Vroue móét uit: Doppers het nie ’n keuse
Dries van Wyk van Erasmuskloof skryf:
Ek merk dat die GKSA weer die saak van vroue in die ampte van predikant en ouderling ouderling gaan debatteer.
Wat eintlik gedebatteer moet word, is die Bybel self. Die Bybel self is die bron van die konflik.
Voordat die Bybel wesenlik geredigeer word om in ’n moderne konteks steeds bruikbaar te wees, mors veral debatteerders wat die toelating van vroue in die ampte van ouderling en predikant voorstaan net hul tyd.
Die Bybel, soos hy tans daar staan, laat geen ruimte vir die toelating van vroue tot die ampte nie, net soos dit gay mense uithou.
Daar is net te veel tekste wat duidelik uitspel wat vroue se posisie in die gemeente is.
Die Doppers het geen keuse nie as om vroue weg te hou uit die ampte as hulle konsekwent by die Bybel wil hou. Om iets anders te besluit is om die Bybel te relativeer tot op die punt dat dit enigiets vir enigiemand kan sê.
Dit is hoogs ironies dat die Christelike dogma wat op die Bybel gebou is die Bybel voorhou as ’n norm om alle gelowiges saam te snoer in ’n gees van een van hart en een van sin.
Tog verdeel die Bybel mense, veroorsaak kerkskeurings, praat gruwels goed en veroorsaak dikwels meer verwarring as wat dit rigting gee.
Hoe gouer daar besef word
die Bybel is ’n gewone menslike boek vol feilbaarhede, hoe gouer sal onsinnige debatte soos die Doppers s’n eindig.
Bookmarks