Wat is die enigste ding wat 'n mens kan doen sonder om iets te doen? (Joh. 1:12,13). Om jou vertroue in Jesus te plaas en so wedergebore te word.
Kinders vra: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Wat maak ek hier? Waarheen is ek op pad? Kom ons antwoord hulle. Deur jou natuurlike ouers kom jy van Adam af, en alles wat van Adam af stam is vleeslik en aards. Die gevalle Adam kon alleen 'n gevalle nageslag produseer (Gen. 5:3; Rom. 5:12).
Maar die wat ook uit God gebore is (wedergebore deur geloof in Jesus Christus), het 'n nuwe en sondelose natuur van God ontvang (Rom. 5:18).
Siedaar! Dit is wie ons as Christene is: Een persoon met twee nature, twee geneigdhede, twee moontlikhede en twee stelle voorkeure en afkeure.
Duskant die graf het ons as Christene dus nog 'n efense probleempie. Lewis Sperry Chafer stel dit so:
"Two natures dwell within my breast;
One is cursed and the other blessed.
One I love and one I hate;
The one I feed will dominate."
Tog is daar iets wat 'n Christen mooi moet verstaan: Die persoon wat ons kragtens ons natuurlike geboorte was, bestaan wettiglik nie meer nie (Rom. 6:6). Hoewel die ou sondige natuur nog met ons is tot die laaste dag, maar die persoon wat ons in Adam was, het geen wettige bestaansreg voor God nie.
Ek is dus nie meer veroordeelde David nie, maar geregverdigde David. Hoewel een mens twee nature het, kan een mens nie dieselfde tyd veroordeeld en geregverdig wees nie (Rom. 8:33,34).




Reply With Quote
Bookmarks