
Originally Posted by
Psalm
Hoe hou ek op rook?
Hoe hou ek op drink?
Hoe hou ek op dit?
Hoe hou ek op dat?
Ek self het gesit met ‘n “ding” wat ek aangeleer het ongeveer 16 jaar terug, dit was nou nie rook nie, maar dit was wel iets wat nie tot eer van ons Vader in die hemele was nie.
Ek het baie dinge probeer, uitgeredeneer, beplan en uitgevoer, maar niks het gemaak dat ek ophou nie, party idees het baie goed gewerk - vir ‘n ruk, maar nie permanent nie.
Ek het bitter erg baie gebid hieroor en vir Vader gesê ek wil graag ophou, en wanneer ek myself kry is die versoeking daar en ek weet nou moet ek kies om dit nie te doen nie en dan doen ek dit weer, en weer en weer, en elke keer val ek op my kniee neer en bid en sê vir Vader ek wil graag ophou, hoe moet ek dit doen, wat moet ek doen? Help my Vader!
Julle dit het vir my ‘n groot probleem geword! My gewete het my geweldig baie gepla, baie van my vrymoedigheid is geroof en ek het baie soos ‘n hond gevoel – ‘n vuil hond, maar nogsteeds het ek aangehou met die verslawing aan die “ding”.
Ek het baie kere op my kalender ‘n sekere spesiale merkie gemaak wat net ek geweet het waarvoor die merkie is, want ek wou nou nie hê almal moet wanneer hulle my kalender sien weet dit en dat is die probleem nie – Nou ek het baie kere op my kalender die spesiale geheime merkie op ‘n sekere dag gemaak en gesê, die merkie staan vir dis die dag wat ek ophou met die “ding”. Hartseer om te sê, die merkie het dae, dan weke, dan maande dan jare aangeskuif soos ek elke keer gesê het, die dag is die dag wat ek gaan ophou, en dan hou ek nie daai dag op nie, die versoeking is net eenvoudig te groot!
Ek het rerig baie hard probeer ophou op baie maniere soos ek alreeds genoem het en gebid en vir Vader gevra hoe gaan ek ophou? Ek was raadop, het baie boodkappe van mense geluister en bedink en die Woord gelees maar ek kon net eenvoudig nie oorwinning kry nie, tot eendag….
Toe maak die Heilige Gees vir my die deel oop:
(Baie gaan dalk nou teleurgesteld wees, want hier is nou nie ‘n “ek swaai my towerstaf en hier is die oplossing” oplossing nie, en baie mense kan die stukkie lees en sê, ja ja ek ken die stukkie al uit my kop uit, net soos ek self ook baie BAIE gesê het, maar as die Heilige Gees dit nie vir jou oopmaak nie, en jy ag gee daarop nie, sal dit altyd net daai eenvoudige stukkie bly wat ons almal maar net ken)
Joh 15:1-5:
Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.
Joh 15:2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
Joh 15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.
Joh 15:4Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
Joh 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
Ek het baie gebid en gevra – Vader hoe gaan ek ophou, wat moet ek doen – Vader het vir my die stukkie oopgemaak deur sy Heilige Gees – Geen oplossing gegee wat die “ding” verslawing probleempie aanspreek nie, maar dat ek in Jesus moet bly en Hy in my anders kan ek niks doen nie.
My vraag was:
Hoe hou ek op rook?
Hoe hou ek op drink?
Hoe hou ek op dit?
Hoe hou ek op dat?
Antwoord:
Ek het die verkeerde vraag gevra, want “Hoe hou ek op rook?”, “Hoe hou ek op drink” ens – ek kannie. As ek nie in die ware wynstok bly en Hy in my nie, kan ek niks doen nie!
Weet dit net baie goed – Die versoeking gaan ALTYD daar wees dit gaan nie weggaan nie, dit gaan nie minder word nie, dit gaan nie kleiner word nie, dit gaan nie weg gaan nie! Nie totdat die duiwel gebind gaan word nie!
Wat het Jakobus geskryf in Jak 1:2-4:
Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.
Met baie Blydskap en Dankbaarheid aan my Verlosser, die ware wynstok, die deur, ons rots, kan ek vandag getuig – Nadat die Heilige Gees vir my daai 5 versies oopgemaak het, en ek ag gegee het daarop, en dien ooreenkomstig gesorg het dat ek IN HOM bly, het ek oorwinning IN HOM oor die saak gekry, die versoekinge is nogsteeds net so groot soos vroeer, maar ek het oorwinning gekry daaroor IN HOM, en ek kan die versoekinge verdra!
Bookmarks