Hi Johnny,
Die opsie wat ek wil bespreek is nie in die meningspeiling nie, maar ek sou glo dat as iemand in krag van die kruis bekeer, so een hom outomaties ook laat doop. Ek sal jou graag wil antwoord oor Hand 2:38 soos op 'n ander draad ook geantwoord was, daar staan,
'En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.'
Die deel wat jyself as opdrag sien is,
bekeer jou en laat jou doop. As jy dit met water wil illustreer is dit sekerlik nie verkeerd nie, maar hoe kan mens die Heilige Gees as gawe ontvang, sonder dat jy gesterf het in jouself? Jy kan dit net doen as jy gekruisig is vir die wêreld en op geen ander manier nie. By die kruis vind 'n doop plaas wat werklikwaar verhewe bo die waterdoop is en vêrder is niks anders sentraal in ons godsdiens nie, behalwe die kruis. Die waterdoop is nie sentraal nie en sal nooit kan wees nie, maar die kruis is sentraal omdat soveel dinge daar gebeur.
Nét daar is volkome versoening en ook daar vind 'n doop plaas, wat ook Jesus van gepraat het. Jesus gebruik die Griekse
baptizo, wanneer Hy die volgende sê...
Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop (baptizo) word met die doop waarmee Ek gedoop (baptizo) word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop (baptizo) word, sal julle gedoop (baptizo) word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.
(Mat 20:22-23 AOV)
Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop (baptizo) te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!
(Luk 12:50 AOV)
Om jou te laat doop is veel meer om jou te laat kruisig, as wat dit oor doop met water handel en tog kan doop met water simbolies hierop wys, maar water kan nooit die kruis vervang nie. Die enigste gehoorsaamheid wat sinvol is, is 'n gehoorsaamheid wat dag tot dag inspraak in jou lewe maak en ook hier kan die waterdoop nie kers vashou, met die kruisboodskap nie, want Jesus het iets ingebou in Sy opdragte aan ons, wat net deur die kruis vervul kan word. Hy sê,
En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.
(Luk 9:23 AOV)
En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.
(Luk 14:27 AOV)
Ek is 100% oortuig, net hulle wat hulle kruis opneem, kan hulle laat doop. Daar is 'n moordenaar aan die kruis en op die kruis gered en die hele wye wêreld kan vandag getuig dat terwyl hy nog aan die kruis gehang het, het Jesus redding aan hom belowe. Jesus het nie vir die moordenaar voorwaardes uitgespel nie, omdat die kruis al is wat waar moet wees in enige iemand se lewe om gered te kan word. Bekeer jou en laat jou doop, was oombliklik waar by die kruis van hierdie moordenaar. Al wat hierdie moordenaar moes doen, was om self sy kruis op te neem en so hom te laat doop. Ek dink nie die doop kan ooit so sentraal en ooit so kragtig soos die kruis self wees nie. Net die kruis het so ryk en diep boodskap en ook krag, wat redding bewerk. Die doop met water kan nie redding bewerk nie en ek is oortuig dat in die Kerk van ons dag, baie Skrif negeer word, om die kruis te verydel. Dit alleen laat my verstaan hoekom Paulus die volgende kon sê..., oor 'n waterbad wat die kruis se plek begin inneem het...
Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.
(1Kor 1:17 AOV)
Die kruis kan die doop insluit en omvat, maar die doop kan nie dieselfde met die kruis doen nie, behalwe om daarna te verwys.
Bookmarks