Ek het op hierdie artikel afgekom en ek het maar 'n beperkte kennis van die onderwerp en wil ook nie eers in 'n debat betrokke raak nie. Die punt wat ek wil uitlig in die artikel is dat BAIE min christinne enige kennis het van profesiee of die eindtyd, en dit juis omdat hulle dit nie in hul gemeentes hoor nie, en ek dink dit geld seker vir alle denominasies. Dit is ook miskien die rede hoekom daar so baie koppe gestamp word juis oor hierdie onderwerp, veral omdat Israel (volgens my) omtrent in die middel van alle eindtyd profesiee staan.
Waarom Calvinistiese Kerke nie die Profesieë Verkondig nie
Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2012)
Daar is geweldige veranderings en grootskaalse verval in die wêreld aan die gang, en baie van hierdie verskynsels is die vervulling van tekens van die tye wat in die Bybel voorspel is. In verskeie kerke word daar egter nie ’n woord oor hierdie tendense gerep nie en hulle laat nooit die soeklig op eindtydse profesieë in die Bybel val nie. By nadere ondersoek blyk dit dat hierdie gebrek nie net die gevolg van onkunde is nie, maar van ’n foutiewe teologiese oriëntasie in veral Calvinistiese (gereformeerde) kerke. Hierdie probleem is dus diepliggend en kan nie reggestel word deur bloot aan ’n predikant ’n goeie boek oor die eindtyd te gee sodat hy dit kan begin verkondig nie.
Calvyn het verkeerdelik die idee by Augustinus oorgeneem, naamlik dat die koninkryksfase nie eers ná Christus se wederkoms volg soos wat die Bybel sê nie, maar tussen sy eerste en tweede koms verloop en dus met die kerkbedeling saamval. Augustinus word ook in die Rooms-Katolieke Kerk as een van die belangrikste kerkvaders erken. Die gevolg van sy siening oor die koninkryk, soos onder andere vervat in sy boek, De Civitate Dei, is dat sy volgelinge dit as regverdiging gebruik het vir die formulering van die koninkryksteologie. Dit het die kerk toegelaat om regeringsmagte te verkry, en selfs ook die reg om ketters tereg te stel. Gedurende die Middeleeue het die Vatikaan inderdaad ’n weermag gehad en andersdenkendes summier om die lewe gebring. Calvinistiese kerke het ook hewige vervolging ingestel teen mense wat nie by hulle staatskerke wou aansluit nie, en Calvyn self (as aanklaer wat met die siviele howe saamgewerk het) was vir die teregstelling van ten minste 53 gelowiges verantwoordelik wat teologies van hom verskil het en gevolglik as ketters aangekla en veroordeel is.
Vir meer inligting oor die donker sy van Calvyn, Google bloot die woorde “Calvin refuted”, “John Calvin’s persecution”, of “Michael Servetus”. U kan ook die volgende webblad besoek: www.evangelicaloutreach.org/ashes.htm
Gedurende die groot herlewings van die 18de en 19de eeue het verskeie van die Calvinistiese kerke (ook die gereformeerde kerke) egter meer evangelies en dus minder Calvinisties geraak, en in ’n stadium was baie van hulle slegs eenpunt-Calviniste. Vir meer inligting oor hierdie en verwante aspekte van Calvinisme, lees ons artikel: “Calvinisme uit die Bybel Weerlê”, op Bible Guidance se webblad by: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Davehunt.htm
Wat die valse koninkryksvisie betref, moet die teologiese gevolge daarvan in ag geneem word. Dié kerke wat nie glo dat Christus se vrederyk eers tydens sy wederkoms ingestel gaan word nie (vgl. Op. 11:15), glo verkeerdelik dat die kerk bemagtig is om die koninkryk van God fisies tydens die huidige bedeling in te stel. Hulle is dus behep met die idee dat die kerk die wêreld gaan oorneem en daaroor regeer. Hierdie siening bring hulle totaal in botsing met Bybelse profesieë wat onteenseglik aandui dat daar in die eindtyd grootskaalse verval van die waarheid af sal wees, dat evangeliese kerke vervolg sal word en selfs gedwing sal word om “ondergronds” te gaan, en dat net die valse kerke wat met die Antichris saamwerk, sal floreer en op sy rug sal ry. Dit sal op ’n totaal antichristelike nuwe wêreldorde uitloop, waarin die Antichris vir sewe jaar lank oor die wêreld sal regeer. Openbaring 13:7 sê: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.”
