Leané du Plessis
Suid-Afrikaners is onder die sowat 250 000 mense wie se persoonlike inligting deur ’n Amerikaanse afspraakwebwerf van Facebook afgesteel is.
Die webwerf
www.lovely-faces. com beloof om jou met “jou liefdesmaat” in verbinding te bring.
Hulle het mans en vroue in kategorieë verdeel op grond van inligting wat die niksvermoedende slagoffers op Facebook weergegee het. Die slagoffers word gekategoriseer as “sagsinnig”, “agteraf”, “snaaks” of “gemaksugtig”.
Die skeppers van dié webwerf verdeel die mense ook volgens nasionaliteit.
Gebruikers van die webwerf kan op enige mens se naam klik en word dan na ’n beskrywing van die persoon gelei.
Me. Chris Gandy, ’n Amerikaner wat as “sagsinnig” beskryf word, is een van die onwetendes wie se profiel gekaap is.
“Sy hou van Apple-studente, Tuckermax en Jeanette Howell-fotografie,” beskryf die webwerf haar belange.
Dit is dieselfde belange wat sy op Facebook geskryf het vir haar vriende om te sien.
Gebruikers kan haar daarna ’n punt uit vyf gee op grond van hoe “oulik” sy is.
Daarna word hulle direk na haar Facebook-profiel gelei.
Die webwerf is glo ’n eksperiment om mense te waarsku hoe gevaarlik sosiale netwerke op die internet is, het mnre. Paolo Cirio en Alessandro Ludovic, die skeppers van die afspraakwebwerf, aan Mailonline.com probeer verduidelik.
“Facebook is ’n eindelose koel plek vir soveel mense, maar dit word terselfdertyd ’n goudmyn vir identiteitsdiefstal waaroor die gebruiker nie beheer het nie.
“Dis die hele aard van Facebook en die sosiale media in die algemeen,” lui ’n verklaring op hul webwerf.
Die base van Facebook het hulle sterk teen die webwerf se misbruik van hul gebruikers se inligting uitgespreek.
Hulle het gesê hulle gaan “die nodige stappe” doen.
“Om mense se inligting te steel, is ’n skending van ons bepalings en voorwaardes.
“Ons het al voorheen sterk regstappe teen sulke maatskappye gedoen en ons sal dit in dié geval ook doen,” het mnr. Barry Schnitt, Facebook se direkteur van beleidskommunikasie, aan Wired.com gesê.
Bookmarks