon word.

    Die vroeë Christelike kerk het inderdaad in en om Jerusalem begin, en die eerste 5 000 lede daarvan was geredde Jode. Hoewel daar baie teëstand teen Jesus se Messiasskap was, het selfs baie van die rabbi’s en priesters Hom as Verlosser aanvaar: “En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue... En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof” (Hand. 5:14; 6:7). Hulle was egter nog steeds ‘n minderheid in vergeleke met die res van die volk wat vir Jesus as Messias verwerp het, daarom het groot vyandigheid en vervolging teenoor hulle voortgeduur.

    In die lig hiervan moet die heel eerste saak op ons gebedslys vir die Midde-Ooste die redding van Jode wees. Die geestelike nood onder hulle is vandag nog selfs groter as in die tyd van die Messias se aardse bediening byna 2000 jaar gelede. Die antagonisme teenoor Messiaanse Jode duur onverpoos voort onder die leiding van ortodokse volksgenote wat steeds fanaties teen Jesus se Messiasskap gekant is.

    Dit is opvallend dat wanneer daar groot benoudheid oor Israel kom, bv. tydens hulle militêre veldtog in Gasa, ortodokse Jode ‘n sterk oplewing in hulle Messiaanse verwagting ervaar. Hulle bid dat die Messias tot hulle redding sal kom en sy beloofde vrederyk op aarde sal kom instel met Jerusalem as hoofstad. Hulle sê dat die Messias volgens Sagaria 14 in ‘n tyd van groot oorloë teen Israel sy opwagting sal maak en die vyande van Jerusalem sal verdelg.

    Ons moet bid dat Israel se oë sal oopgaan om te besef dat Sagaria ook vir hulle goeie profetiese aanduidings gegee het oor wie hulle Messias sou wees. Hy sê: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin” (Sag. 9:9). Hierdie Koning sou dus nie aanvanklik in mag en majesteit kom nie, maar as ‘n nederige Dienskneg van die Here wat Jerusalem op ‘n donkie sou binnery. Dit is presies wat Jesus gedoen het, soos in Mattheus 21:1-11 beskryf.

    Die meerderheid Jode het Hom nie as hulle beloofde Messias-Koning erken nie, en Hom uiteindelik oorgelewer om gekruisig te word. Hoe kan ortodokse Jode die baie opsigtelike feit miskyk dat dit dieselfde Jesus is wat deur hulle vaders verwerp en gekruisig is, wat weer sal kom om die oorblyfsel van Israel te red? Sagaria sê tog duidelik dat hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en dat hulle in diepe berou voor Hom sal neerbuig (Sag. 12:10). Dit is die lewensbelangrike boodskap wat ortodokse Jode vandag nog steeds moet hoor: Jesus is die Messias van Israel en die nasies, en Hy kom spoedig weer terug wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal sit wat oos van Jerusalem is (Sag. 14:4-5). As u nie self hierdie boodskap van redding aan Israel kan verkondig nie, bid vir die sendelinge en evangeliste wat dit wél doen. Vertrou die Here vir ‘n groot geestelike ontwaking onder hierdie volk van Hom.

    Die Seun van God wat in Israel gebore is, is nie bestem om net die Verlosser van Israel en die wêreld te wees nie, maar ook die Koning wat van die troon van Dawid af sal regeer. Jesaja het gesê: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid” (Jes. 9:5-6). Ons moet besef dat die Messias van Israel nie net ‘n menslike profeet is nie, maar God die Seun. Moet dus nie net van Hom as Jesus praat nie, maar as die Here Jesus. Wanneer Sagaria oor sy wederkoms praat, sê hy: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:5). Erken sy verhewe posisie en aanbid Hom as Here en God.

    Ons moet in hierdie tyd steeds die feit beklemtoon dat Jesus Christus vir die redding van alle mense gekom het – dit sluit ook die mees gehate vyande van Israel in. Bid dus ook vir die redding van die Palestyne en ander Moslemvolke wat deur die duiwel verblind is om in ‘n leuen te glo. Ondersteun ook sendingwerk onder hulle. Jesaja het gesê dat hulle in die komende vrederyk ook Christenvolke sal wees. In dié tyd, wanneer die kennis van die Here die aarde sal oordek soos die waters die seebodem, sal Hy sê: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:25; vgl. Jes. 11:9).

