Gasa: Vyandskap Teen Israel Eskaleer Vinnig
Prof. Johan Malan, Middelburg (6 Januarie 2009)
Die oorlog tussen Israel en die Hamas-terroristegroep in Gasa is maar net een van verskeie fronte van ‘n veel groter stryd tussen twee godsdienste, naamlik Judaïsme en Islam. Daar is egter groot verdeeldheid onder Israel se vyande oor watter strategie teen hulle gevolg moet word. Verskeie gematigde lande en groepe erken Israel se bestaan en soek ‘n politieke oplossing vir vreedsame naasbestaan met hulle. Nogtans oefen hulle groot druk op Israel uit om nog meer van sy grondgebiede aan die Palestyne af te staan en ook om Jerusalem te verdeel.
Dan is daar die radikale lande, asook verskeie terroristegroepe, wat glad nie Israel se bestaansreg erken nie en hulleself tot die algehele uitwissing van Israel verbind het. Vir hulle is daar net een metode om hierdie doel te bereik, en dit is ‘n heilige oorlog, of jihad. Onder hierdie radikaliste is daar Iran, wat nie ‘n Arabiese nie maar wel ‘n Moslemland is; Sirië; die Hizboellah terroriste in Libanon; Hamas en die Islamitiese Jihad in die Palestynse gebiede; asook Al Qaeda wat internasionaal teen Israel, Amerika en hulle bondgenote optree. Hamas erken glad nie die bestaan van die Joodse staat nie en weier om diplomatieke bande met hulle aan te knoop. Hulle het net een doel voor oë en dit is om Israel op alle moontlike maniere te beveg en te ondermyn.
Hamas se noue bande met Hizboellah, Sirië en Iran, bring mee dat hierdie eendersdenkende bondgenote maklik tot Hamas se hulp kan kom. Hulle doen dit reeds deur wapens en militêre opleiding aan Hamas se weermag van 15 000 lede te verskaf. Hulle kan hierdie hulp natuurlik uitbrei deur self militêre aanvalle op Israel te doen. Iran se geestelike leier, Khamenei, het ‘n oproep op alle Moslems gedoen om Hamas te help en ook selfmoord-bomaanvalle op Israeli’s te doen. Hy het aan Moslems wat in die proses sterf, al die voordele en loon vir martelaarskap in die hemel belowe, en probeer om 10 000 van hierdie massamoordenaars te werf.
Die idee van martelaarskap is baie sterk in die Hamas-beweging aanwesig. Hulle begeer die dood met dieselfde intensiteit as wat die Israeli’s begeer om te lewe. Hulle leef net vir Israel se ondergang en hoop dat hulle die eer sal hê om as martelaars in die stryd te sterf. Dit is waarom hulle Israel al jare lank deur vuurpylaanvalle tart en uitlok om ‘n oorlog teen hulle te verklaar. Sedert Junie 2007 toe Hamas in ‘n staatsgreep volle beheer oor Gaza oorgeneem en Fatah-amptenare van Mahmoud Abbas verdryf het, het hulle die vuurpylaanvalle op nabygeleë dorpe en stede in die suide van Israel aansienlik verskerp. Daar was tye toe hulle tot 600 vuurpyle per week afgevuur het.
Hamas het intussen kragtiger vuurpyle van Sirië en Iran af gekry en dit deur tonnels van Egipte se kant af ingesmokkel. Hulle kan nou ook groot dorpe soos Askelon, Asdod en Bersheeva tref. Asdod met sy hawe is die vyfde grootste stad in Israel. Bersheeva is die sesde grootste stad en beskik ook oor ‘n universiteit. Die vrees bestaan dat Hamas nog groter vuurpyle en missiele kan bekom waardeur hulle ook Tel-Aviv en Jerusalem kan tref as hulle nie betyds gekeer word nie.
Uit Israel se oogpunt is die skrikwekkende scenario dat sy vyande al hoe meer word en hulle wapentuig al hoe dodeliker. Hamas beoog om die hele suide van Israel uit Gasa met vuurpyle en missiele te bestook. Hizboellah in Suid-Libanon het hulleself herbewapen nadat hulle in 2006 in ‘n oorlog teen Israel betrokke was. Hulle is nou in staat om die hele noorde van Israel onder die bomme te steek. Dan is daar Sirië wat sy weermag aansienlik deur moderne Russiese wapentuig uitgebrei het. Hulle is ook ‘n groot bedreiging vir Israel uit die noorde.
