Vir baie was hierdie naweek weer 'n groot geestelike naweek in ons land, vanoggend lees ek baie, ek wil weet wie wat waar en alles en nog wat. Ja, ek kan lees en ek lees wel baie
Iets wat my al baie lank pla en veral vandag weer pla is stellings wat ek raaklees soos: "Vergeet van die teologie en dogma en volg net vir Jesus". En ek moet vandag hier prontuit sê, hierdie is in my oë 'n sataniese aanslag op die Christelike verstand en veral die Woord van God.
Wat klink na 'n rein en edele gedagte is niks meer as die propaganda van 'n ontluikende kerk wat waarheid as relatief wil verkoop en die absolute waarheid van die Woord van God wil verkleineer. Is ek onredelik in wat ek hier vandag skryf? Ek glo die antwoord sal wel duidelik blyk as ons hierdie twee woorde bietjie ondersoek, teologie en dogma.
Teologie
Teologie bestaan in wese uit twee Griekse woorde, theos en logos. Theos verwys na God en logos is woord, so in wese sê jy dat as iemand moet wegbly van teologie hy weg moet bly van 'n woord van God. Die realiteit is in wese dat die Bybel wel absoluut teologie is, die Bybel is DIE WOORD van GOD.
Indien jy ooit iemand aanraai om weg te bly van teologie, is jy besig om die werk van die satan aan te help deur mens aan te raai om weg te bly van die Woord van God, van die absolute bron van waarheid en daarmee speel jy reguit in die hand van die ontluikende kerk in, jy speel in die hand van 'n post moderne wêreld in waar waarheid relatief is en maak die Bybel oop vir enige menslike interpretasie want niks wat daar binne staan kan vir jou meer absoluut wees nie.
Dogma
Dogma is 'n leerstelling of sisteem van leerstellings wat gesaghebbend en as absoluut waar beskou kan word. Weereens, wat doen ons as ons mense aanraai om nie dogmaties te wees nie? Ons sê dat jy geen leer hoef te beskou as absoluut en gesaghebbend nie, dus hoef jy ook nie die leer van die Bybel te beskou as absoluut en gesaghebbend nie. Die realiteit my vriend is dat die Bybel dogma is, die Bybel is in der waarheid die mees dogmatiese skrywe wat jy in jou lewe sal lees.
Weereens, as ons mense afraai daarvan om hulle lewens in te rig volgens leerstellings, dan raai ons hulle af daarvan om hulle te hou by die Woord van God, want die Woord van God is leerstelling, die Woord van God is absoluut en gesaghebbend, die waarheid is dat die Woord van God die bron van alle absolute waarheid is en die hoogste gesag is aangaande alles.
Laat ons nie in die hand van die satan speel deur sy werk vir hom te doen en die Christen se gesonde verstand wat God hom gegee het te probeer skei van sy geloof nie, maar laat ons die Christen aanmoedig om gesonde leer te ondersoek, hom te verdiep in die skrywes van hulle wat ons vooruitgegaan het, dit altyd te toets aan die absolute gesag, die Woord en sodoende Christenne help opbou wat nie vir jare op melk sal bly nie, maar sal opgroei in die leer van die Woord, bekwaam sal wees in die kerk en bruikbaar sal wees in die hande van 'n almagtige God.
Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas.
Titus 2:1
Ek kom terug na 'n uitlating soos: "Vergeet van die teologie en dogma en volg net vir Jesus". As jy vir Jesus wil volg, dan sal jy teologie en dogma deel van jou lewe maak, jy sal 'n passie daarvoor hê om die gesonde leer te bestudeer en jou lewe in te rig volgens daardie morele kode, jy sal strewe na kennis van teologie en ywer om jou lewe so dogmaties korrek moontlik volgens die Woord van God in te rig.
Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Johannes 14:23
Groete
Phil
Bookmarks