    Wanneer ons vir die redding van alle mense bid, moet ons ook vir die vervulling van die Here se einddoel met Israel en die nasies bid. Ons moet dus ook vir sy wederkoms bid, wanneer Hy ‘n regering van geregtigheid op aarde sal vestig. Hierdie regering sal in aardse Jerusalem gevestig word, en al die nasies sal in die lig daarvan wandel. Die Here roep almal van ons op om vir die vervulling van hierdie wonderlike beloftes te bid: “O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jes. 62:6-7).

    Wanneer hierdie beloftes vervul is, sal daar waarlik vrede op aarde wees: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Die Woord van die Here sal uit Jerusalem uitgaan en die nasies sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse. Oorlogvoering sal totaal verdwyn en almal sal in vrede en harmonie leef (Jes. 2:2-4).

    Wanneer ons dus vir die vrede van Jerusalem bid, dan bid ons vir die Messias se wederkoms en die vestiging van sy vrederyk op aarde. Terwyl Hy nog deur die meerderheid as Messias en Koning verwerp word, kan daar nie regtig vrede in Jerusalem wees nie. Trouens, ‘n situasie soos dié berei die weg vir die koms van die valse messias voor. Dit is die bitter alternatief wat mense oor hulleself bring wanneer hulle die ware Messias verwerp. Jesus het gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

    Die valse messias sal nie blywende vrede bring nie, alhoewel hy dit aanvanklik aan alle nasies sal belowe. Die ontnugtering vir sy volgelinge sal egter groot wees: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:3). Onder sy bewind sal die herboude tempel in Jerusalem ontheilig word wanneer die Antichris homself daarin tot God sal verklaar (2 Thess. 2:4). Daarna, in die tweede helfte van die verdrukking, sal die toneel vir die groot wêreldoorlog van Armageddon in gereedheid gebring word.

    Ons moet ernstig bid dat die oë van die Jode én die nasies sal oopgaan vir die werklike geestelike feite waardeur almal van ons gekonfronteer word. Daar is slegs persoonlike én wêreldvrede in Jesus Christus moontlik. Buite Hom wag die oordele van God wat teen alle sondaars uitgespreek is. Die Here Jesus sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24).

    Bid dat mense uit die mag van Satan verlos sal word, sodat hulle die vrede van die lewende God in hulle harte kan ervaar. Ortodokse Jode, Moslems, lede van ander gelowe én ook alle vormgodsdienstige Christene wat nie weergebore is nie, is mislei en moet hulle deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer. Hy alleen kan aan ons lewe en vrede gee.

  2. #2
    Weereens 'n briljante artikel, dankie dat jy dit met ons deel David.
    Dit is absoluut verstommend om te sien hoe vêr hierdie antagonisme teenoor Israel besig is om te strek, alhoewel hulle huidige aksies niks anders as selfbehoud is nie. Ek wonder of die reaksies dieselfde sal wees indien die persone wat nou so negatief oor die Gasa inval is in dieselfde booitjie as Israel moet wees ?
    Dit is een ding om van agter 'n rekenaarskerm of voor 'n tv-kammera jou misnoë teenoor Israel uit te spreek, maar heeltemal iets anders as die volgende vuurpyl wat op jou stad gemik is dalk 'n chemiese of biologiese payload het.

    Die woord "lafaards" steek nogals in my gedagtes vas......

  3. #3
    Join Date
    Oct 2007
    Location
    Newcastle, KwaZulu-Natal, South Africa
    Posts
    1,146
    Fila
    Jy is heeltemal reg. Behalwe die gewone stryd om oorlewing in Israel, wat niemand hulle eintlik kan of mag kritiseer nie, is daar ook die profesie en die wil van God en sy plan met Israel as volk en die beloofde land wat in ag geneem moet word. Volgens die Bybel behoort Palestina aan Israel. Punt. Ek is oortuig dat Israel ver uit hulle pad gegaan het om vrede met sy bure te bevorder. Hulle kon (en moes eintlik by tye) baie strenger opgetree het. Wat maak jy as jou bure direk sê dat jy van die aarde af verdelg moet word? Dit is tog duidelik dat hierdie aanslag teen Israel nie net deur mense nie, maar deur Satan self inspireer word.

    Dit wat nou hier voor ons oë afspeel is niks minder nie as 'n voortgesette wonder van God. Hierdie is die heel grootste teken van die laaste dae en jammer maar waar, bitter min mense is bereid om dit so te verstaan en so direk uit die Bybel uit af te lees.
    Last edited by David2; Jan 7th 2009 at 06:45 AM.

