Hallo Julle,
Iets wat my altyd opval oor hierdie soort organisasie is hoe hulle aan die een kant die Bybel se gesag bevraagteken, maar tog staatmaak op die geloofwaardigheid van die Bybel om geloofwaardigheid aan hul organisasie te verleen.
Aan die een kant word gesê, "Eerstens, is die Bybel 'n doodgewone menslike boek. Dis 'n kultuurproduk wat op 'n bepaalde plek en onder 'n bepaalde groep mense tot stand gekom het. Dit bevat geen bo-aardse openbaring nie."
Maar as mens op die voorblad van hul webtuiste kyk, sien mens die volgende, "Die webbladsy van die Nuwe Hervorming Netwerk is ’n ruimte waar mense toon hoe hulle die nuwere inligting oor die heelal, die aarde en lewe op aarde integreer met die nuwere inligting oor die Bybel, Jesus van Nasaret, die Christelike godsdiens en ander godsdienste. Kortliks gestel — dis ’n ruimte vir mense wat nie sku is om oor hulle soeke na sin te praat nie. Ons aanvaar dat ons almal pelgrims is wat besig is om ons eie lewensreis te voltooi. Pelgrims word dikwels gedwing om by ’n oase aan te doen om asem te skep, hulle dors te les en ook ’n gesprek of twee aan te knoop voordat hulle die reis voortsit. Hierdie webbladsy is bedoel om so ’n oase te wees."
Hierdie lyk vir my teenstrydig. Waarom is dit nodig om ons insigte met nuwe idees oor die bybel te integreer as die bybel maar net 'n doodgwone boek is.
As dit die geval was, kan mens sekerlik "bybel" met enige doodgewone boek vervang in die inleiding van hulle webtuiste. Maar die vraag is, wie sou 'n nuwe religie ernstig opneem as hulle inleiding lees:
"Nuwe Hervorming Netwerk is ’n ruimte waar mense toon hoe hulle die nuwere inligting oor die heelal, die aarde en lewe op aarde integreer met die nuwere inligting oor Jock of the Bushveld"
OF
"Nuwe Hervorming Netwerk is ’n ruimte waar mense toon hoe hulle die nuwere inligting oor die heelal, die aarde en lewe op aarde integreer met die nuwere inligting oor Harry Potter and the Philosopher's Stone"
Sekerlik as mens kyk na die prominente posisie wat die Bybel op die Nuwe Hervorming webtuiste beklee is die Bybel nie sommer net 'n boek nie.
Iets ander wat ek interessant vind is dat Sakkie die mens reduseer tot net 'n spesie, wat miljoene jare terug per ongeluk verskyn het, en miljoene jare vorentoe nie meer sal bestaan nie. Die probleem met hierdie soort siening is dat die enigste logiese gevolg daarvan, nihilisme is. Hoe bring mens dit inlyn met die stelling in hul lys van waardes dat, "Ons waardeer die uniekheid, eiewaarde, gelykheid en potensiaal van elke individu. Ons erken die inherente vermoë van individue om te groei en om groter hoogtes te bereik deur met mekaar saam te werk."
Waarom moet one elke individu se eiewaarde vier, as die mensdom as 'n geheel eintlik geen objektiewe waarde het nie; As die mensdom maar net 'n kosmiese ongeluk is.
Sekerlik sal Sakkie sê, "Elke mens maak sy eie lewe waardevol", maar dit sou maar net die kunsmatigheid van so 'n waarde onderstreep. As elke stukkie papier sy eie waarde kan bepaal sal elke stukkie papier sekerlik 'n R 200.00 noot wou wees, en gevolglik sou niks enige waarde hê nie.
Hierdie is myns insiens 'n onoorbrugbare probleem vir die postmoderne sekulêre wereldbeeld. "How to have your cake and eat it".
Hoe om die mens tot 'n chemiese frats te reduseer, maar tog jou menslikheid te behou.
Die sekulêre wereld se beste antwoord is, "Don't worry be happy".
http://www.humanism.org.uk/_uploads/...us-dawkins.jpg




Reply With Quote







Bookmarks