4. Islam
Islam: Geskiedenis - (Sien Bron)
Opsomming
In hierdie artikel word die geskiedenis van Islam behandel. Daar word veral gefokus op die groei en ontwikkeling van Islam ná die dood van die profeet Mohammed. In die kassies word gekyk na die vroeë strategie van uitbreiding deur verowering, die stryd teen die Kruisvaarders en die Mongole, die Ottomaanse Ryk, die Wahhabi-hervorming, die denke van Mohammed 'Abduh en die Kalifaat. Laastens volg enkele terme en begrippe wat op hierdie artikel van toepassing is.
Islam is vandag, naas die Christendom, die grootste godsdiens op aarde met tussen 700 miljoen en 1 200 miljoen volgelinge oor die wêreld. Volgens sommige bronne is Islam tans die vinnigs-groeiende godsdiens op aarde met 'n jaarlikse groeikoers van sowat 2,9%. Hoe het hierdie relatief "jong" godsdiens daarin geslaag om meer gevestigde ou religieë soos die Boeddhisme, Hindoeïsme en Judaïsme verby te steek wat wêreldwye gewildheid betref?
Antieke wortels
Islam se ontstaan as selfstandige godsdiens is grootliks te wyte aan die boodskap en werk van die profeet Mohammed (570-632 nC) en hy word dan ook dikwels beskryf as die stigter van dié godsdiens. Moslems glo egter dat die wortels van Islam verder teruggevoer kan word - na die skepping van die heelal en die verhaal van Adam en Eva in die paradys, soos beskryf in die Judaïsties-Christelike geskrifte van die Ou Testament (Tora).
Openbaring van God se wil deur profete
Moslems glo dat, omdat die mens moreel swak is en gedurig verlei word tot sonde, Allah (God) Hom en Sy wil deur die eeue aan die mensdom openbaar het deur verskillende profete. Die profete was almal besonderse (maar gewone) mense wat die mensdom gelei en gewaarsku het om volgens Allah se wil te leef (sien "Profete van Islam" en "Jesus Christus - Allah se profeet").
Mohammed se rol
Op veertigjarige ouderdom het Mohammed, wat as weeskind in Mekka grootgeword het, 'n openbaring deur 'n visioen ontvang waarin die engel Gabriël vir hom gesê het dat hy Allah se uitverkore boodskapper aan die mensdom is.
Laaste profeet se boodskap
Die boodskap wat hy moes verkondig, is die Koran ("voordrag" of "die Woord") genoem en het later in geskrewe vorm die Heilige Skrif van Islam geword. Dit behels kortliks dat Allah (Arabies vir God) die enigste God is, dat Hy alleen waardig is om aanbid te word, dat Hy mense op die Laaste Oordeelsdag volgens hul dade sal beoordeel, en dat mense liefdadigheid teenoor armes, verdruktes en minderbevoorregtes moet bewys.
Die meeste inwoners van Mekka het Mohammed se boodskap verwerp. Hulle het selfs sy volgelinge, wat Moslems genoem is, begin vervolg. In 622 nC (die begin van die Islamitiese jaartelling) moes Mohammed en sy volgelinge na die stad Jathrib vlug. In dié stad, wat later Medina genoem is, is hy as profeet aanvaar en gevra om vrede tussen verskillende strydende partye te bewerk.
Mohammed het die geleentheid gebruik om die gemeenskap in Medina heeltemal te herorganiseer deur Islam as die grondslag van 'n soort teokratiese stelsel te implementeer. Hy was self die hoof van hierdie stelsel.
Mekka word setel van Islam
Ná 'n uitgerekte stryd tussen Medina en Mekka (wat wou hê dat Mohammed aan hulle uitgelewer moes word sodat hy doodgemaak kon word), het Medina die oorhand gekry. Mohammed het amnestie aan al die inwoners van Mekka toegestaan en aangekondig dat hy en Allah hulle hul oortredinge vergewe. Deur dié genadedaad het hy hulle omgehaal om hulle tot Islam te bekeer.
Een van die enigste voorwaardes wat Mohammed met die oorgawe van Mekka gestel het, was dat al die afgodsbeelde by die Kaäba vernietig moes word en dat die Een God, Allah, voortaan daar aanbid moes word. Mekka, wat in daardie stadium die godsdienstige setel was vir die aanbidding van verskillende heidense Arabiese afgode, het vinnig verander in die setel van Islam.
Sukses en dood van Mohammed
Mohammed was nie net 'n boodskapper van Allah nie, maar ook 'n uitstekende strateeg en diplomaat. Hy het moeite gedoen om goeie verhoudinge met die talle Arabiese stamme en volke te vestig, en hulle oorgehaal om hulle tot Islam te bekeer. Sendingbriewe en Moslem-ambassadeurs is na leiers van verskillende state en groepe gestuur.
