Hier is 'n paar idees waarmee ekself worstel...
Ek sal graag 'n persoonlike getuienis wil lewer, oor hierdie verskille tussen meesal, spesefiek Afrikaners, Gereformeerdes en Charismate of Pinkster. Dit is iets wat met myself gebeur het, soos wat ek blootgestel was aan die verskillende denkwyses binne spesifiek hoofstroom Protestantisme en BibleDatabase het bepaald baie daarmee te doen. Buite hierdie veld gaan mens kompromieë aan en kan mens nie verskille te gering ag nie. Dan is daar nog die Baptiste wat oorvleuel met beide hierdie denkwyses en 'n klein faksie in die IV/IW denkwyse asook 'n denkwyse soos die Adventiste sou ek graag reken. Uitgesluit soos ek dit sien is byvoorbeeld Jehova Getuies, Isrealvisie/-waarheid in die breë gesien, Rooms Katolisisme, ZCC en enige ekstreme denkwyse, wat in een of ander -isme vasgevang is, ongeag die -isme, selfs binne Protestantisme. Help gerus as my definisie nie volledig is nie.
Ek is oortuig daarvan dat meeste verskille tussen hierdie groeperinge binne die hoofstroom Protestantisme, misverstande is, let wel meeste, nie noodwendig almal nie. Vêrder is dit bloot my eie nietige waarneming wat uiteraard ook ontbreek aan die volheid, wat ons almal na soek, die volle waarheid in Christus is.
Ondersoek mens byvoorbeeld die doop, dan is die slotsom soos ekself dit gevind het, verbasend vêr van dit wat ons vleeslik kan doen. Hier is net 'n voorbeeld. In Hebreërs 6 vers 2 staan daar byvoorbeeld in die Ou Afrikaanse Vertaling (wat ek verkies, maar ek lees die ander ook), "van die leer van die doop". In die Griekse taal word daar verwys na dope (Baptismos, Strongs 909), die korrekte vertaling behoort te wees, "van die leer van die dope" of "die verskillende vorms van die doop", soos die Nuwe Lewende Vertaling dit stel.
Met dit ingedagte dat ons hier met 'n leer te doen het, wat van meer as een soort doop praat, moet mens miskien kyk wat word in die Skrif geleer. Daar is basies 4 dope wat uitstaan...
- Die doop in die liggaam van Jesus
- Die waterdoop
- Die doop met die Heilige Gees
- Die doop met vuur
Die vraag wat nou ondersoek moet word, is wanneer is watter doop ter sprake wanneer ons lees van die doop? Almal is werkwoorde en almal verwys na presies dieselfde Griekse woord, Baptizō, Strongs 907. Die slotsom glo ek, is om na die konteks te kyk waarin hierdie woord gebruik word..., maar dit kan mens later ondersoek. Dit is maar net 'n gevolgtrekking wat mens nie maklik kan ontken nie, dat die woord baptizō, nie net na doop in water wys nie.
Ondersoek mens 'vry genade' versus 'vry wil', dan is dit presies dieselfde... met verbasende gevolgtrekkings wat mens nie verwag nie. Hierdie slotsom, eintlik die woord slotsom, is die verkeerde woord, want dit is en sal altyd slegs 'n tydelike slotsom wees, soos wat mens aanbeweeg groei hierdie slotsom wat die mens betref, onbeperk in Christus.
Die doop in sy volheid en die reddingsweg (soteriologie) in sy volheid, is eintlik iets wat geen mens in volheid kan begryp en veral kan verwoord nie. Dit is soos twee miere wat 'n mens ontdek, waar een van die kop begin en die ander van die voete af begin. Hulle ontmoet mekaar by die naeltjie en nou stry hulle oor hoe 'n mens lyk. So gaan ons met die waarheid om...
Die mens wat die reddingsweg beredeneer vanuit die menslike posisie, kan maklik die mens se aandeel hierin verwar met wat God bedoel het. Die mens wat hierdie weg beredeneer vanaf God se posisie, kan maklik 'n verkeerde beeld van God uitdra wat Hy nie noodwendig self so uitdra nie en wie se gedagtes, veel hoër en meer verhewe is as ons s'n, dit ook heel moontlik anders sou doen as wat ons dit namens Hom wil doen.
Persoonlik glo ek die misverstand kom in hoe ons die Bybel lees. Hier is net iets oor dit wat soewerein net God doen, versus dit wat die mens mag doen en ook behoort te doen, sou mens dit suiwer uit God se Woord probeer illustreer. Daar is oor 'n baie goeie rede, 2 soorte gawes...
Die gawes van Romeine 12
En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ‘n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
(Rom 12:6-8)
Hierdie gawes besit alle mense, maar nie almal in dieselfde hoeveelheid nie. Wat hier verskil is die genade. As jy 'n slim mens is, dan kan jy verstandelik gesproke leringe leer wat oor die algemeen meer treffend gaan wees as die wat nie so slim is nie. As jy 'n ryk mens is kan jy meer uitdeel. So kan mens elke gawe gaan ondersoek en mens sal vind dat ons almal elke gawe hierbo in verskillende vorms het, soos wat God se genade dit bepaal het. Ek kan byvoorbeeld enige tyd wat dit sou gebeur, 'n broodjie vir 'n honger mens gee... jy kan te enige tyd iemand vermaan wat verkeerd handel. Dit is absoluut in jou eie hande, wat jy met hierdie gawe doen. Hierdie gawes is vêrder ook nie eksklusief nie, maar inklusief vir alle mense, nie net in die Christelike sfeer nie, maar oor die ganse mensdom. Moet dit dus nie begrawe nie, want dan kan die genade wat jy reeds het, van jou weggeneem word.
