Piekolie is hier, volgens WikiLeaks .
Woensdag, 09 Februarie 2011 08:43 praag .Die Amerikaners vrees dat Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste ru-olie uitvoerder, dalk nie oor genoeg reserwes beskik om stygende oliepryse te keer nie, het vertroulike kommunikasie uit die ambassade in Riyadh gewys.
Die kommunikasie, wat vrygestel is deur WikiLeaks, vra Washington om 'n waarskuwing ernstig op te neem van 'n senior amptenaar in die Saoedi-regering dat die koninkryk se ru-olie reserwes dalk oorbeklemtoon word met soveel as byna 40%.
Dié opspraakwekkende feit kom terwyl die olieprys die hoogte ingeskiet het in die afgelope weke tot meer as $100 per vat agv globale vraag en spanning in die Midde-Ooste. Baie ontleders verwag dat Opul se kartelvennote meer olie sal pomp om stygende pryse die hoof te bied.
Maar Sadad al-Husseini, 'n geoloog en voormalige hoof van eksplorasie by die Saoedi-oliemonopolie Aramco, het die Amerikaanse konsulgeneraal in Riyadh in November 2007 vertel dat Aramco nie die 12.5m per dag, die kapasiteit wat benodig word om pryse laag te hou, kon bereik nie.
Volgens die kommunikasie tussen 2007-09, sê Husseini dat piekolie dalk so vroeg as 2012 die wêreld sal tref.
Husseini het gesê op daardie punt sal Aramco nie in staat wees om die styging in globale olie-pryse te keer nie aangesien die Saoedies voorheen hulle oliebronne oorbeklemtoon het om buitelandse beleggings te stimuleer. Hy het gesê dat Aramco die tyd wat nodig is om nuwe oliebrone te ontgin, erg onderskat het.
Die Amerikaanse konsul waarsku Washington voorts: "Terwyl al-Husseini die Aramco-maatskappy basies weerspreek, is hy nie oordeelsdagteoretikus nie. Sy opvoeding, ondervinding en vooruitskattings maak dat sy voorspellings ernstig oorweeg behoort te word."
In die afgelope twee jaar, het ander senior energie-ontleders Husseini gerugsteun. Fatih Birol, hoofekonoom van die Internasionale Energie-agentskap, het verlede jaar aan die Guardian, die linkse Britse koerant, gesê dat konvensionele ru-uitset in 2020 'n plato kan bereik, 'n ontwikkeling wat "nie goeie nuus" inhou vir 'n wêreld nog baie afhanklik van petroleum nie.
Jeremy Leggett, sameroeper van die Britse Taskforce on Peak Oil and Energy Security, het gesê: "Ons is aan die slaap agter die stuurwiel hier: Ons kies om 'n bedreiging vir die globale ekonomie wat so erg soos die kredietkrisis kan wees, en heel moontlik erger, te ignoreer. "
Bookmarks