Teen 630 nC was Mohammed die magtige leier van 'n soort Islamitiese federasie van Arabiese state en volke wat die hele Arabiese Skiereiland ingesluit het.
In 632 is die profeet op 62-jarige leeftyd ná 'n kort siekbed in Medina dood, maar die grondslag vir Islam was reeds stewig gelê.
Vroeë tydperk ná Mohammed
Stryd om leierskap
Die eerste dekades ná Mohammed se dood is enersyds gekenmerk deur die voortgesette uitbreiding van die Islamitiese Ryk, maar ook deur 'n intensiewe leierstryd in Islam. Die Kalifaat - wat gelyktydig verwys na die amp en ryk van die kalief (Islamitiese opperleier) - is tot stand gebring as die hoogste gesag in die Islamitiese Ryk.
Mohammed se oom, Aboe Bakr, het ná sy dood die leierskap van Islam oorgeneem as die eerste kalief. Aboe Bakr, sowel as 'Oemar, sy opvolger, en dié se opvolger,'Oehtman ibn Affan, is deur sluipmoordenaars om die lewe gebring.
Die sluipmoord op 'Oehtman deur Egiptiese en Irakese Moslem-soldate kort ná sy verkiesing as kalief het gelei tot die eerste Islamitiese burgeroorlog. Baie Moslems het geglo dat 'Oehtman se opvolger, Ali (wat getroud was met Mohammed se enigste oorlewende dogter, Fatima), 'n aandeel gehad het in sy dood en wou hom daarom nie as kalief aanvaar nie.
Nadat Ali sy teëstanders in 656 in die "Slag van die Kameel" verslaan het, het hy die hoofstad van Islam (kalifaat) uit Medina na Kufa in Irak verskuif. Te midde van groeiende teenkanting is Ali later gedwing om sy posisie as kalief neer te lê. Mu'awiya, goewerneur van Sirië, het hom opgevolg as die vyfde kalief.
Eerste skeurings in Islam
Nadat Ali sy posisie as kalief neergelê het, het 'n groep van sy ondersteuners van hom af weggebreek om 'n nuwe fundamentalistiese Islamitiese groep te stig wat as die Kharijiïete bekend sou staan. In 661 is Ali deur 'n lid van hierdie groep vermoor.
Sy ander volgelinge het egter steeds geglo dat Ali die regmatige kalief was en het ná sy dood ook sy seuns Hasan en Hoesein ondersteun. Van 680 tot 683 het Hoesein en sy ondersteuners probeer om Jazid I, die sesde kalief en opvolger van Moe'awija, te onttroon.
Hoewel hierdie opstand nie geslaag het nie en Hoesein self deur Jazid se magte doodgemaak is, is die dreigende skeuring in Islam hierdeur op die spits gedryf. Hoesein se volgelinge het verklaar dat net Ali se nasate (dit wil sê, mense uit die bloedlyn van Mohammed deur Ali se vrou Fatima) ware kaliefs (voortaan Imams genoem) van die Moslems kan wees. Hierdeur het die party (Shia) van Ali - wat tot vandag as die Sjiïete of Sjiïtiese Moslems bekend staan, tot stand gekom (sien artikel: "Islamitiese groepe").
Oemajjad-dinastie
Moe'awija, die vyfde kalief (661-680), het die Oemajjad-dinastie begin en daarmee die setel van Islam van Koefa in Irak (sien "Die stryd om leierskap") na Damaskus in Sirië verskuif.
Die Oemajjad-dinastie (661-750) was 'n tydperk van dinamiese groei en ontwikkeling vir Islam. Nie net is die gebied van die Islamitiese Ryk drasties vergroot nie (sien "Vroeë verspreiding van Islam"), maar leerstellings is ook verfyn en uitgebrei en op die terrein van kuns en argitektuur is meesterwerke soos die bekende "Moskee van Omar" in Jerusalem voortgebring.
Vinnige uitbreiding
Skaars twaalf jaar ná Mohammed se dood was Egipte, Sirië en Irak reeds onder Islamitiese beheer en is die eerste strooptogte ook na Libië en Persië (hedendaagse Iran) onderneem. Onder die Oemajjad-dinastie het verskeie ander lande om die Middellandse See, soos Tunisië, Algerië, Marokko, Spanje en Portugal, ook onder die aanslag van Islam geval.
In die bekende Slag van Tours naby Poitiers, Frankryk, in 732 is die Moslems se verdere uitbreiding na Europa deur die Franse Leër van koning Frans Martel gestuit. Hulle het egter steeds ooswaarts bly uitbrei en nadat Persië en Afganistan oorgeneem is, ook sentraal-Asië binnegedring en die Indus-rivier in moderne Pakistan oorgesteek. Tot met die einde van die Oemajjad-dinastie in 750, en vir die eerste deel van die Abbasidiese Dinastie, is hierdie hele gebied as 'n Islamitiese eenheid regeer.
