PDA

View Full Version : Getuienis: God se almag en krag........



Anel Frylinck
Jan 19th 2009, 07:09 PM
Ek is geseend gewees om komkommersaad vir 'n Hollandse Maatskappy te kweek. Dit is nie soos die Engelse komkommer wat ons hier ken nie, maar word 'n "Sliced Cucumber" genoem. Dit is korter en dikker - en ek dink meer sappig as die Engelse Komkommer. In elk geval, as ek die saad klaar gekweek het, word dit na Holland verskeep, en dan word dit aan die Oosterse boere verkoop. Dit is die 2de jaar dat ons dit gedoen het.

Die proses het basies Augustus laas jaar begin, met die saai van die saad, dan die uitplant van die plantjies in die kweektonnels, tot en met die afhaal van die komkommers as hulle so geel soos piesangs is. Dan is dit die uithaal van die saad. Dit is nogal 'n lang proses, maar baie bevredigend om te sien jy het iets geskep wat daar nie was nie!!!

In elk geval, terwyl ek my besig hou met werk in die tonnels, is dit altyd ook my tyd om met Jesus te kommunikeer, en om Hom te vra om my plante te bewaar en my handewerk te seen, en om my die krag te gee om die werk te voltooi, ens. Onthou dit kan baie warm raak in 'n groentetonnel - die warmste tonnel waarin ek nog gewerk het was 51 grade Celsius!!!! Jou verstand raak heeltemal dof, en jy voel skoon dom!

Wel, op Maandag 22 Desemder 2008 het daar skielik 'n verskriklike wind opgekom, sonder enige waarskuwing, en binne 'n uur het die wind die plastiek (wat eintlik nog onder waarborg is) van die tonnel afgewaai waarin my kosbare plante was. Hulle was verskroei, asof verbrand. Ek moet se die geluid van die plastiek wat so in die wind klap klink werklik waar soos kanonskote!!! Dit is regtig skrikwekkend, en daar is niks wat 'n mens kan doen nie. Ek het nog so gebid vir die Here om asseblief die plante te bewaar, en die plastiek te beskerm. Maar na 'n tydjie het daar so 'n kalmte oor my gekom, en ek het toe vir die Here gese dat dit Sy wind is wat Hy gestuur het, en dat ek aanvaar dat wat ookal moet gebeur, sal gebeur. Wel, skade was daar weliswaar, maar gelukkig het die saad binne in die vrugte behoue gebly. As dit gewone komkommers vir die varsmark was, sou ons alles verloor het.
Ek het die volgende uit hierdie ondervinding geleer, en sal dit altyd in my lewe onthou :

My hart sal altyd uitgaan na die boere wat die kosmandjie van 'n land is. In 'n groentetonnel het mens nog 'n "mate" van beheer oor die weer en die insekte, hael, ens. Maar op 'n land is dit 'n ander storie.

Ek het net weer die almag en krag van God erken, en my laat besef hoe klein en magteloos ons as mens is.

God het altyd die perfekte tyd. As die wind 'n week tevore gekom, dan het ons nog groter skade gehad.

Alles het uiteindelik goed uitgewerk, want ons het tog toe nie so slegte oes gehad nie. Ek sou dalk graag beter wou gedoen het, maar dit was God se besluit oor die hoeveelheid, en daarmee is ek heel tevrede.

Ek moet ophou beweer ek gaan dit en dat more, oormore, ens. doen, want ek weet nie eers wat die volgende halfuur of dag oor my pad kom nie. God is maar altyd in beheer, en daarom is dit 'n groot rede vir my om altyd afhanklik van Hom te wees, want wat ek vir die dag van more beplan, is heel waarskynlik nie in lyn met wat Hy vir my beplan het nie.

Rus in God, en vertrou op Hom - in alles in jou lewe!!

Met baie liefde en groete,
Anel Frylinck:hug:

Ps. Ek hoop ek het hierdie skrywe op die regte thread geplaas. Laat weet maar, dan sal ek volgende keer weer probeer!

Willem
Jan 19th 2009, 10:08 PM
Dankie Anel,

ek seker ek sal dit eendag onthou en met genade kan mens dan ook vir die Here se dis Sy wil en nie myne nie en Hom nog dank vir wat Hy doen en Sy perfekte plan.