PDA

View Full Version : Die Seun het kom soek, en my gered wat verlore was!



MercyChild
May 11th 2009, 05:42 PM
Dit is met groot dankbaarheid in my hart dat ek kan deel hoe ek God se genade in my lewe kon ervaar.

Soos meeste op die forum reeds weet was ek vasgevang in verslawing vir net so oor die twintig jaar. My verslawing het posgevat op die ouderdom van 12 jaar, en het met klein goedjies begin soos; sigarette, alkohol en dagga, en het nooit gedink dat ek sou opeindig met crack ‘n en herion verslawing nie. Vir twee jaar het ek probeer opskop, maar gevind hoe harder ek probeer het, hoe verder het ek verval en hoe meer van my menswees het ek verloor.
My terapeut, familie en selfs vriende kon nie meer met my huishou nie. Telke male was die polisie genoodsaak om my op te probeer opspoor as ek weg geraak het so tussen die dwelmhuise. Ek was bekend vir ewigdurige terugvalle, en veroorsaak dat my man en familie het met hul hande in hulle hare gesit het, want geen rehabilitasie of medikasie het meer vir my gewerk nie. Eindlik was daar twee opsies oor nl; ek word in ‘n inrigting geplaas, of ek gaan kuier in Hongarye by ‘n familielid vir ‘n paar maande en kyk of ek beterskap toon. Die dwelmgebruik het erge depressie, paranioa en geheuverlies veroorsaak, en was die grootste rede vir my onstabiele toestand.

Op 27 Oktober 2008 wyl in Europa in desperaatheid op die internet gesoek vir ‘n dwelmondersteunings groep waarby ek kon aansluit, maar niks gevind nie, en hierdie forum ontdek waar ek daardie selfde aand my hart en lewe met meer erns as ooit vir God gegee het. Ek kan wonderlike tye onthou waar ek God se teenwoordigheid en warmte kon voel. Ek kon die Bybel oopmaak, en ongelooflike ontdekkings maak. Ek onthou tye wat ek “cold turkey”, paranoia, en spiertrekkings so erg gekry het, dat dit soms gedink het dat ek nooit weer die son sou sien skyn nie, maar onthou dat ek God in sulke tye sou aanroep, en Hy aan my genade sou toon. Ek onthou hoe God oor so ‘n distansie op Sy unieke manier my huwelik en verhoudings begin herstel het.

Dis so ses en ‘n half maande later, wat ek reeds Jesus se erfgenaam is, en vandat ek terug is by die huis het ‘n reeks gebeure plaasgevind, wat ek wil deel. My lewe van die bekering tot op hierdie fase het omtrent soos n feeverhaal geklink en gevoel, maar min het ek geweet om Jesus te volg nie altyd ‘n maklike pad is nie.

Twee dae voor my terugkoms was my pa gehospitaliseer in ‘n erge siektestoestand. Hy het ‘n paar opvolgende hartaanvalle gehad, en dit het geblyk of sy organe stelselmatig begin afgekakel het. My eerste besoek nadat ek geland het, was natuurlik by die hospitaal bed. My pa en ek het nooit ‘n goeie verhouding gehad nie, maar ek het daar besef dat ons dinge agter ons moet sit, en dat tyd aangebreek het om hom te vergewe. My gebed was dat God ons sal genadig wees en tyd sal gun om ons verhouding te herstel en die verlede uit die weg te ruim. ‘n Paar dae later het my pa verbasende beterskap getoon en letterlik by die bood omgedraai.
Dinge het belowend gelyk, en ek het selfs gedink dat niks ooit weer kan skeef loop nie. My huwelik was aan die herstel, ek het saam met my man begin werk, mense het my weer in hulle huise verwelkom. Binne my eerste week tuis het ek die voorreg gehad om ‘n familielid met ‘n verslawing na die Here toe te lei. Alles het net wonderlik gelyk, maar skielik breek daar ‘n tyd aan wat ek God se teenwoordigheid nie meer kon voel nie. Ek het verlate gevoel. My fokus was om net nie terug te val nie, en daardeur het ek alles probeer doen om so besig as moontlik te bly. Ek het lang ure in begin werk en minder tyd in die Woord en gebed spandeer. Weereens het ek daardie algehele leemte ervaar; ek het slap geraak in my verhouding met God.

