DEEL 1


Ons leef in die laaste dae. Die Midde-Ooste is besig om 'n kookpot te word. Ek wil vra dat die wat so gelei voel om in te tree vir Israel in gebed dat julle dit sal doen. Ek plaas 'n artikel van Zeta wat in Jerusalem werksaam is. Julle kan haar e-pos as julle wil....natuurlik met positiewe kommetaar, want sy het ook gebed nodig vir die werk wat sy vir die Here dar doen. (Johnny)

"Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil bly nie.." Jesaja 62:1

Waarom ondersteun ons Israel?

Deur Zetta Visser (E-pos adres)

Ons leef in 'n tyd waarin profetiese Skrifte byna daagliks vervul word. Dit kon van geen ander eeu gesê word nie. Die moderne staat Israel is in die huidige geslag se leeftyd gebore; daar is 'n magtige uitstorting van die Heilige Gees oor die hele wêreld en die nasies staan in 'n patroon wat duisende jare gelede al in die Bybel voorspel is, teenoor mekaar. Ons leef voorwaar in die mees kritieke tyd wat daar nog ooit in die geskiedenis van die mensdom was.

Israel se roeping, verstrooing en herstel :
Die groot teken dat ons in die eindtyd is, is die herstel van Israel in hulle eie land in 1948. Jerusalem is in 1967 deur moderne Israel van Jordaniese beheer bevry en in 1980 tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar. Toe het die stad vir die eerste keer weer die status verkry wat dit voor die Babiloniese ballingskap gehad het, naamlik die hoofstad van ‘n onafhanklike volk van Israel, wat nie onder die beheer van enige wêreldmoondheid is nie. Die ster van Dawid het oor die stad gewapper om die sekere boodskap te verkondig dat die tyd van God se groot eindtydse handelinge met Israel en die nasies in hierdie geslag sal aanbreek. (Matt 24:32-35).
Die volk Israel is van groot betekenis omdat die woorde van God aan hulle toevertrou is (Rom 3:1-2). Ons het alle rede om ernstig tot Vader vir die vedere herstel van Israel te bid. Hierdie volk is wel in ‘n gevorderde stadium van fisiese herstel, maar hulle is geestelik nog dood. Vandag is daar wel al baie Messiaanse Jode in Israel wat Jesus (Y’shua in Hebreeus) as die Messias aangeneem het, maar hulle is steeds in die minderheid. Messiaanse Jode word ook baie keer deur hul families verwerp en daarom moet ons ook vir hulle bid.
Abba Vader het aan Esegiël, ‘n profeet van Israel tydens die Babiloniese ballingskap getoon dat Hy Israel in die eindtyd na hulle land sal terugbring om hulle ook geestelik te laat herleef (Eseg. 36:22-28). God het belowe om Israel te herstel – God het ook belowe om die Jode terug te bring na hulle beloofde land. (Eseg 39:27-28). Vandag is daar al oor die 6 miljoen Jode in Israel en steeds is hulle besig om vanaf reg oor die wêreld terug te emmigreer na Israel. God is besig om sy volk terug te neem na hulle huis – na Israel toe!
Bid vir die geestelike ontwaking van Israel. Hulle verwerp (meederheid van die Jode) steeds die Messias en daarom wag die komende verdrukking ook vir Israel. Hierdie volk moet eers geestelik lewend gemaak en met die Messias versoen word voordat Jesus/Y’shua die troon van Dawid sal herstel en uit Jerusalem oor die hele wêreld sal regeer. Israel se herstel gaan tot seën wees vir die hele wêreld – ons moet Vader herinner aan die beloftes in Sy Woord (Jesaja 62:6-7).
Koning Dawid, wat Jerusalem 3000 jaar gelede verower en tot hoofstad van Israel verklaar het, het gesê “Bid om die vrede van Jerusalem, mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe” Ps 122:6. Jesaja bevestig ook die belofte van die Messias wat vir ewig van die troon van Dawid sal regeer (Jes 9:5-6).
Ons is op die drumpel van ‘n direkte ingryping van Vader in die lotgevalle van Israel en die nasies. Ons het meer as enige rede nodig om by die Heilige van Israel vir die geestelike herstel van hierdie volk in te tree. Die Woord sê duidelik dat daar 'n tyd gaan kom wanneer God se handelinge met die nasies afgehandel sal wees. Wanneer die tyd van die Nasies vervul sal wees. (Luk. 21:24).