  4. #4
    Hallo Julle,

    Ek het nou hierdie artikel deur Prof. Johan Malan gelees. Op die einde daarvan en ook tydens
    het ek die gevoel gekry dat hy die staat Israel probeer verdedig deur dat hy selektief kies wat hy skryf.

    Daar kan baie bygelas word by die artikel, soos die betrokkenheid van Israel
    se 800 offisiere tydens die Georgiese oorlog tussen Rusland in Suid Ossetia

    'n paar maande gelede. Baie beweer dat Israel se betrokkenheid was sodat
    hulle 'n geografiese posisie kon kry waarvan hulle hulle lug aanval kon loods op Iran.

    Of dat enige bewyse vir die maak van kern wapens deur Iran nog nie deur enige onafhanklike observer gevind is nie.

    Of dat die muur rondom Palestina onwettig verklaar is, maar dat die Israel staat besluit om die hof uitspraak te ignoreer.

    Of dat die VSA 'n internasionale ooreenkoms verbreek het, en daardeur 'n
    oorlog tussen die VSA en Rusland waag, deur een van hul oorlog skepe in
    die Black Sea in te stuur om humanitere voorraad aan Georgie te gee, maar
    dieselfde word nie verleen aan Gaza nie.

    Of dat die mees hooggeplaaste persone in die wereld media, CNN, Fox,
    Hollywood, die Amerikaanse regering en dan nou ook Obama se nuwe
    regterhand man, almal Jode is.

    Of dat die populariteits syfers histories laag is vir die huidige politieke party
    aan bewind in Israel, en dat hierdie oorlog in Gaza hul populartiteits syfer
    baie vinnig baie laat optel, hier kort voor hul volgende verkiesing in die
    begin van hierdie jaar.

    Daar kan baie bygelas word en die leser sal waarskynlik van die een kant na
    die anderkant swaai soos hy of sy die een storie na die ander hoor.
    En op die ou einde, na baie inligting, neem 'n mens seker 'n standpunt in vir
    of teen 'n sekere kant en ondersteun dan die een bo die ander. Maar
    spreek dit van insig?

    Ek sit en wonder hoe Jesus hierop sou reageer. Sou HY enigsins kant gekies
    het? Sou HY enigsins enige vorm van konflik ondersteun het?
    Sou HY enigsins sit en skryf hoekom die opneem van wapens geregverdig is
    in enige situasie?

  5. #5
    Quote Originally Posted by Paul Pienaar View Post
    Hallo Julle,

    Ek het nou hierdie artikel deur Prof. Johan Malan gelees. Op die einde daarvan en ook tydens
    het ek die gevoel gekry dat hy die staat Israel probeer verdedig deur dat hy selektief kies wat hy skryf.
    Het jy die hele artikel gelees ? Ek haal slegs 'n gedeelte aan :

    In die lig hiervan moet die heel eerste saak op ons gebedslys vir die Midde-Ooste die redding van Jode wees. Die geestelike nood onder hulle is vandag nog selfs groter as in die tyd van die Messias se aardse bediening byna 2000 jaar gelede. Die antagonisme teenoor Messiaanse Jode duur onverpoos voort onder die leiding van ortodokse volksgenote wat steeds fanaties teen Jesus se Messiasskap gekant is.
    Hoe strook dit met jou bewerings Paul ?
    Niemand ontken dat Israel nodig het om te bekeer nie. Dit is tog die basis van ons geloof dat sonder Jesus Christus, wat huidiglik deur Israel ontken word as Verlosser, mens bloot nie 'n geredenne is nie.
    Wat die res van jou skrywe betref, het ons so 'n ruk terug 'n gesprek oor selverdediging gehad. Wat is jou gedagtes hieroor ? Dink jy, vanuit 'n Christen perspektief, is jy geregverdig om jouself en jou familie te verdedig ?

  6. #6
    Join Date
    Aug 2007
    Posts
    2,011
    Blog Entries
    6
    Paul

    My eerlike opinie, God sal kant kies in hierdie oorlog en natuurlike sal dit aan die kant wees van Sy volk, soos ons regdeur die Ou Testament kan sien. God is nog nie klaar met Israel nie, nog lank nie, hulle is immers steeds die verbondsvolk.

    Groete
    Phil

  7. #7
    Join Date
    Oct 2007
    Location
    Newcastle, KwaZulu-Natal, South Africa
    Posts
    1,146
    Paul
    Dit gaan nie oor die regverdiging van Israel of om "kant te kies" vir hulle nie. Soos Fila ook sê, Israel is op die oomblik verdwaal en verlore. Ons weet dit almal.

