Minstens 43 uit ’n groep van 189 Afrikaanse gr. 11- en gr. 12-leerlinge het al seks gehad.
Van dié 43 het 10% meer as een keer per week seks, 5% een keer in twee weke, 26% een keer ’n maand, 21% net as hulle dronk of andersins bedwelm is en 38% het nog net een keer seks gehad.
Van die 43 het 1% al seks met iemand van dieselfde geslag gehad, 1% het dit al oorweeg om geld vir seks te aanvaar, 3% het dit al oorweeg om vir seks of pornografie te betaal en 2% het al ’n ontkleeklub besoek.
So lui ’n studie wat deur Solidariteit Helpende Hand oor die verbrokkeling van Afrikaanse gesinne gedoen is.
Volgens die studie is kinders se morele waardes onder druk weens gesinsverbrokkeling.
“Die gemiddelde aantal ure wat ouers by hul kinders deurbring, het met 10 tot 12 uur per week afgeneem,” lui die studie.
“ ’n Afname in ouertoesig skep by baie kinders ’n verlatingsindroom wat verantwoordelik is vir die toename in kinderdepressie, jeugmisdaad, selfmoord en verval in morele waardes.”
38% van die deelnemers was al dronk. Van dié groep het 39% se ouers geweet hulle was dronk.
Van dié wat al dronk was, is 4% meer as een keer per week dronk, 10% een keer in twee weke, 58% is een keer ’n maand en 28% was nog net een keer dronk.
Daarby het 60% van die leerlinge al ’n waterpyp (hubbly bubbly) gerook, terwyl 12% al dagga, crack, ecstasy, kokaïen, magic mushrooms of tik gebruik het.
Een uit elke drie kinders word in ’n gebroke huis groot, lui die studie. 28% van die deelnemers se ouers is geskei. Dié getal het meer as verdubbel sedert 2002, toe ’n soortgelyke studie gedoen is. Toe was 13% van die deelnemers se ouers geskei.
Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, wat ook onlangs ’n studie oor gesinne gedoen het, word 18 miljoen kinders in Suid-Afrika sonder ’n pa groot.
Egskeiding is een van die redes wat kinders gee vir hul depressie, lui die Helpende Hand-studie. Die ander redes is dat kinders in die middel van ouers se bakleiery geplaas word en skoolwerk wat toeneem.
57% van die kinders het gesê hulle voel soms depressief, terwyl 45% al aan selfmoord gedink het, 22% selfmoord as uitweg oorweeg het en 10% al een of meer keer probeer selfmoord pleeg het.
“
Kinders leer in die raamwerk van die gesin om die morele les volgens die motivering en rede in hul daaglikse praktiese lewe te integreer.”
Bookmarks