Die grootste bedreiging kom egter uit Iran in die noord-ooste. Hierdie fundamentalistiese Moslemland is besig om kernwapens te ontwikkel en sal dalk reeds hierdie jaar kernplofkoppe vir langafstand-missiele kan vervaardig. Iran weet dat Israel dit oorweeg om hulle kernaanlegte te bombardeer, en daar word vermoed dat hulle agter die eskalasie van vyandelikhede uit Gasa sit sodat Israel se aandag van Iran afgetrek kan word. Die net word al hoe nouer om Israel getrek, en sy vyande beoog om dié land van alle kante af aan te val.
Daar is ‘n ander faktor wat sekerlik ook die huidige konflik beïnvloed, en dit is die rol van Amerika as Israel se bondgenoot. Israel kon nie wag totdat Barack Obama die leisels in Amerika oorneem nie, omdat hulle nie van sy volle ondersteuning seker kan wees nie. Trouens, dit is ‘n uitgemaakte saak dat hy Israel nie ongekwalifiseerd sal steun nie.
Oral in die Moslemwêreld is daar groot afwagting op Obama se inhuldiging as president van die magtigste land ter wêreld. Daar word aanvaar dat hy ‘n Moslem is omdat sy pa ‘n Moslem was. Hulle hoop dat hy vir Israel sal veronagsaam en sodoende sal help om die Joodse staat aan die magte van Islam uit te lewer. Obama het hom egter tot die Christendom bekeer, maar dit is duidelik dat hy sterk multigodsdienstige idees koester. Niemand weet wat hy gaan doen nie, want tot dusver was hy doodstil oor die konflik in Israel. In elk geval het hy genoeg probleme in Amerika waarmee hy hom moet bemoei.
Indien Obama nie aan die verwagtings van die radikale Moslems sal voldoen nie, sal dit hulle in die arms van Rusland dryf, wat ook ‘n groot moondheid met sterk belange in die Midde-Ooste is. Rusland werk reeds op tegnologiese en verdedigingsgebied ten nouste met Iran en Sirië saam, en dit mag wees dat hy selfs bereid sal wees om militêr saam met hierdie lande teen Israel op te tree. Wanneer dit gebeur, kan ons die groot oorlog van Esegiël 38-39 te wagte wees.
Dit is duidelik dat die hele wêreldmening besig is om teen Israel te draai. Hamas word nie oor hulle aanhoudende vuurpylaanvalle geblameer nie, maar Israel word ten sterkste veroordeel vir wat die oormatige gebruik van geweld genoem word. In ‘n denkklimaat soos dié sal die wêreld eenkant toe kyk wanneer Israel se vyande onder die leiding van Rusland probeer om die Joodse staat totaal te verdelg.
Dit is duidelik dat ons hier met veel meer te doen het as net ‘n interne konflik tussen die Palestyne en Israel. Wat in Gasa gebeur, is een van die brandpunte wat na die groot eindtydse stryd tussen Israel en sy vyandige buurstate kan lei, soos in die Bybel beskryf word. Selfs al word daar ook ‘n vredesooreenkoms in Gasa bereik, sal Hamas en hulle ewe radikale bondgenote nie van siening oor Israel verander nie. Hulle sal die staking van vyandelikhede gebruik om net nog meer tonnels te grawe en dodeliker wapens in te smokkel vir ‘n toekomstige hervatting van die oorlog teen Israel.
Die huidige oorloë en gerugte van oorloë bou alles op na ‘n punt wanneer die Antichris as ‘n valse vredevors op die toneel sal verskyn, en die weg sal baan vir die uitbreek van die grootste oorlog van alle tye in die Midde-Ooste, naamlik die slag van Armageddon. Die Here sê: “Ek sal alle nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sag. 14:2). Hier sal Hy volgens Joël 3:2 met die nasies in die gerig tree omdat hulle Israel so kwaadwillig aangeval, verstrooi en probeer verdelg het.
Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan, en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (Sag. 14:12).
Dit sal Hamas niks help om te voorspel dat Gasa ‘n begraafplaas vir Israel se soldate sal word nie. Dit sal nie gebeur nie. Wat wél sal gebeur, is dat daar ‘n reuse begraafplaas vir Israel se vyande sal wees nadat die groot oorlog van Esegiël 38-39 verby is. Esegiël sê: “En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank” (Eseg. 39:12).
