Meer verlaat kerke
2012-08-12 20:48
Neels Jackson
Die verlies aan godsdienstigheid onder Suid-Afrikaners is nie ’n verrassing nie, maar die omvang daarvan is wel skokkend.
So het prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, gister gereageer op die nuutste peiling van die Win-Galup International Religiosity and Atheism Index.
Daarvolgens het die aantal Suid-Afrikaners wat godsdienstig is, van 2005 tot 2012 geval van 83% van die bevolking tot 64%.
Dié daling van 19 persentasiepunte word net oortref deur dalings in Viëtnam (23%), Ierland (22%), Switserland en Frankryk (21% elk).
Niemandt sê die tendens bevestig die vermoede van groeiende sekularisasie.
Hy meen kerke moet diep vrae aan hulself stel. Hulle moet die geweldige kragte van die verbruikerskultuur beter verstaan en ’n alternatiewe leefstyl aan hul mense bied.
Dr. Wim Dreyer van die Hervormde Kerk se Sentrum vir Missionale Bediening sê dis nie ’n nuwe tendens nie. Dit kom al sedert die dae dat Galileo en Darwin vir denkskuiwe gesorg het wat mense laat vra het waar God inpas.
Kerke moet nou vra of daar weer so ’n denkskuif aan die gang is. Hy verwys na die opkoms van postmodernisme en die verlies van ’n waarheidsbegrip wat mense die geloof laat bevraagteken.
Volgens hom is daar tog hoop vir die kerke. Daar is plekke waar mense by die egtheid van die geloof uitkom waar dit weer groei.
Dit is waar mense verby die verbruikerskultuur kyk en herontdek wat dit beteken om ’n egte dissipel van Jesus te wees.
Geloof self is nie die groot probleem nie, sê Dreyer. Die probleem is om dit sinvol te kommunikeer in veranderende omstandighede.
Niemandt sê mense stel deesdae minder belang in dogma en meer in ervaring van God.
Kerke is egter nog op dogma ingestel.
Hy meen kerke moet skuif van ’n benadering waar dit van mense verwag word om eers te bely, dan om tot ’n kerk te behoort en dan om hul geloof in God te ervaar, na ’n omgekeerde volgorde waarin die ervaring met God eerste kom, die behoort tweede en die bely eers daarna.
Bookmarks