Die gawes van 1 Korinthiërs 12
Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
(1Kor 12:4-11)
Hierdie gawes is om mee te begin, eksklusief vir diegene wat onder die gesag van God se Gees staan. Dit is nie vir die ganse mensdom se gebruik bedoel nie. Vêrder het nie een van ons, selfs al ken jy die Here, 'n inspraak om hierdie gawes te gebruik soos en wanneer jy wil nie. Dit verskil lynreg met die gawes van Romeine 12, in die sin, dat die menselike keuse nie die bepalende rol hier speel nie. Geen mens kan besluit, kyk, ek gaan jou nou genees van hierdie of daardie siekte nie. Geen mens kan sommer net in tale spreek soos en wanneer hulle wil nie. Hier werk God soewerein deur mense, soos en wanneer Hy dit goedvind. God sal vêrder ook net diegene gebruik, wat verantwoordelik met Romeine 12 se gawes omgaan. Mense wat hulle keuses verantwoordelik gebruik, sal altyd as bruikbare instrument in God se hande gebruik word. Hierdie gawes in 1 Korinthiërs 12, verskil in hierdie opsig van Romeine 12 se gawes, dat diegene wat Romeine 12 hul eie maak, toegang deur Romeine 12 se gawes verkry tot 1 Korinthiërs 12 se gawes, sonder dat hulle iets hoef te doen. Niks wat God doen is ook goedkoop nie, niemand kan toegang verkry na 1 Korinthiërs 12 se gawes, sonder dat hulle die genade wat hulle reeds het deur Romeine 12, hul eie maak nie.
1 Korinthiërs 12 is soewerein God se werking deur Sy Gees, waar Romeine 12 soewerein die werking van God se genade deur Sy skepsels is. Mens kan uit so hoek die mens se vry wil sien, sou mens vanuit Romeine 12 kyk (alhoewel vry wil, nie die beskrywendste terminologie is, om die mens se beperkte aandeel of gegewe vryheid te omskryf nie). Tog kan mens geen vry wil sien, uit die hoek van 1 Korinthiërs 12 nie, absoluut geen vry wil nie. Dit is suiwer Gods se soewereine werking soos Hy dit behaag. Hier word net werktuie uitverkies soos toegang verkry deur Romeine 12.
Ons sondes werk nie anders nie. Almal het 100% toegang om hul eie sondes, dit is sondesmet, voor God te bely en te laat staan, want almal het 'n gewete. Tog kan geen mens hom- of haarself losmaak van erfsonde nie, God alleen doen dit, Hy kies hier diegene soos Hy wil, soos toegang verkry deur die aflê van elkeen se eie sondesmet.
Daar is ook 2 soorte gebede, die gebed van die gelowige en die gebed van die geloof. Daar is ook 2 soorte bekerings. Daar is 2 soorte gawes, 2 soorte Testamente , 2 soorte werkinge van die wet en so kan mens aangaan.
Dit wil vir my lyk, of die wyse waarop die Skrif onderskeid tref tussen hierdie 2 soorte werkinge, die werklike debat is. Op geen stadium wil ek hier beweer hier is nou een of ander maklike deurbraak gemaak nie, want mens kan dit nie sê nie, bloot omdat dit nie so eenvoudig is soos mens dit hier stel nie, mens weet dit, tog wonder ek soms of die mens dit nie te ingewikkeld maak nie. Hierdie vraag kom onwillekeurig by my op, hoekom is daar 2 soorte van elkeen van hierdie dinge wat mens genoem het? Is dit moontlik waar die misverstand ontstaan?
Daar is 'n punt waar mens weet dit is nie 'n misverstand nie... dit is die ekstreme vorme van Calvinisme, bekend as Hiper-Calvinisme, waar die mens niks hoef te doen nie, nie eers sendingwerk nie, want God doen alles self... en dan ook die ekstreme vorm van Arminianisme... Pelagianisme, waar die mens sommer self alles kan kies en in beheer geplaas word.
Of dit werklik misverstande is, sal bepaal in watter kader mens jouself bevind. Dit is bloot soos dit vir my eerlikwaar lyk, op hierdie stadium. Een ding is ek egter oortuig van, ek het vriende en vriendinne of broers en susters in beide hierdie kampe, wat ek weet kinders van die Here is. Die vraag by my was, hoekom verskil hulle en hoekom verdoem die een die ander...?
Ek probeer bloot om 'n antwoord te vind, wat ek heel moontlik nie so goed verwoord het soos ek graag wou nie, maar wat vir my wys dat daar 2 tipes sondes, 2 tipes bekerings, -gebede, - gawes en someer is...
Bookmarks