Ek lees vandag 'n artikel in die Beeld waar die skrywer bepleit dat die kerk anders moet dink oor gay wees. Om 'n lang storie kort te maak, bepleit hy dat mens nie gay mense moet oordeel nie, hulle is so gemaak en moet ons liewer vir hulle ruimte skep om hul seksualiteit uit te leef in 'n liefdevolle verhouding met een lewensmaat. Dus moet hulle soos heteroseksuele mense in 'n verhouding soortgelyk aan die huwelik moet kan deelneem.
Dit verstom my dat mense vandag so mislei is. Om te wil voorgee dat God die mens sou skep om gay te wees, terwyl een van Sy eerste opdragte was dat die mens moet vermeerder. Suiwer op grond van gevoel word 'n teorie gebou dat gay wees normaal is. Om nou ook te wil voorgee dat Jesus in stryd was met die kerkleiers en daarom is gays in stryd met die kerk is net so belaglik. Die Here het gekom om aan ons en die kerk die ware betekenis te leer van die wil van Sy vader. Ja, ons moet gays nie net verwerp nie, maar vir hulle omgee en begelei. Indien hulle egter volhard in hulle sonde is dit ons plig om hulle af te sny en die tug toe te pas. Die eer gaan nie oor die mens of die gay nie, maar oor God. Ons liefde moet eerstens vir God en Hom wees en dan vir ons medemens, nie eers ons medemens en dan God nie.
Dit maak glad nie 'n verskil of gays losbandig of in 'n vaste verhouding is nie, die verhouding is verkeerd indien dit seksueel is. Die enigste seksuele verhouding wat reg is volgens die Bybel is die in 'n huwelik tussen 'n man en vrou soos God dit bedoel het. Die feit dat tieners se hormone met hulle weghol maak dit nie reg om seksueel te verkeer nie. Indien jou ingesteldheid reg is sal jy daardeur kom sonder om seksueel aktief te raak en wag vir die regte maat wat die Here vir jou gee. Dit is iets wat nog nooit verander het nie, of jy nou straight of gay is.
Ek is regtig verstom oor die fel aanslag wat die leuen laat aanhou en aanhou totdat dit die waarheid begin word. Ek is verstom dat baie gelowiges twyfel in die standpunt van die Bybel. Ons moet met die liefde van Christus alle mense hanteer. Hy het immers gekom om die sonde op Hom te neem. Indien die mens egter geleer het wat die waarheid is en nog steeds volhard, het hy die liefde van die Here verag en kan ons nie net aangaan asof niks gebeur het nie. Deur stil te bly verag ons die Here saam met hom.
Is dit nie die probleem van ons samelewing nie? Ons doen niks en besef nie die gevolge van ons niks doen nie.
Groete
Kalahari




Reply With Quote
Bookmarks