
Originally Posted by
Esme'
Ek het daardie wintersdag besef, wat ek ookal as klein dogtertjie gesien het, NIE my verbeelding kon wees nie, want hoe op aarde sal 'n wildvreemdeling daarvan weet? Ek kon nog nerens enige antwoorde kry wat sinmaak nie. Ek het al so gehoop ek kan weer 'iets' sien, want as volwassene van 31 sal ek nou kan onderskei tussen werklik en onwerklik, maar niks, nooit ooit weer enige iets wat my kon verseker wat daardie dag gebeur het nie.
Hallo Esme,
Ek het met groot belangstelling gesit en lees wat jy vertel het en spontaan het 'n Bybelse verhaal opgekom, wat ek graag wil deel en wat ek glo soortgelyke raakpunte het. Die Bybel moes ek leer, het werklik al die antwoorde gehad vir vrae in my eie lewe en baie antwoorde het ek jare en jare later eers gekry, want mens kry dit nie altyd onmiddelik nie. Ek glo dit is dieselfde met ons almal en hopenlik help my plasing jou so bietjie. Lees gerus hierdie deel...,
En Saul sê aan sy dienaars: Soek julle vir my ‘n vrou wat ‘n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg. En sy dienaars sê vir hom: Daar is ‘n vrou, ‘n dodebesweerster, in Endor. Daarop het Saul hom onkenbaar gemaak en ander klere aangetrek en weggegaan, hy en twee manne saam met hom. En toe hulle in die nag by die vrou aankom, sê hy: Voorspel tog vir my deur die gees van ‘n afgestorwene en laat vir my opkom die een wat ek jou sal noem. Maar die vrou sê vir hom: Jy weet tog self wat Saul gedoen het; hoe hy die dodebesweerders en waarsêers uit die land uitgeroei het. Waarom stel jy dan ‘n val vir my op om my dood te maak? Toe sweer Saul vir haar by die HERE en sê: So waar as die HERE leef, geen straf sal jou ter wille hiervan tref nie! En die vrou vra: Wie moet ek vir jou laat opkom? En hy sê: Laat Samuel vir my opkom. Maar toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hardop, en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self. En die koning antwoord haar: Wees nie bevrees nie; maar wat sien jy? En die vrou sê vir Saul: Ek sien ‘n bonatuurlike wese uit die aarde opkom. Hy vra haar toe: Hoe is sy voorkoms? En sy antwoord: ‘n Ou man kom op met ‘n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer. En Samuel sê vir Saul: Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen. En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het? Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee. En Saul het plotseling in sy volle lengte op die grond geval en baie bevrees geword deur die woorde van Samuel; buitendien was daar geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen brood geëet nie. Daarop gaan die vrou na Saul; en toe sy sien dat hy baie verskrik was, sê sy vir hom: Kyk, u dienares het na u geluister en my lewe gewaag en na u woorde geluister wat u tot my gespreek het. En nou moet u self tog luister na u dienares, en laat ek u ‘n stukkie brood voorsit, en eet, dat daar krag in u kan wees as u verder gaan. Maar hy het geweier en gesê: Ek wil nie eet nie. Maar toe sy dienaars en die vrou ook by hom aandring, het hy na hulle geluister en opgestaan van die grond af en op die bed gaan sit. En die vrou het ‘n kalf in die stal by die huis gehad en dit gou geslag, en sy het meel geneem en geknie en daar ongesuurde koeke van gebak. Toe het sy dit aangebring voor Saul en voor sy dienaars, en hulle het geëet en opgestaan en dieselfde nag weggegaan.
(1Sam 28:7-25)
Die heks van Endor het 'n bose gees opgeroep, wat die vorm van Samuel aangeneem het. Vir Saul was dit Samuel en hierdie Samuel het selfs ware dinge kwyt geraak oor Saul se weë voor die Here. Die vraag is, hoe weet mens dit is 'n bose gees en nie Samuel self nie? Jesus het 'n gelykenis vertel en in die ware sin was hierdie nie 'n gelykenis nie, maar werklike gebeure, omdat dit die enigste gelykenis is waar name van werklike persone gebruik is...,
En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.