As ons na die groter prentjie kyk wat in die Midde-Ooste ontplooi, dan hou dit slegte nuus vir Israel se vyande in. Israel self sal ook nie skotvry kom nie. Hulle sal in die tyd van benoudheid vir Jakob kom omdat hulle steeds nie met hulle Messias versoen is wat 2000 jaar gelede al gekom het nie (Jer. 30:7; Sag. 13:8-9). Vrede sal eers vir hulle aanbreek wanneer hulle as ‘n volk sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en “bitterlik oor Hom ween” (Sag. 12:10). Hy is die enigste ware Vredevors wat blywende vrede vir Israel én die hele wêreld sal bring.
Bid om die vrede van Jerusalem
Hoe moet ons as Christene vir die baie ernstige situasie in die Midde-Ooste bid? Ons moet die hele raadsplan van God vir Israel én hulle buurnasies in ag neem en in ooreenstemming met God se wil vir almal van hulle bid. Niemand mag by ons gebede uitgesluit word nie – selfs nie die ergste vyande van Israel nie. Die redding van siele moet altyd voorrang in ons gebede geniet, gevolg deur versoeke vir vrede en materiële seën.
Die basiese opdrag is: “Bid om die vrede van Jerusalem” (Ps. 122:6). Ons moet begryp dat Israel as ‘n Messiaanse volk deur die Here geroep is sodat die Messias of Verlosser van Israel én die nasies in hierdie volk gebore kon word. Sy eerste taak sou wees om die geestelik verblinde afstammelinge van Jakob na die Here terug te bring. Met Jerusalem en Israel as vertrekpunt sou Hy deur sy dissipels sy reddende genade aan alle nasies op aarde bekend maak (Hand. 1:8; Luk. 24:46-49). God het van sy Seun gesê:
“Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Dit is dus God se wil dat daar ná die koms van sy Seun Messiaanse gemeentes in Israel gevestig sou word, sodat die afstammelinge van Jakob se twaalf stamme van hulle dwaalweë af na Hom toe teruggelei kon word.
Die vroeë Christelike kerk het inderdaad in en om Jerusalem begin, en die eerste 5 000 lede daarvan was geredde Jode. Hoewel daar baie teëstand teen Jesus se Messiasskap was, het selfs baie van die rabbi’s en priesters Hom as Verlosser aanvaar: “En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue... En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof” (Hand. 5:14; 6:7). Hulle was egter nog steeds ‘n minderheid in vergeleke met die res van die volk wat vir Jesus as Messias verwerp het, daarom het groot vyandigheid en vervolging teenoor hulle voortgeduur.
In die lig hiervan moet die heel eerste saak op ons gebedslys vir die Midde-Ooste die redding van Jode wees. Die geestelike nood onder hulle is vandag nog selfs groter as in die tyd van die Messias se aardse bediening byna 2000 jaar gelede. Die antagonisme teenoor Messiaanse Jode duur onverpoos voort onder die leiding van ortodokse volksgenote wat steeds fanaties teen Jesus se Messiasskap gekant is.
Dit is opvallend dat wanneer daar groot benoudheid oor Israel kom, bv. tydens hulle militêre veldtog in Gasa, ortodokse Jode ‘n sterk oplewing in hulle Messiaanse verwagting ervaar. Hulle bid dat die Messias tot hulle redding sal kom en sy beloofde vrederyk op aarde sal kom instel met Jerusalem as hoofstad. Hulle sê dat die Messias volgens Sagaria 14 in ‘n tyd van groot oorloë teen Israel sy opwagting sal maak en die vyande van Jerusalem sal verdelg.
Ons moet bid dat Israel se oë sal oopgaan om te besef dat Sagaria ook vir hulle goeie profetiese aanduidings gegee het oor wie hulle Messias sou wees. Hy sê: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin” (Sag. 9:9). Hierdie Koning sou dus nie aanvanklik in mag en majesteit kom nie, maar as ‘n nederige Dienskneg van die Here wat Jerusalem op ‘n donkie sou binnery. Dit is presies wat Jesus gedoen het, soos in Mattheus 21:1-11 beskryf.
