Op ‘n ander draad is daar o.a. gepraat oor die beginsel om die evangelie volgens ‘n bepaalde plan, of raamwerk te verkondig. Die EEIII (deesdae slegs bekend as EE) het ter sprake gekom en aangesien ek ‘n gergistreerde EE dosent is, het CFJ voorgestel dat ek van die inligting op Lighuis plaas. Die EE program is ‘n interkerklike program waarvolgens mense opgelei word om die evangelie op ‘n eenvoudige wyse met ander te deel. Dit behels ‘n raamwerk waarvolgens so gesprek kan plaasvind, met die belangrikste teksverwysings. So EE kursus word normaalweg oor ‘n tydperk van sestien weke aangebied, en behels ook praktiese uitreike asook mondelinge en skriftelike eksamens, waarna so kursusganger ‘n sertifikaat ontvang, as bewys dat hy/sy die kursus voltooi het.
Ek het die saak met EE SA opgeneem en toestemming verkry om inligting oor die kursus hier te verskaf. Daar is geen kopiereg op nie, die enigste vereiste is dat daar nie geld betrokke mag wees nie, en dat dit verantwoordelik deur ‘n geregistreerde EE dosent aangebied moet word. Nadat die saak deur die mods bespreek is, het ek my bereid verklaar om die hele kursus in ‘n verkorte weergawe hier te plaas, vir enigeen wat belangstel. Dit is myns insiens baie waardevolle inligting wat elke christen behoort te hê. Dikwels wil mense graag die evangelie met iemand deel, maar hulle het nie die vrymoedigheid nie omdat hulle nie weet hoe nie. Of hulle doen meer skade as goed, omdat hulle self nie die basiese kernboodskap van die evangelie verstaan nie. In daardie opsig is die EE van onskatbare waarde.
Ek wil dit egter beklemtoon dat die EE program slegs ‘n riglyn bied, en dat ‘n mens dit nooit kan memoriseer en soos ‘n papegaai woord vir woord gebruik wanneer die evangelie met iemand gedeel word nie. Elke situasie en mens verskil, en dit is belangrik om te onthou dat ‘n mens jou uiteindelik deur die Heilige Gees moet laat lei wanneer jy met iemand oor die evangelie praat. Maar die EE bied nietemin ‘n baie praktiese en waardevolle raamwerk waarvolgens die basiese beginsels van die evangelie oorgedra kan word.
Uiteraard kan die volledige kursus nie amptelik hier aangebied word nie, en veral die praktiese deel en eksamens sal nie deel hiervan vorm nie. Daar sal natuurlik ook geen sertifikate uitgereik word nie. Hierdie is bloot inligting wat geplaas word. Maar enigeen is welkom om dit te volg en te gebruik soos en wanneer nodig. Indien u egter belang sou stel om so kursus amptelik te deurloop, kan u gerus op EE SA se webwerf http://www.ee3.co.za inligting bekom oor kursusse in u omgewing, en daarvoor inskryf.
U is natuurlik welkom om vrae te vra, of kommentaar te lewer. Maar geen debate sal uiteraard hier toegelaat word nie. Indien u ‘n gesprek wil begin na aanleiding van inligting wat hier weergegee word, is u natuurlik welkom om ‘n draad oor daardie onderwerp op ‘n toepaslike subforum oop te maak.
Om die inligting hier te plaas, gaan uiteraad heelwat tyd verg, en aangesien my tyd op hierdie stadium effens beperk is, kan ek my self ongelukkig nie verbind om al die inligting binne 'n vasgestelde tyd te plaas nie. Maar ek onderneem om moeite te doen om dit so vinnig en volledig moontlik te doen. My gebed is regtig dat dit iets vir iemand, en uiteindelik vir God se Koninkryk, sal beteken.




Reply With Quote


Bookmarks