Dit is ook vandag baie duidelik dat God die ware gelowiges daartoe roep om hom opnuut met die Jood te identifiseer. Die profesieë wat handel oor die roeping, verstrooiing en herstel van Israel, vorm 'n deurlopende tema. Dit strek vanaf die eerste, onvoorwaardelike beloftes aan Abraham, tot by die Messias se ryk wat met die wederkoms van Jesus/Y’shua tot stand sal kom.

Anti-Semitisme:

God se beloftes en waarskuwings aan hierdie volk is deur die eeue heen letterlik vervul. Daarom mag ons nie 'n streep deur Israel se geskiedenis trek nie. Elke Christen moet deeglike selfondersoek doen. Hy moet besluit of hy nie ook deur die gees van Jodehaat of anti-Semitisme bei'nvloed word nie. Want dan sal hy beslis, bewustelik of onbewustelik, probeer om die vervulling van God se plan met Israel teen te werk.

Die Jode moes egter deur die eeue baie lyding deurmaak soos onder andere tydens die agt kruistogte wat van die elfde tot die dertiende eeue af na die Heilige Land gereël is. Die kruisvaarders het van Engeland, Frankryk, Duitsland en Rome af gereis en op hulle pad net soveel Jode as wat hulle kon, vermoor, vermink en besteel. Ook tydens die "swart dood" wat van Asie af soos 'n veldbrand na Europa versprei het het hulle lyding ervaar. Gerugte word versprei dat die Jode daarvoor verantwoordelik was en Jode is dwarsdeur Europa gevang, gemartel en vermoor. Alle lasterlike dinge wat van die Jode gesê is en word, sal deur die almagtige God geoordeel word. Want Hy het duidelik gesê: "Ek sal. . . hom vervloek wat jou vervloek" (Gen. 12:3).
Die donkerste uur in Israel se geskiedenis, naamlik die tyd toe ses-miljoen Jode deur die Nazi's vermoor is, is gekenmerk deur die feit dat die kerk niks gedoen het om dit te verhoed nie. Die meeste Christene het eenvoudig stil gebly en feitlik elke land in die wêreld het sy deure vir die Joodse vlugtelinge uit Europa gesluit. En daar is hulle op die mees onmenslike maniere moontlik gemartel en doodgemaak.
Die verhaal van Israel gaan egter eindig op 'n wonderlike oorwinning wanneer die Messias kom. Hy het reeds 2 000 jaar gelede gesê dat Hy weer sal kom om die volke van die wêreld te oordeel. Dan sal Hy die volke oordeel aan die hand van die wyse waarop hulle teenoor sy broers, dit is die Jode, opgetree het. Die verwerping en vervolging van Israel is deel van ‘n duiwels-geïnspireerde proses van die verwerping van die God van Israel, wat die God van die Bybel is.
Israel is die teiken van anti-semitisme (Jodehaat) en wêreldwyd is hierdie haat besig om teen ‘n geweldige spoed toe te neem. Pogings word aangewend om hierdie volk se belange op alle lewensterreine te ondermyn, hulle ‘n slegte naam te gee en sodoende die swart skaap van die internasionale gemeenskap te maak. Die huidige geskil oor die land is nie werklik grondgebied nie maar die wortel is haat. Agter hierdie veldtog is Satan. Hy weet dat die herstel van Israel in die laaste geslag voor die koms van die Messias plaasvind. Hy probeer dus om hulle terugkeer na die Beloofde Land ongedaan te maak, hulle as volk te vernietig en hulle land aan Islamitiese afgodsdienaars oor te lewer. Satan is veral oor die beheer van Jerusalem begaan. Alle pogings word aangewend om dié stad van die Jode te vervreem omdat dit die stad is waarheen die Messias gaan terugkeer en regeer.
Die rede hoekom Satan die Joodse volk soveel haat, is omdat hulle God se waarheidsliefde weerspieël – en die werklikheid van God word bewys deur die wyse waarop Hy Sy beloftes teenoor hulle gehou het, asook al Sy Profesieë teenoor hierdie nasie. Dit spreek van Sy groot genade, Sy standvastige, onvoorwaardelike liefde en Sy getrouheid, al het hulle dit nie verdien nie.