Hierdie donker uiteinde van die kerkbedeling is vir koninkryksteoloë totaal onaanvaarbaar, daarom vergeestelik hulle Bybelse profesieë of verklaar dit histories. Hulle beweer dat Nero die Antichris was, en dat al die donker profesieë oor die eindtyd in die eerste eeu n.C. vervul is toe Jerusalem verwoes en Israel internasionaal verstrooi is. Hulle aanvaar nie die letterlike vertolking van eindtydse profesieë wat verwys na groot afvalligheid, die herstel van Israel in hulle land, die wegvoering van die ware kerk, die opkoms van die Antichris as wêreldleier, die sewe jaar van die verdrukking, en ook die aanloop na die Derde Wêreldoorlog wat tydens Christus se wederkoms na die slag van Armageddon sal lei nie. Dit is vir koninkryksteoloë ’n harde en onaanvaarbare boodskap dat daar niks gaan kom van hulle mensgemaakte koninkryk nie, daarom verwerp hulle so ’n scenario. Hulle sê dat ’n God van liefde nie die mensdom sal oordeel nie.
Soos wat ons die eindtyd dieper ingaan, raak Calvinistiese kerke wat in ’n stadium meer evangelies was, nou weer al hoe meer Calvinisties. Dit lei hulle op ’n pad van teologiese verval terug na hiper-Calvinisme (kyk artikel: Die Verwerping van Christelike Leerstellings: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Kerkverval1.htm).
Daar is nie ’n maklike “regruk-aksie” vir vervalle kerke nie. Die totale kerkgeskiedenis lewer bewys daarvan dat nog nie een gedeformeerde kerk van binne af gereformeer het nie. Alle aksies van reformasie het daaruit bestaan dat ontevrede lidmate uit vervalle kerke uitgestap en met nuwe, evangeliese kerke begin het. Wanneer hierdie nuwe kerke mettertyd self verval, herhaal die proses homself en moet evangeliese Christene maar weer ’n nuwe tuiste vir aanbidding soek.
Ek noem ’n voorbeeld van hierdie proses van aanhoudende reformasie (“semper reformada”). In Engeland het die Anglikane van die Rooms-Katolieke afgestig. Later het die Metodiste van die Anglikane afgestig kort na John Wesley se intensiewe evangelisasieveldtogte op baie plekke. Daarna het die Metodiste ook verval en uiteindelik in die ekumeniese Wêreldraad van Kerke beland. Die Kerk van die Nasarener en die Wesleyaanse Kerk het toe van hulle afgestig. Die proses van afstigting gaan nog steeds aan, daarom is daar min hoop vir gevestigde, vervalle kerke om self te reformeer. Die verval kom gewoonlik van bo af, van die geestelike leiers af, en hulle is nie oop vir oortuiging deur persone wat deur hulle as leke beskou word nie. Evangeliese Christene is nog altyd gedwing om groener weivelde te gaan soek, en volgens alle aanduidings gaan die situasie nie nou verander nie.
Addendum: ’n Uitdaging aan Predikante en Kerke
Onderstaande boodskap is op 29 Januarie 2012 deur ’n bekende Messiaanse Jood, Joel Rosenberg, op ’n predikante-konferensie in Jacksonville, VSA, gebring. Die absolute belangrikheid van die verkondiging van Bybelse profesieë word hierin beklemtoon, en pertinente vrae aan predikante gevra oor die wyse waarop hulle dié verantwoordelikheid nakom:
THE HANDWRITING ON THE WALL: Lessons from Daniel chapter 5 on the future of America and the coming war in the Middle East
Joel C. Rosenberg: Jacksonville Pastors Conference, January 29, 2012
For the full, original text, visit: http://flashtrafficblog.wordpress.com/author/joelcrosenberg/
of
http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Kerkstagnasie.htm
Lees meer op skakels voorsien






Reply With Quote




Bookmarks