Hallo. Verskoon as my antwoord bietjie filosofies raak. Ek verduidelik al die terme.
Ek sou sê dit gaan oor godsbeeld. Wanneer jou godsbeeld so postmodern is dat jy nie meer God as 'n teïstiese, transendente, metafisiese, persoonlike God erken nie, raak "God" eintlik 'n kulturele skepping, 'n eie maaksel van die mens.
teïsties: 'n God as werklike Persoon wat ontologies (in terme van sy bestaan) apart van die mens bestaan.
transendent: buitekant / anderkant die werklikheid van menswees. Die New Agers glo bv. in 'n "immanente" God (teenoorgestelde van transendent) - hulle sien die mens is eintlik deel van God (panteïsme en panenteïsme).
metafisies: dit verwys na 'n werklike dimensie waarin werklike wesens bestaan (soos God, engele, demone) wat nie fisies meetbaar is nie. Hulle bestaan nie in die fisiese, natuurlike realm nie, maar in die meta- (anderkant) fisiese realm.
Julian Müller se standpunt kom daarop neer dat "God" 'n term is wat mense toedig aan dele van menswees wat hulle nie kan verstaan of met hulle sintuie kan ondersoek nie. Dit kom daarop neer dat "God" bloot 'n skepping is wat in 'n bepaalde kultuur neerslag gevind het, 'n skepping van die mens.
Müller se teologie neig ook na monisme: dit het te doen daarmee dat hy nie die fisiese realm van die metafiese realm van mekaar skei nie. Anders gesê, hy tref nie 'n onderskeid tussen dit wat natuurlik is en bonatuurlik is nie. Hy praat daarom ook van 'n "integrale wêreldbeeld" - baie kenmerkend van oosterse en New Age denke.
So die kort antwoord is, ja, wanneer jou godsbeeld so menslik is, glo jy nie meer in die God van die bybel nie, maar in 'n god wat deur die mens self geskep is.
Joh 8:32 "And you shall know the truth, and the truth shall make you free."
Bookmarks