    Dit gaan net oor een vraag: Wat maak jy met die honderde profesieë in die Bybel wat gaan oor die herstel van Israel en die profetiese rol wat hulle in die toekoms moet speel? Augustinus en Origenes het lank voor die tyd van die reformasie al besluit dat al daardie voorspellings bog is en het toe die metode van allegorie uitgevind om die Bybel met teologiese gronde te mag verdraai en verander en iets totaal anders te laat sê. Die reformasie het hierdie metode by die Katolieke oorgeneem en dit verder uitgebou.

    Die vraag is dus nie "aan wie se kant is jy" nie. Die vraag is "wat sê die Bybel" en " glo jy die Bybel" of verdraai jy ook die Bybel deur middel van allegorie. Dit is verseker nie my taak om alles wat Israel doen goed te keur of te sanksioneer nie, maar dit is wel my taak om as Christen die tekens van die tye te lees en te verkondig en te sien hoe die voetstappe van die Here al hoe nader kom.

  8. #8
    Join Date
    Jun 2008
    Location
    South Africa
    Posts
    1,184
    David,
    Jammer, dit het nou niks met die draad te doene nie, maar ek het in Middelburg grootgeword en is nou baie nuuskierig.... is jy familie van Prof Malan?

  9. #9
    David, jy slaan die spyker op die kop.
    Hierdie gesprek behoort veel eerder oor die profetiese gebeure wat besig is om voor ons oë af te speel, op 'n daaglikse basis, te gaan as die regverdiging van Israel. Verskoning van my kant af dat ek die draad skeef getrek het.
    Oorlog kan nooit goed gepraat word nie, al is dit ook hoe "geregverdig" in ons menslike oë. Onskuldige vrouens en kinders word op die oomblik in Gaza as skaakstukke gebruik in bose mense se hande, dien bloot as menslike skilde teen verskriklike wapentuie, maar tog is alles geprofeteer, en ons weet uit hierdie selfde profesië dat ons nog nie die ergste gesien het nie. God se Perfekte Wil is ook perfek soewerein.

  10. #10
    Join Date
    Sep 2002
    Location
    Little Jerusalem, S-Africa
    Posts
    3,484
    Quote Originally Posted by Die Filadelfieer View Post
    David, jy slaan die spyker op die kop.
    Hierdie gesprek behoort veel eerder oor die profetiese gebeure wat besig is om voor ons oë af te speel, op 'n daaglikse basis, te gaan as die regverdiging van Israel. Verskoning van my kant af dat ek die draad skeef getrek het.
    Oorlog kan nooit goed gepraat word nie, al is dit ook hoe "geregverdig" in ons menslike oë. Onskuldige vrouens en kinders word op die oomblik in Gaza as skaakstukke gebruik in bose mense se hande, dien bloot as menslike skilde teen verskriklike wapentuie, maar tog is alles geprofeteer, en ons weet uit hierdie selfde profesië dat ons nog nie die ergste gesien het nie. God se Perfekte Wil is ook perfek soewerein.
    Hi Fila,

    As ek moontlik 'n lansie kan breek vir Paul, dink ek mens moet die anderkant van vleeslike Israel ook kan insien. Dit is bloot dat vleeslike Israel werklik besig is met bose dinge en tog behoed God hulle, bloot omdat Hy nooit Sy beloftes sal terugtrek nie. Ek glo waar baie mense mekaar kan misverstaan oor vleeslike Israel, is die feit dat aan die een kant moet mens die profetiese waarhede kan insien, maar mens kan nooit maar nooit, regverdiging vind vir meeste van die skewe goed waarmee Jode soms mee besig is nie.

    God het geen witbroodjies nie, maar die Here se beloftes is juis daar om Sy onfeilbaarheid te meet. As God so getrou teenoor vleeslike Israel kan wees, hoeveel meer getrou sal Hy dan nie teenoor Sy eiendom wees, wat deur geloof by Hom gekom het nie? Oor hierdie rede, so van die os op die jas, kan ek nie glo dat 'n ware bekeerde kind van die Here, sy of haar geloof kan verloor nie.
    The Lord is our Shepherd
    die Here sal voorsien
    it’s the only method
    glo dit en jy sal sien

    The power of His glory
    is the punch line of this story,
    ek staan verwonderd en tog
    het U alles volmaak besorg


  11. #11
    Join Date
    Oct 2007
    Location
    Bredasdorp district
    Posts
    954
    Wat vir my interessant is , is die feit dat feitlik alle beriggewing daarop gemik is om Israel in n slegte lig te stel . So asof Israel nie homself mag verdedig teen die honderde vuurpyl aanvalle van die bure nie. Ek wonder net wanneer Israel nou kwaad genoeg gaan raak en dalk n kernknoppie kan druk... Die provokasie kan enige land ook net tot op n punt verduur.

