Iets kort oor hoe ons moet bid
Die eerste punt van belang in Lukas 11:9, skryf Lukas Jesus se woorde neer en dit kan ons glo, is presies wat Jesus gesê het, ‘En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word…’
Bid, en vir julle SAL gegee word. Tog bid baie mense en getuig dat hierdie woorde nie vir hulle waar is nie. Die vraag is, hoekom? Die antwoord is moontlik…, jy bid verkeerd!
Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
(Jak 4:3 AOV)
Jy hoor dalk nie iemand anders se nood nie en sien net jou eie nood raak.
Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.
(Spr 21:13 AOV)
Miskien twyfel jy…
Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
(Jak 1:6 AOV)
Jy kan miskien jouself regverdig in die trots wat in die self gesetel is…
Dan roep hulle, maar Hy antwoord nie, vanweë die trotsheid van die kwaaddoeners.
(Job 35:12 AOV)
Dit wat jy vra is moontlik buite God se wil…
En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.
(1Joh 5:14 AOV)
Moontlik vra jy ‘n hele maand se oplossings of ‘brood’ of in uiterste gevalle ‘n hele jaar se ‘brood’, terwyl Jesus ons so geleer het…
gee ons vandag ons daaglikse brood;
(Mat 6:11 AOV)
Jy kwel jou oor môre en volgende week en bid oor dinge wat nóú, vandág, geen effek kan hê nie…
Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
(Mat 6:34 AOV)
Hierdie is enkele redes wat die Bybel ons leer, hoekom jy nie God se stem kan hoor nie en belangrik, God se teenwoordigheid nie kan ervaar nie. Miskien moet mens net meer prakties raak en dit met ‘n voorbeeld uitwys. Gestel jy moet volgende Dinsdag in ‘n hofsaak getuig en dit is iets wat jou werklik ontstel en ook bevrees maak, hoe moet jy dit hanteer en hoe moet jy prakties bid, om God se teenwoordigheid te kan ervaar?
Die Here sê nie ons moet nie oor volgende Dinsdag bid nie, maar Hy gaan 9 uit 10 keer nie ‘n week voor die tyd met jou praat daaroor nie, terwyl die mens normaalweg onmiddellik al ‘n antwoord verwag. In alle waarskynlikheid gaan die Here eers volgende Dinsdag jou antwoord, op die dag wat die hofsaak plaasvind. Nou kwel jy jouself oor volgende Dinsdag en jy hoor niks en die slotsom wat jy maak is ‘n onredelike een, God antwoord nie my gebed nie! Een van die heel belangrikste beginsels in God se Woord, is dat ons op Hom sal wag!
maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
(Jes 40:31 AOV)
Fokus op dit wat vandag saakmaak, die telefoon oproep wat vir my wag en wat moet ek sê Here…?…, wie kan dit wees Here…?…, gee my krag Here! Deur op ‘n onverwagse telefoon oproep te fokus en die Here te ken daarin, kry jy net dalk die antwoord oor volgende Dinsdag en juis omdat Dinsdag nie die belangrikste is met so fokus nie, maar die telefoon oproep self. So mis ons baie keer klein dingetjies en kry ons geen antwoord van die Here nie. Ken die Here in al jou weë, staan daar geskrywe en Hy sal jou paaie gelykmaak (Spr 3:6). Begin fokus op elke dag se dingetjies en ken die Here daarin en jy SAL Sy stem hoor en belangrikste van alles, jy sal Sy teenwoordigheid ervaar, wat so nodig is om opgehef te word, want God se Gees wat op ons kom, hef ons op.
As jy bid vir vandag, sal jy vandag die antwoord kry en so sal jy God se stem hoor, maar as jy bid vir volgende week, gaan jy in meeste gevalle niks hoor nie en dan dink jy God is dood, maar jy het eintlik net verkeerd gebid. Iemand wat depressief is voel 'dood', afgemat en siek en soek net een ding, jy wil lewe en God wat ‘n gebed antwoord, bevestig lewe!
Bookmarks