Die vraag was, was ek werklik vrygekoop? Ja beslis, maar my ou natuur patrone moes verbreek word. En as jy vrygekoop is beteken dit dat jy nooit ooit weer dieselfde sondes van jou ou natuur sal doen nie? Nee stellig nie! Dit moes ek op die harde manier leer. Ek het ‘n terugslag gehad, en vanwee my swak keuses kon my man geen ander uitweg sien as dat ons tog moet skei nie. Agv die verlede, kon ek hom nie blameer vir die keuse nie. Maar ons toekoms was die keer in God se hande, en agv omstandighede het ons mekaar verlaat maar nie geskei nie, want God het reeds ‘n plan bewerkstellig. Ek het weereens voor ‘n keuse gestaan; dit was of ek kies om op straat te sit en aan te hou met dwelms, of ek trek na my pa toe, staan op uit die stof, skud my skoene af en probeer weer. Wat ek nie besef het nie, is dat God reeds my hart versag het met my terugkoms toe my pa so ernstig siek was, en daarom was die keuse maklik om eerder by my pa in te trek. Ek en my pa het nie voorheen ‘n verhouding gehad nie, en wat ek op daardie stadium nie geweet het nie, was dat God die fout wat ek begaan het, voordelig sou gebruik om ons verhouding te herstel, wat later gelei het dat my verhouding en persepsie van God ook herstel is.

Teen die tyd wat ek by my pa ingetrek het, was ek weereens werkloos, sonder ‘n voertruig en totaal finansieel gestrem, wat gelei het dat ek nie meer medikasie kon bekostig nie. Medikasie was as lewensbelangrik beskou, aagesien die selfdiagnosering of sny van medikasie kon lei tot ‘n dieper terugval, ernstige ontrekkeings of selfs die dood kon lei as dit nie gemonitor word nie. Ek is reeds meer as twee maande sonder enige medikasie, en funksioneer beter as ooit.

God was nog heeltyd aan die werk. Baie maal het ek gevoel dat die pad net te moeilik is, en dat ek die makliker uitweg moet kies en net ophou probeer, maar as ek myself kon vind was ek terug in die Woord en op my kniee. Baie kere kon ek nie verstaan waarom God iemand soos myself kon lief he nie, maar op die vraag het God deur die Woord later vir my duidelike antwoorde gegee.
Diep binne het ek geweet as God my werkik vry gemaak het dat ek sou vry wees, maar kon nie verstaan waarom ek weereens so ‘n idiotiese besluit sou maak nie.
God het my hart en begeertes geken om dinge reg te maak en te herstel wat ek kon. Snags het ek voor Hom geween en my gebed was dat ek hierdie nuwe lewe wat Hy aan my beloof het, sou kon uitleef.

Dis moeilik om in woorde te verduidelik wat besig is om in my lewe plaas te vind. Ek was die kans gegun om Jesus deur die waterdoop te volg. Ek spandeer wonderlike alleen tye waar ek skrif kan lees, en so baie leer. Wat ek wel weet is dat God se Gees besig is om my te help om net weer mens te wees, om ‘n nuwe sosiale lewe te leef, om nuwe dinge aan te pak tot Sy eer. Ek was redelik uit voeling met die wereld om my en het vir ‘n tyd lank net die dwelmwereld geken, maar ek is besig om vir die eerste maal werklik te leef. My geheue verbeter daagliks, en kan selfs onthou waar ek dinge neergesit het sonder om daarvoor te soek. My konsentrasie vermoe is beter sonder enige ADD medikasie. My fisiese gesondheid is in ‘n perfekte toestand. Depressie het nie meer langer die oorhand op my lewe nie, en instede daarvan om depressief te raak oor wat ek alles verloor het, het ek ‘n groter dankbaarheid vir wat ek het – ‘n lewe in Christus. “Cravings” kom nog daagliks, maar iemand het my geleer dat ek net God moet aanroep en Hom moet vra om te help as die versoeking kom, en dit werk! Hoe meer ek bid hoe langer is die tussen periodes en hoe ligter word die “cravings”. Ek en my man is stelselmatig besig deur klein baba treetjies te neem om mekaar van voor af te leer ken deur Sy genade sal ons binnekort weer saam intrek. Selfs my denkpatrone en houding is besig om drasties te verander.