Klassieke en Middeleeuse Islam
Abbasidiese Dinastie
In 750 nC is die Oemajjad-dinastie tot 'n einde gebring met die sluipmoord op Marwan II, die laaste kalief uit dié dinastie. Die moord was 'n gesamentlike poging van die Abbaside, 'n Arabiese stam wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die nageslag was van el-Abbas, 'n oom van Mohammed, en die Sjiïete.
Hiermee is die Abbasidiese Dinastie ingelui, wat vir byna vyfhonderd jaar (750-1258) die regeerders van Islam sou wees. Die setel (kalifaat) van Islam is na Bagdad (hedendaagse Irak) verskuif en klem is gelê op die geestelike outoriteit van die kalief as die "skaduwee van Allah op aarde".
Kulturele vooruitgang
Die grootste prestasie van die Abbaside was waarskynlik die verdere ontwikkeling en vestiging van die Islamitiese kultuur. Die klem het geval op geleerdheid en intellektuele ontwikkeling. Islam is byvoorbeeld in dié tyd verryk deur die suksesvolle vermenging van die Islamitiese godsdiens en elemente van die Persiese kultuur, sowel as invloede uit die Griekse filosofie.
Nog 'n belangrike prestasie van die Abbasiede was uitbreiding en uiteensetting van die Islamitiese Wet, die Shari'a, wat die grondslag vorm van die Islamitiese sosiale stelsel (sien "Die Islamitiese regstelsel").
Verbrokkeling van die Islamitiese Ryk
Ná die eerste tweehonderd jaar van die Abbasidiese Dinastie het die Islamitiese Ryk die eerste tekens van agteruitgang begin wys. Die een Islamitiese provinsie ná die ander het hul onafhanklikheid verklaar en selfregerende Moslem-koninkryke gevorm. Van dié koninkryke sluit in die Aglabid-dinastie (800-909) in Tunisië, die Carmarthiane (894-1100) in sentraal-Arabië, die Fatimied-dinastie (909-1171) van Egipte, die Turkse Ghaznavide (977-1186) en die Almohade-dinastie van Marokko en Spanje.
In Bagdad, steeds die hart van die Islamitiese Ryk, is verskeie kaliefs se regerings deur militêre staatsgrepe omvergewerp, sodat die meeste kaliefs ná die elfde eeu in wese marionette van die Islamitiese leër was. Die situasie in Bagdad het verder versleg nadat die militêre Sjiïtiese Boejied-dinastie (945-1055) as 'n soort opposisie-regering tot stand gebring is. Die Boejiede is later vervang deur 'n Turkse dinastie, bekend as die Seljukke , wat vir sowat 150 jaar namens die Abbasidiese kalif die politieke en militêre gesag in die Islamitiese Ryk behartig het.
Islam in die Moderne Wêreld
In die tydperk net ná die Middeleeue het Islam 'n relatief stil tydperk betree, hoewel dit steeds die godsdiens was van miljoene mense in die Ottomaanse Ryk en elders. Teen die agttiende eeu het verskeie Islamitiese hervormingsbewegings na vore getree wat veral gemik was op sosiale en morele hervorming en die suiwering van Islam.
Islam en kolonialisme
In die negentiende eeu was die skrif duidelik aan die muur vir die Ottomaanse Ryk en het die een Islamitiese gebied ná die ander onder beheer van die Europese koloniale moondhede gekom. In 1847 het Frankryk die beheer oor Algerië oorgeneem en in 1881 oor Tunisië.
In 1882 het Brittanje Egipte beset en 'n dekade later ook die Soedan geregeer. Rusland het sy beheer uitgebrei oor groot Islamitiese dele van sentraal-Asië en in die verre-Ooste het Holland sy greep verstewig op Indonesië, wat in die elfde eeu Islamities geword het.
Die reaksie van Moslems op kolonialisme het gewissel van passiewe weerstand tot gewapende verset. Moslem-fundamentaliste in Arabië en Indië het meer aktief geraak in hul aanvalle op afgewaterde vorme van Islam. Liberale of progressiewe Moslem-denkers het weer probeer om Islam met die moderne wêreld te versoen. Hierdie twee uiteenlopende denkrigtings - fundamentalisme en modernisme - is vandag steeds baie prominent in Islam.
Nog 'n hedendaagse kenmerk van Islam wat tydens die koloniale era momentum gekry het, is pan-Islamisme. Hierdie wêreldwye eenheidstrewe onder Moslems was in sekere mate die uitvloeisel van Arabiese nasionalisme wat sy oorsprong gehad het in die ou Islamitiese Ryk en daarna voortgesit is tydens die Ottomaanse Ryk.