Die meerderheid Jode het Hom nie as hulle beloofde Messias-Koning erken nie, en Hom uiteindelik oorgelewer om gekruisig te word. Hoe kan ortodokse Jode die baie opsigtelike feit miskyk dat dit dieselfde Jesus is wat deur hulle vaders verwerp en gekruisig is, wat weer sal kom om die oorblyfsel van Israel te red? Sagaria sê tog duidelik dat hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en dat hulle in diepe berou voor Hom sal neerbuig (Sag. 12:10). Dit is die lewensbelangrike boodskap wat ortodokse Jode vandag nog steeds moet hoor: Jesus is die Messias van Israel en die nasies, en Hy kom spoedig weer terug wanneer Hy sy voete op die Olyfberg sal sit wat oos van Jerusalem is (Sag. 14:4-5). As u nie self hierdie boodskap van redding aan Israel kan verkondig nie, bid vir die sendelinge en evangeliste wat dit wél doen. Vertrou die Here vir ‘n groot geestelike ontwaking onder hierdie volk van Hom.
Die Seun van God wat in Israel gebore is, is nie bestem om net die Verlosser van Israel en die wêreld te wees nie, maar ook die Koning wat van die troon van Dawid af sal regeer. Jesaja het gesê: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid” (Jes. 9:5-6). Ons moet besef dat die Messias van Israel nie net ‘n menslike profeet is nie, maar God die Seun. Moet dus nie net van Hom as Jesus praat nie, maar as die Here Jesus. Wanneer Sagaria oor sy wederkoms praat, sê hy: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:5). Erken sy verhewe posisie en aanbid Hom as Here en God.
Ons moet in hierdie tyd steeds die feit beklemtoon dat Jesus Christus vir die redding van alle mense gekom het – dit sluit ook die mees gehate vyande van Israel in. Bid dus ook vir die redding van die Palestyne en ander Moslemvolke wat deur die duiwel verblind is om in ‘n leuen te glo. Ondersteun ook sendingwerk onder hulle. Jesaja het gesê dat hulle in die komende vrederyk ook Christenvolke sal wees. In dié tyd, wanneer die kennis van die Here die aarde sal oordek soos die waters die seebodem, sal Hy sê: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:25; vgl. Jes. 11:9).
Wanneer ons vir die redding van alle mense bid, moet ons ook vir die vervulling van die Here se einddoel met Israel en die nasies bid. Ons moet dus ook vir sy wederkoms bid, wanneer Hy ‘n regering van geregtigheid op aarde sal vestig. Hierdie regering sal in aardse Jerusalem gevestig word, en al die nasies sal in die lig daarvan wandel. Die Here roep almal van ons op om vir die vervulling van hierdie wonderlike beloftes te bid: “O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jes. 62:6-7).
Wanneer hierdie beloftes vervul is, sal daar waarlik vrede op aarde wees: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Die Woord van die Here sal uit Jerusalem uitgaan en die nasies sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse. Oorlogvoering sal totaal verdwyn en almal sal in vrede en harmonie leef (Jes. 2:2-4).
Wanneer ons dus vir die vrede van Jerusalem bid, dan bid ons vir die Messias se wederkoms en die vestiging van sy vrederyk op aarde. Terwyl Hy nog deur die meerderheid as Messias en Koning verwerp word, kan daar nie regtig vrede in Jerusalem wees nie. Trouens, ‘n situasie soos dié berei die weg vir die koms van die valse messias voor. Dit is die bitter alternatief wat mense oor hulleself bring wanneer hulle die ware Messias verwerp. Jesus het gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).
Die valse messias sal nie blywende vrede bring nie, alhoewel hy dit aanvanklik aan alle nasies sal belowe. Die ontnugtering vir sy volgelinge sal egter groot wees: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:3). Onder sy bewind sal die herboude tempel in Jerusalem ontheilig word wanneer die Antichris homself daarin tot God sal verklaar (2 Thess. 2:4). Daarna, in die tweede helfte van die verdrukking, sal die toneel vir die groot wêreldoorlog van Armageddon in gereedheid gebring word.
Ons moet ernstig bid dat die oë van die Jode én die nasies sal oopgaan vir die werklike geestelike feite waardeur almal van ons gekonfronteer word. Daar is slegs persoonlike én wêreldvrede in Jesus Christus moontlik. Buite Hom wag die oordele van God wat teen alle sondaars uitgespreek is. Die Here Jesus sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24).
Bid dat mense uit die mag van Satan verlos sal word, sodat hulle die vrede van die lewende God in hulle harte kan ervaar. Ortodokse Jode, Moslems, lede van ander gelowe én ook alle vormgodsdienstige Christene wat nie weergebore is nie, is mislei en moet hulle deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer. Hy alleen kan aan ons lewe en vrede gee.




Reply With Quote



Bookmarks