Ek is van gister af so mismoedig, dit voel of die wêreld my onderkry, maar kyk net wat kry ek toe net vanoggend in my Inbox. Ek is seker baie van julle het al hierdie stukkie onder oë gehad maar ek glo nie aan toeval nie, so ek deel dit graag....
Daar word vertel dat die duiwel op 'n keer bankrot gespeel het en dat hy al
sy gereedskap sou verkoop aan enigeen wat bereid was om die regte prys te
betaal.
Op die aand van die vendusie was al die gereedskap pragtig uitgestal en het
die hele bose lot daar gelê: Daar was jaloesie, afguns, haat, onsedelikheid,
owerspel, moord, vyandskap, woede, en al die ander bose stukke gereedskap,
elkeen met sy prys.
Maar aan die een kant, apart van die ander gereedskap het 'n stuk gereedskap
gelê wat duidelik al baie gebruik was. Dit het 'n prys gehad wat baie hoër
was as al die ander.
Iemand vra toe vir die duiwel watter stuk gereedskap dit dan was. Die
antwoord was: Dit is Mismoedigheid. Nou waarom is dit dan so duur, wou die
persoon weet. Omdat hy vir my baie meer nuttig is as al die ander, het die
duiwel gesê. Met mismoedigheid kan ek iemand se bewussyn oopdwing en
binnedring wanneer ek dit nie kan doen met enige van die ander
gereedskapstukke nie.
En as ek eers binne is, kan ek hom gebruik net soos dit my pas. Die stuk is
al so gehawend, want ek gebruik dit op byna elke mens. Want sien, baie min
mense weet dat mismoedigheid eintlik aan my behoort.
Al wat ek kan sê is dat mismoedigheid se prys so hoog is, dat die duiwel dit
nog nooit kon verkoop nie. Hy besit en gebruik dit nog steeds. Op die
vooraand van Sy kruisiging sê Jesus vir Sy dissipels in Johannes 16:33: In
die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, Ek het die wêreld
klaar oorwin.
Dikwels word ons so oorweldig deur ons omstandighede, ons skuldgevoelens en
ons lyding dat ons ophou om te glo, dat ons moed verloor. Dinge kan soms vir
ons so moeilik raak, die wêreld kan ons so druk dat ons nie meer wil glo in
God nie. Soms is dit so erg dat ons begin om God te blameer vir wat met ons
gebeur.. Dan wil ons niks meer met God te doen hê nie.. Jesus het geweet dat
daar sulke dae vir ons oppad is. Hy het geweet dat daar tye sal kom wanneer
ons sal verval in mismoedigheid, wanneer ons met die hande in die hare sal
sit en uitroep, Here waarom? Here, waarheen nou? Here, ek kan nie meer nie.
Dit is waarom Hy vir ons vandag sê, Hou goeie moed! Moenie moed verloor nie.
Moenie toelaat dat die duiwel jou wysmaak dat daar nie 'n einde of 'n uitweg
is nie. Ek is hier en Ek het die wêreld reeds oorwin.
Liewe dierbares, Hy het alreeds die oorwinning vir jou behaal aan die kruis
Hy het alreeds jou smart, jou lyding, jou swaarkry, jou probleme, jou
bekommernisse op Hom geneem en die prys daarvoor betaal.
Daar is hoop vir jou, want Hy lewe! Roep Hom vandag aan en Hy sal jou laste
opneem. Hou net goeie moed!
Here, help ons om nooit mismoedig te word nie!





Reply With Quote

Bookmarks