  12. #12
    En nou gaan ek 'n bom in hierdie draad gooi:

    Is dit nie dalk moontlik dat Israel wel God se witbroodjie is nie? Dat Christene verplig is om aan Israel se kant te staan al is hulle verkeerd, juis omdat hulle God se uitverkore nasie is? (Ek praat nou nie spesifiek van die oorlog wat op die oomblik gewoed word nie, maar veralgemeen eintlik hier.)

    Wonner maar net ...
    -----------------------------------------------------------------------------------------------------------------

    "for in Him we live and move and have our being."Acts 17:28

    1 Cor. 2:10 "but God has revealed it to us by his Spirit. The Spirit searches all things, even the deep things of God." (NIV).

  13. #13
    Join Date
    Oct 2007
    Location
    Newcastle, KwaZulu-Natal, South Africa
    Posts
    1,146
    Ek dink nie dit is nodig om Israel se foute goed te praat nie. Dit kan ons in elk geval nie doen nie. Hulle heel grootste fout is ongeloof. Hulle verwerp nog steeds vir Jesus Christus. Ook is die meerderheid Jode maar taamlik sekulêr, wêrelds en los van fundamentele OT waardes. Hierdie feite maak die saak egter nog meer wonderlik. As dit van hulle self afgehang het, sou hulle nooit weer in Palestina as volk herstel gewees het nie. Dit het ALLEEN gebeur omdat God dit vas en onveranderbaar in sy Woord beloof het. (Ja, op die punt stem ek saam met Ferdi. Die manier waarop God die volk Israel hanteer ten spyte van hulle ongeloof en onwaardigheid, sê vir my baie oor die manier waarop God enige onwaardige mens op aarde totaal en vir altyd sal verlos as hy in Jesus Christus glo.)

    Dus: Ons praat hulle nie goed nie, maar ons ondersteun hulle wel en ons bid vir hulle. In die konflik tussen Israel en Islam, maak ek nie uitsprake oor die "reg" en die "verkeerd" van enige spesifieke aksie of offensief nie, maar ek hou aan om Israel se Godgegewe reg op die land (die hele land Palestina, insluitende Gaza, die Wesbank, Golan, die hele Jerusalem en nog meer) te handhaaf en te verdedig.

    Protea, jy is reg. Die hele wêreld smeer Israel swart en plaas die blaam vir elke konflik op hulle. Ook die ANC regering het nou weer 'n verklaring uitgereik waarin hulle Israel ten sterkste veroordeel en geen woord rep oor Hamas se voortgesette vuurpylaanvalle, bewapening en selfmoordaanvalle nie. Dit kan ons verwag. Onthou: Israel bestaan met die gesag en die reg van die Bybel agter hulle en Satan haat enige iets wat deur die beskikking van God en op sy bevel tot stand gekom het. Daarom haat die wêreld en die ANC vir Israel en sal hulle hom altyd haat, wat hulle ook al doen.

    Lanie, ja, dit is my broer.

  14. #14
    Hallo,

    Verskoning by voorbaat as ek op tone gaan trap, maar ek verstaan iets nie.

    Hoe word die gebod, om jou naaste lief te he net soos jouself, nie oortree deur 'n persoon se indirekte ondersteuning van Israel nie?

    Indien iemand "Israel" se reg tot grondgebied (Gaza ens.) ondersteun, kom dit huidiglik daarop neer dat oorlog, indirek ondersteun word. En hoe is oorlog nie 'n verbreking van die genoemde verbod nie?

    As ons glo dat Israel/Staat van Israel in die toekoms:
    volgens profesiee,
    verdere grondgebied sal verkry,
    en dat dit deur oorloe verkry sal word,
    en dit volgens GOD se wil sal wees (profesiee van HOM af),
    waar plaas dit die gelowige volgeling van Jesus in terme van
    sy of haar ondersteuning van 'n staat wat duidelik die gebod
    oortree?

  15. #15
    Quote Originally Posted by Paul Pienaar View Post
    Hallo,

    Verskoning by voorbaat as ek op tone gaan trap, maar ek verstaan iets nie.