Seën en Troos:

Christen-gelowiges moet Israel as ‘n volk erken met wie God ‘n verbond gesluit het en hulle ook aktief ondersteun. Om oor onsself die seën van God te verseker, moet ons Israel seën. Ons moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus/Y’shua verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die dood van Jesus/Y’shua sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in – Rom 11:11-12.
Omdat Israel vir Jesus/Y’shua verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Ons is baie aan Israel verskuldig - ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus/Y’shua, dien.
Om iemand te seën beteken om God se guns oor hom af te smeek. Om dit ten opsigte van Israel te doen, beteken dat die Here jou óók in guns sal aansien. En om iemand te vervloek beteken om hom te verdoem en die wens uit te spreek dat rampe en ongelukke hom sal tref. Wil jy die seën van die Here in jou lewe geniet? Dien Hom dan met jou hele hart en seën sy volk Israel! “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3).
Israel moet vertroos en bemoedig word, sodat hulle kan ervaar dat hulle vriende het wat te midde van al die aanvegtinge en vyandigheid by hulle staan. “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is” (Jes. 40:1-2).
Ons moet Israel seën en vertroos deur:
- ondersteuning te gee aan Israel en hulle te erken as God se volk
- jodehaat teë te staan en te weerlê en by Israel te staan maak nie saak wat die wêreld sê nie
- finansiële en materiële steun te lewer waar nodig (Rom 15:25-27)
- deur te bid vir hierdie land en volk -die kern van enige hulp-program vir Israel is gebedsondersteuning:
Gelowiges moet handevat met die Jode en saam met hulle staan. Deur die optrede van ware wedergebore gelowiges, sien die Joodse volk die Messias raak. Ons het ‘n geweldige groot taak om uit voer. Ons moet die Messias se Lig aan die Joodse volk uitdra. Ironies was dit die teenoorgestelde wat die kerk deur al die eeue uitgedra het. Dis tyd dat gelowiges uitreik na die Joodse volk in liefde en bowenal met Jesus/Y’shua se Lig wat deur hulle na die Joodse volk sal skyn.

Gelowiges het ‘n plig teenoor Israel. Reik jy ook ‘n helpende hand na ‘n volk in sy nood? Daar is baie organisasies wat hulp verleen in Israel maar sonder die steun en finansiele hulp van mede-gelowige christene kan hulle nie die Jode volkome bystaan nie.

Moet nooit Israel se bestaansreg in twyfel trek nie, maar gee erkenning aan hulle as die volk deur wie die Woord van God tot die hele wêreld gekom het. “Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” (Rom. 3:1-4).
Moet nie die Joodse oorsprong van die Christelike geloof vergeet nie. “Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode? En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook. En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem – dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou” (Rom. 11:15-18).

Jesus/Y’shua ‘n Jood:

Daar is ‘n paar dinge omtrent die Jode wat ‘n mens nooit uit die oog moet verloor nie.
Dit is ‘n volk wat deur God gekies is om sy saligheidsplan aan die wêreld te openbaar. Romeine 9:5 sê dat die Messias na die vlees uit Israel kom. Romeine 3:2 sê dat die woorde van God aan hulle toevertrou is, en voeg by dat selfs al het sommige van hulle ontrou geword, bly hulle nog steeds die volk van God. Daar sal altyd ‘n gelowige oorblyfsel wees. In Johannes 4:22 sê Jesus dat die saligheid uit die Jode is. Sagaria 2:8 sê dat Israel God se oogappel is. By die wederkoms sal die hele oorblyfsel van Israel volgens Sagaria 13:9 die Messias aanneem. In die Millennium sal Israel ‘n voorbeeld vir die hele wêreld wees oor hoe die Here gedien moet word, en die nasies sal hierdie rol met dankbaarheid erken (Jer. 31:34; Sag. 8:22-23).
Die Bybel is ‘n Joodse boek, geskryf meestal deur Jode en grootendeels vir Jode. Die Nuwe Testament was ook meestal geskryf deur Jode, vir Jode sowel as vir Nie-Jode. Y’shua die Messias, is as Jood gebore in ‘n Joodse familie in ‘n Joodse omgewing nl. Betlehem. Wat opgegroei het tussen Jode in Nasaret en voldoen het aan alle Joodse gebruike. Wat ‘n gebedsdoek (Tallit) gedra het soos alle Joodse mans, wat aanbid en lering gegee het in die sinagoges en tempel van Jode. Sy aardse bediening was meestal gerig op Jode veral in Galilea. Hy sterf as Koning van die Jode en staan op uit ‘n graf in ‘n Joodse stad, Jerusalem – alles in die land Israel wat Abba Vader aan die Joodse mense gegee het. Y’shua se 12 dissipels was almal Jode. Dit was Jode wat die evangelie na die Nie-Jode (ek en jy) gebring het. Paulus was ‘n Jood alhoewel hy die evangelie na die Nie-Jode versprei het. Dis Jode wat vir ons die Woord gegee het omdat Vader hierdie volk vir hierdie taak gekies het.