Henry,
Ek wil nie namens Lanie antwoord nie, maar sal graag iets wil sê soos ek dit verstaan. Die verskil tussen vry genade en vry wil, is dat vry genade aanvoer die mens se keuses is beperk, teenoor vry wil wat die beperktheid se grense veel vêrder neem. Tog kan geen mens wat in vry wil glo, aanvoer dat vry wil mens onbeperkte keuses gee nie. Kan mens kies wanneer jy gebore word, kan mens kies wie jou pa of ma is, kan mens kies hoe slim jy is, kan mens kies hoe ryk jy is, kan mens kies lank jy gaan lewe, kan mens kies om
nooit te sondig nie, ensovoorts?? Dis oor hierdie rede dat die terminologie van vry wil (m.a.w. dit impliseer 'n onbelemmerde determinasie by die mens, terwyl slegs God so vryheid kan hê), my so pla, want dit impliseer iets wat nie kan bestaan nie.
'n Pa of ma wat omgee vir 'n kind, sal so kind nie onbepaald aan hul eie keuses oorlaat nie en kan weens hul liefde vir hul kind, so kind dwing om sekere
lewensbelangrike dinge te doen, as hul enigsins verantwoordelik in hul liefde is. Liefde sonder gesag is nie meer liefde nie en God se liefde kom nie sonder gesag en dissipline nie. Die Here dwing ons ook of kan ons ook dwing, om
lewensbelangrike dinge te doen, soos om tot redding te kom
(sodat my huis kan vol word) en daar is 'n gelykenis wat Jesus self vertel het, wat dit goed illustreer...
En toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God. Maar Hy antwoord hom: ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed. En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie. En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.
(Luk 14:15-24 AOV)
Dis in hierdie gelykenis duidelik dat vry wil nie op eie krag enigsins redding kan bewerk nie en veral nie redding
wil bewerk nie. Vers 24 sê dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie. Mens kan net sowel sê, dat die hele mensdom genooi is en ongelukkig kon hulle dit nie vermag om op te daag nie, want vry wil alleen is nie die manier om dit te doen nie. As God mens nie bring tot redding nie, soos hier staan,
'Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in'. Hier staan nie gee hulle 'n keuse nie, bring hulle en dwing hulle, is wat ek in hierdie gelykenis lees. Die wat net op keuse moes kom, het nie een gekom nie, want daar staan,
'hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig'.
Bookmarks