God se beheer is ons behoud
Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus.
(1Kor 7:22)
God se beheer is iets wat baie mense nie van hou nie, inteendeel, mense verag dit, want hulle dink dit neem hulle vryheid weg. Die mens wil vry wees en inherent wil geen mens gebind wees nie. Miskien is dit omdat mense nie Sy beheer verstaan nie, dat hulle selfs vry buite God wil wees ook. Jy moet werklik bereid wees om Sy robot te wees, sodat jy vry kan word. Jy word egter nooit ‘n robot in Hom nie, maar kry eers jou werklike identiteit wanneer jy jouself moet verloën, en soos Christus word - Hy moet meer word, maar ek minder
(Joh 3:30). Dit is eintlik ‘n oksimoron (teengestelde begrippe), wanneer mens ‘n slaaf word, om vry te wees. Net so as jy eers moet sterf, om te kan lewe
(1Kor 15:31; Gal 2:20) en swak moet word, om sterk te wees
(2Kor 12:10). Die self moet totaal verloën word om Christus se volg
(Luk 9:23) en jy moet werklik deur God beheer word, om vry te wees
(Filp 2:13). Dit is dan ook die dwaasheid van die kruis, wat sondaars red
(1Kor 1:18). By die Here werk dinge anders as wat ons op die oppervlak lees en Jesus het spesifiek in gelykenisse gespreek, sodat Sy beheer nie ons soewereine domein word nie
(Mat 13:13-14). Kyk maar wat die mens se vryheid vermag het in die modernistiese era van die wetenskap, met iets soos evolusie wat God se beheer as soewereine Skepper minag.
Die Bybel het geen ander boodskap nie en die geskiedenis bewys hierdie waarheid, toe ‘n man wat God se beheer ten koste van die mens se sogenaamde vryheid weer eerste gestel het, ‘n beweging in die geestes-wêreld veroorsaak het, wat ons vandag as die Reformasie ken. Hierdie man se grootste werk was,
‘The Bondage of the Will’ en sy naam was Martin Luther. Dit het uit en uit daaroor gehandel dat die mens nie vry kan handel soos o.a. geleer was in die Roomse Kerk nie (wat juis mense gevange geneem het), maar vry gemaak moet word, want sonde heers oor die mens totdat God jou vry kom maak.
Ons het Sy beheer nodiger, as wat ons self wil erken en hoe gouer ons besef, dat Hy die aktiewe vennoot in ons verhouding is en ons die reaktiewe vennoot, hoe vinniger sal ons binne Sy wil leef. Sy wil is nie moeilik om te verstaan nie, dit gaan oor oop en toe deure. Ons kan nie self die deur oopmaak… en dink dit sal oopbly nie, maar as Hy die deur oopmaak, maak niemand dit toe nie
(Open 3:7)! Ons redding is ook nie uit onsself nie, maar uit Hom en tot Hom en deur Hom is ALLE dinge
(Rom 11:36). Dit is nie wat onsself moet doen om gered te word nie
(Joh 1:13, Efe 2:8, 9), maar wat ons moet erken, Hy alleen doen en slegs dan sal ons spontaan in Sy genade vloei, sonder inspanning, sonder die ‘eie ek’ wat juis nie moet lewe nie, want dan is jy in die pad van die Almagtige Here wat soewerein werk (Rom 8:28-30)!
Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?
(Jes 40:13-14)
Bookmarks