    Hoe word die gebod, om jou naaste lief te he net soos jouself, nie oortree deur 'n persoon se indirekte ondersteuning van Israel nie?

    Indien iemand "Israel" se reg tot grondgebied (Gaza ens.) ondersteun, kom dit huidiglik daarop neer dat oorlog, indirek ondersteun word. En hoe is oorlog nie 'n verbreking van die genoemde verbod nie?

    As ons glo dat Israel/Staat van Israel in die toekoms:
    volgens profesiee,
    verdere grondgebied sal verkry,
    en dat dit deur oorloe verkry sal word,
    en dit volgens GOD se wil sal wees (profesiee van HOM af),
    waar plaas dit die gelowige volgeling van Jesus in terme van
    sy of haar ondersteuning van 'n staat wat duidelik die gebod
    oortree?

    Haai Paul - soos ek dit verstaan (en soos 'n pastoor dit eenmaal aan ons verduidelik het), kom dit hierop neer:

    Mens het twee keuses - of jy ondersteun Israel, of jy ondersteun haar vyande. Christene kan nie bekostig om die kant van Israel se vyande te neem nie. Dit beteken nie mens moet dit wat Israel verkeerd doen probeer goedpraat nie, maar teen die einde van die dag bly Israel steeds God se uitverkore volk.

    Romeine 11: 25-29 "Ek wil graag aan julle 'n geheim vertel, liewe broers en susters, wat God aan my bekendgemaak het. Ek doen dit om te voorkom dat julle te slim in julle eie oe word. Dit gaan daaroor dat die verharding net vir 'n beperkte tyd oor Israel gekom het totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk van God ingekom het. En so sal die hele Israel gered word......Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog stees geliefdes van God - Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas." (Nuwe Vertaling)

    Liefde? Hmmm Ja wel, sover het sekere Muslim lande nie baie liefde teenoor Israel getoon nie: inteendeel. Dink so hieraan - as iemand in jou huis inbreek, en vir jou en jou gesin wil kwaad aandoen, gaan jy niks doen nie? Nee, jy gaan jouself verdedig, al is jy hoe lief vir die misdadiger. So ook met Israel - hulle buurlande dreig en terroriseer hulle al jare lank, en hulle het nie 'n keuse as om hulleself te verdedig nie (en soms is aanval die beste verweer). Onthou, Jesus leer ons in Matteus 10:34: "Julle moet glad nie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie! Nee, Ek het nie vrede gebring nie, maar stryd (swaard)." (Nuwe Vertaling)

    Oorlog is 'n vreeslike ding - maak nie saak hoe mens daarna kyk nie. Kindertjies wat gedood en vermink word - hoekom is dit die onskuldiges wat altyd die ergste daarvan afkom? Mens se hart breek, maak nie saak wie reg of verkeerd is nie. Dis aaklig. Ons lewe ongelukkig in 'n gevalle ou wereld.

    Die beste wat mens kan doen is bid vir vrede tussen Israel en haar vyande, maar ons moet ook besef dat hierdie wereld se tyd einde se kant toe staan, en dat dinge eintlik net erger en erger gaan word.

    Israel is ons mede-erfgename - hoe kan ons teen ons eie draai?

    Persoonlik staan ek by Israel. Ek bid vir Israel. Ek bid dat die Israelite wat nog nie vir Jesus ken nie, na Hom sal keer. Dit is wat God van ons verwag.

    Blessings


    (Ek weet nie of ek jou vraag hier ordentlik beantwoord het nie - moontlik kan een van die ander lede 'n bietjie beter verduidelik. Miskien moet ons 'n nuwe draad oopmaak om die onderwerp van 'liefde en oorlog' meer ten volle te bespreek?)
    Last edited by paidforinfull; Jan 8th 2009 at 04:19 AM. Reason: Added Scripture / paragraph
    -----------------------------------------------------------------------------------------------------------------

    "for in Him we live and move and have our being."Acts 17:28

    1 Cor. 2:10 "but God has revealed it to us by his Spirit. The Spirit searches all things, even the deep things of God." (NIV).

Thread Information

Users Browsing this Thread

There are currently 1 users browsing this thread. (0 members and 1 guests)

Similar Threads

  1. Discussion True Israel or Natural Israel?
    By wpm in forum End Times Chat
    Replies: 412
    Last Post: Oct 13th 2008, 08:00 PM

Bookmarks

Posting Permissions

  • You may not post new threads
  • You may not post replies
  • You may not post attachments
  • You may not edit your posts
  •