Die kreatiewe Bybelonderwyser se Induktiewe Studiemetode
Met die woord ‘indikatief’ word bedoel dat daar beweeg van al die spesifieke detail
na die algemene beginsel, of soos Robinson (2001: 33) dit stel: “the big idea”.
Dus, uit al die feite en inligting wat bestudeer word, moet by die telos, die doel
van die spesifieke Skrifgedeelte uitgekom word.
a. Waarneming: wat staan daar geskrywe?
In die eerste stap moet bepaal word wat die skrywer oorspronklik gesê het vir die
mense wat dit die eerste keer gelees het. Daar moet dus teruggegaan word in
die verlede. Die volgende vrae is behulpsaam in hierdie soeke:
a. Konteksvrae:
1. Wie is die skrywer of spreker ? 2. Waarom is die boek geskryf ? 3. Wat is die
historiese agtergrond? 4. Waar was dit geskryf?
b. Struktuele vrae:
1. Watter woorde/frases word herhaal? 2. Vergelykings en kontraste? 3. Watter
vrae word gestel en watter word beantwoord? 4. Enige oorsaak en gevolg
verhoudings? 5. Progressie en oorgang in die teks? 6. Klimaks van die teks?
7. Enige stylfigure wat gebruik word? 8. Enige sentrale gesegdes of woorde?
9. Watter voegwoorde word gebruik wat belangrik is? 10. Watter werkwoorde
word gebruik?
b. Verklaring: wat beteken dit?
Die Skrif kan verskillende toepassings hê maar slegs een ware verklaring. Die
volgende reëls moet in ag geneem word: 1. die Skrif moet deur die Skrif verklaar
word, want daar is ‘n eenheid in die boodskap van die Skrif. 2. die teks moet
binne sy konteks verklaar word. 3. die letterlike betekenis moet gevolg word,
d.w.s. die grammaties-historiese metode, wat beteken dat elke vers of Skrifdeel
moet volgens sy literatuursoort waarbinne dit voorkom verklaar word (bv.
geskiedenis, poësie, wysheidsliteratuur, ens).
c. Veralgemening: wat is die hoofgedagte?
Alle effektiewe kommunikasie is afhanklik van een groot idee oftewel die telos
(doel) van die teks. Die res van die kommunikasie is ‘n uitbreiding op daardie
hoofgedagte wat dit begrond, verduidelik of anders verwoord. Elke woord, frase,
sin, paragraaf, ens. bou op tot daar een groot idee of beginsel. Al die studie moet
dus daarop gemik wees om uit te vind wat die “Gees vir die gemeente” wil sê
deur ‘n bepaalde teks of gedeelte.
d. Toepassing: watter verskil maak dit?
Totius stel die belangrikheid van toepassing as volg: “Getroue uiteensetting van
die Skrifgedagte wil nie sê dat daar geen toepassing moet wees nie. Calvyn leer
ons dit reeds anders. Prof. Viguié het van hom gesê: ‘Uit die mees wysgerige teks
kan hy nog ‘n lering put. Hy is die man van die toepassing ! Sy preek is geheel
en al toepassing.’ So is dit. By Calvyn is daar net een tree tussen sy teks en die
werklike lewe. ‘n Student kan by hom die kuns afkyk om toepassings te maak”
(Venter, 1977: 221).
Om korrekte toepassings te maak, moet die volgende riglyne gevolg word:
1. Verklaring moet toepassing voorafgaan.
2. Toepassing fokus op Bybelse antwoorde vir algemene kwessies van vandag.
3. Die Bybel moet toegepas word soos God dit bedoel het (2 Tim.3:15-17).
Vervolgens kan die volgende vrae ook gevra word met die oog op die toepassing:
- Is hier ‘n lering wat geglo en gedoen moet word?
- Is hier ‘n waarskuwing wat gehoor en gehoorsaam moet word?
- Is daar iets wat verander moet word in my lewe ?
- Wat leer die teks ons oor hoe om regverdig te lewe?
e. Implementering: wat moet ek verander?
By die laaste stap raak die toepassing baie individueel van aard en kan nie vir
almal wat dit lees en aanhoor dieselfde noodwendig wees nie. Die Bybel moet nie
net gesien word as blote inligting nie maar ‘n Boodskap wat ons lewens radikaal
verander. Selfondersoek in die lig van die Skrif (Ps.1) is hier baie belangrik:
elkeen moet homself afvra waar en hoe hy moet verander?
Ten einde is die doel van die Skrifstudie om te groei in heiligmaking en
godsaligheid, tot eer van God. Dit is wat die Skrif ons dan ook duidelik leer:
11 WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer
ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en
regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons die
salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God
en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te
verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig,
ywerig in goeie werke. 15 Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle
erns. Laat niemand jou verag nie. – Titus 2
Slot
Dit is wesentlik belangrik dat elke gelowige die Skrif nie net sal ken en liefhê nie,
maar dit ook reg gebruik. Bybelstudie moet geskied in ‘n gees van liefde vir
Christus sodat die waarheid geleer en toepas word op elke terrein van die lewe.
Daarom geld die oproep en waarskuwing wat Paulus vir Timoteus gee, net so ook
vir ons vandag:
16 Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy
jouself red sowel as die wat jou hoor. – 1 Tim.4.
Bookmarks