(Luk 16:27-31)
Gaan lees miskien die hele gelykenis in Lukas 16, maar in kort is net die deel aangehaal waar die ryk man wou gehad het dat iemand sy broers moes gaan waarsku en Abraham duidelik gesê het, hulle het Bybels (Moses en die Profete) en as hulle nie glo wat daar staan nie, dan glo hulle net eenvoudig nie die volle waarheid nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan (wat nie kan gebeur nie, want dan ontken God die krag van Sy eie Lewende Woord, wat net 'n bevestiging is vir hoe kosbaar en waar en getrou en ongelooflik dit is om die Bybel ten volle te glo). Saul het toegang gehad tot God en tog gaan hy na die heks van Endor, wat ‘n dodebesweerster is, om haar te raadpleeg en sy roep iemand uit die dood uit op, terwyl Jesus self in Lukas 16 sê, niemand uit die anderkant kan met ons kom gesels nie, want ons het Bybels. Paulus was byvoorbeeld weggeruk na die 3de hemel of paradys en mens lees...,
Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.
(2Kor 12:2-4)
Paulus kon niks kom oordra wat hy daar in die hemel gesien het nie, want mens kan dit nie uitspreek nie, sê hy. Om dit prakties te verstaan, moet mens miskien na 'n persoon kyk wat blind gebore word op aarde en stel jou voor jy moet aan 'n blinde persoon die kleur blou, geel of rooi verduidelik. Jy sal dit nie kan uitspreek nie, want hy is blind en het dit nog nooit gesien nie. So is die hemelse werklikhede vir ons, ons is blind en Paulus kan dit nie aan ons verduidelik nie. As iemand uit die anderkant begin detail gee, is dit nie die Here nie, maar engele van die lig en hierdie engele is niks anders as demone nie, wat vriendelike beelde uitdra en eintlik net daar is om te mislei. Daar is baie boeke beskikbaar vandag oor mense wat die werklikhede van die hemel en hel gesien en kom verduidelik in detail. Die probleem is, dat as mens hierdie mense moet glo, dan water mens die krag en volledigheid van God se Woord af en leef Hy nie in ons, soos die Bybel ten doel het dit moet wees nie. Ons behoud is die Ou Testament, die Nuwe Testament en die Gees van God, want hierdie drie is eenstemmig en getuig op die aarde, nie mense se visioene en persoonlike ervarings en boeke wat hulle skryf nie (1Joh 5:8). Mens kan seker 'n boek skryf oor wat die Gees en die twee Testamente van die Bybel getuig, maar openbarings buite hierdie reeds geopenbaarde inligting, is nie Bybels nie (Open 22:18-19).
In jou eie geval sê dit nie dat jou oupa ongered is of was nie, maar dat 'n engel van die lig aan jou verskyn het in die vorm van jou oupa. Samuel is 'n man van God gewees en tog het hierdie heks van Endor hom opgeroep. Die persoon wat julle gaan sien het, kan weens dieselfde rede hoekom mens nie die heks van Endor kan vertrou nie, ook nie vertrou word nie. Die volgorde van gebeure was net anders by jou, maar dit is presies dieselfde beginsel. Ek het self al 'n demoon gesien wat in die vorm van 'n leeu-mannetjie my wou kom verskrik het en moes leer dat hulle eintlik geen krag oor mens het nie, al was dit ook in so verskiklike beeld. In die geesteswêreld is die demone net so werklikheid soos God self en hulle het baie kennis oor ons en weet alles van ons af. Dit is nie vreemd dat jy dit ervaar het nie en eintlik is jy gelukkig om daarmee gekonfronteer te word, want jy kan dit eerstehands getuig en ek glo die Here doen sulke dinge, omdat Hy jou iewers gaan gebruik met hierdie inligting wat jy self die beste kan verstaan. Gaan kyk weer wat staan in Efe 6, oor ons stryd in die lewe, dit is nie teen vlees en bloed nie, maar teen bose geeste ensovoorts.
Bookmarks