Moslem-Broederskap in Egipte
Die Moslem-Broederskap is 'n fundamentalistiese beweging wat aanvanklik deur Hasana el-Banna (1906-1949) gestig is om nasionalisme op alle vlakke in Egipte te bevorder. Dié beweging het egter mettertyd op die voorpunt getree in die bevordering van pan-Islamisme.
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het die Moslem-Broederskap reeds sowat miljoen lede gehad. Sy doelwitte is deur konferensies, prediking en publikasies bevorder. Lede is ook in die geheim opgelei in revolusionêre oorlogvoering.
Met die aanloop tot die stigting van die staat Israel in 1948 het baie Moslem-Broeders teen die Jode geveg, maar in die volgende jaar is die beweging in Egipte verbied nadat sy lede die Egiptiese polisiehoof en eerste minister vermoor het. Die Broederskap het egter bly voortbestaan en in 1981 was ekstremiste uit die beweging ook verantwoordelik vir die sluipmoord op Anwar Sadat, die Egiptiese premier wat vrede met Israel voorgestaan het.
Die Moslem-Broederskap is vandag steeds in verskeie Arabiese lande aktief besig met die bevordering van pan-Islamitiese ideale. Verskeie moorde en sluipmoorde op Westerlinge wat na hul mening 'n bedreiging vir Islam is, sowel as Moslems wat hulle as "verraaiers" beskou, word van tyd tot tyd aan die Broederskap toegedig.
Sekulêre oplossing in Turkye
In Turkye was die stigting van 'n moderne, byna Westerse sekulêre staat, waar Islam nie meer die amptelike godsdiens was nie, die reaksie op kolonialisme. Onder leiding van Mustafa Kemal, wat homself Kemal Atatürk genoem het (1881-1938), is die Republiek van Turkye in 1923 tot stand gebring.
Tot die onsteltenis van baie Moslems elders is 'n grondwet in die Westerse styl geïmplementeer, Islamitiese skole vervang deur 'n sekulêre opvoedingstelsel, die Islamitiese Wet (Shari'a) vervang deur 'n siviele regstelsel, godsdienstige ampsdraers se tradisionele drag verbied, poligamie verbied, vroue aangemoedig om nie meer sluiers te dra nie en die Arabiese skrif met Romeinse skrif vervang.
Turkye is hierdeur in 'n byna Europese land omskep - 'n voorbeeld wat ook later in Iran deur Reza Khan gevolg is. Islam het nogtans die godsdiens van die meerderheid gebly en teen 1995 was sowat 99% van die 61 miljoen Turke steeds Moslems.
Fundamentalisme in Iran
Iran (antieke Persië) was sedert die sestiende eeu een van die setels van die Sjiïsme. Dié vorm van Islam was die amptelike godsdiens van die meerderheid Iranese tot Reza Khan in 1921 die regering deur 'n staatsgreep oorgeneem het. Reza Khan, wat homself tot sjah (keiser) verklaar het, het 'n beleid soortgelyk aan dié van Kemal Atatürk in Turkye toegepas deur Iran in 'n sekulêre, byna Westerse, staat te omskep.
Mohammed Reza het sy vader opgevolg as sjah van Iran en die modernisering van die land voortgesit. In 1979 het Sjiïtiese fundamentaliste, bygestaan deur kommuniste en Islamitiese Sosialiste, die Sjah se regering egter deur 'n revolusie omvergewerp in 'n reaksie op sy beleid van modernisering.
'n Teokratiese staat onder Ajatolla Ruhollah Khomeini (1900-1989) se Shi'a-beweging is in die lewe geroep. Die staatsvorm wat Khomeini ingestel het, was uniek - 'n Islamitiese republiek waar die Islamitiese Wet en onderrigstelsel gekombineer word met 'n grondwet wat landsburgers se regte beskerm en 'n demokraties-verkose parlement. Hoewel die Iraanse Revolusie in die Weste meestal negatief ontvang is, het dit Moslems wêreldwyd opnuut hoop gegee vir die vervulling van hul eie godsdienstig-politieke doelwitte.
Afsluiting
In die tweede helfte van die twintigste eeu het verskeie Islamitiese state tot stand gekom waar daar meestal teruggekeer is na fundamentele vorme van die godsdiens. In Europa en die VSA beleef 'n meer liberale vorm van die godsdiens tans 'n bloeitydperk. Die grootste uitdaging waarvoor Islam in die 21ste eeu staan, is om eenheid, balans en geloofwaardigheid te bereik en te handhaaf te midde van ongeëwenaarde tegnologiese vooruitgang en dinamiese veranderings in politieke en humanistiese denke.
vervolg...
Bookmarks