Die afgelope tyd was nie die maklikste tydperk van my lewe nie, maar ek kon tot die keurpunt kom waar ek so ‘n diepe afhanklikheid in Hom het. ‘n Tydjie gelede het ek ‘n “addict” vriend verloor, en was diep teleurgesteld omdat ek hom nie meer van God vertel het nie. Hierdie gebeurtenis was ‘n harde slag maar het my laat besef hoe genadiglik God teenoor my was dat ek guns gevind het om ‘n verhouding met Hom te he voordat my draadjie geknip word.
Ek is dankbaar vir hierdie tydperk, selfs al was daar onaangename tye. As ek maar net alles kon deel van hoe God die afgelope tyd vir my vir gedoen het! Hierdie was die tydperk waar ek die meeste vryheid gehad het om dwelms te gebruik, maar agv my afhanklikheid van God was die keuse soveel eenvoudiger. Dis of God of dwelms, so maklik soos dit! Ek het uit die fontein van lewende water gedrink, en ‘n lewe van vryheid gesmaak, daarom sal my eerste keuse altyd God wees. Daar is niks in hierdie wereld wat my soveel vrede ooit gebring het nie! Hy is nie net my Vader nie, maar my beste vriend, en ek wil dit nooit ooit weer vir enige iets verruil vir wat hierdie wereld mag bied nie. Op ‘n staduim het ek nogal redelik eensaam geword, omdat ek geweet het dat ek sekere vriende moes vermy, nie dat ek werklik nodig was nie, hulle het sommer soos mis voor die son verdwyn, maar God het my eensaamheid gemerk en selfs vir my nuwe Christen vriende gestuur wat my ondersteun. O ja, en ek dans saam met An se groep! Dis Cool! Toe ek dit sien het ek baie daarvan gehou, maar nooit gedink dat ek in die vermoe sal wees om dit te doen nie! Alles natuurlik tot verheerliking van Sy naam.

Ek dink waaroor die getuienis gaan, is dat ek ‘n baie sinnelose fout begaan het, en gedink dat ek te laat was om God ‘n kans in my lewe te gee, maar God se tydsberekening is perfek, en Hy is nooit laat nie. God het aan my getoon dat Hy my werklik liefhet, en hierdie fout wat ek begaan het verander sodat Hy daardeur verheerlik kan word. God het nie slegte dinge geskep nie, maar Hy neem die slegte dinge, en omskep dit in goeie dinge en wonderbaarlike gebeurtenisse. Vandag het ek die sekerheid dat ek werklik vrygekoop is deur Sy bloed, en solank ek aan Hom gehoorsaam bly en Sy plan in my lewe aanvaar, hoef ek nooit weer terug te kyk nie! Ek het God se genade in my lewe gesmaak, en wil dit nie verruil nie! Ek is Sy dogter, en Hy my Vader en vriend!

God het nie net ‘n plan vir my lewe gehad nie, maar Hy het ook ‘n plan vir jou lewe! Moet nooit toelaat dat gister jou weghou van Sy teenwoordigheid nie. Gee dit aan Hom, roep Hom aan, gee Hom eer, en kyk wat Hy vir jou instoor het!

protea
May 12th 2009, 12:54 PM
Ons Hemelse Vader,
Ons loof en prys U heilige Naam bo alle name! Ons dank U uit ons harte dat U U dogter Linda uit die bande van die bose gered het sodat sy van U liefde , genade en ontferming vir n sondaarmens kan getuig . Dankie dat sy kan bely dat U haar Koning , Herder en Heer is en dat sy aan U sal vashou haar lewe lank. Dankie dat U al haar en ons oortredinge weggewas het deur U Boed aan die kruis op Golgota want geen put was te diep om haar daaruit te red nie en geen sonde te groot vir vergifnis nie. Ons bid dat sy haar hele lewe lank gehoorsaam aan U en aan U alleen sal wees. Herstel ook haar verhouding met haar man en sen die getuienis teenoor haar familie en haar vriende en almal op haar lewenspad. Ons bid dat sy haar hele lewe sal uitjubel : Ek en my huis , ons sal die Here dien!!
In die wonderlike Naam van Jesus bid ek dit .:pray:
Amen

Ta-An
May 12th 2009, 05:54 PM
En twee keer in een dag maak jy my huil, trane van vreugde en dankbaarheid om met jou saam te loop, en te kan sien hoe die Here jou by die hand vat en saam met jou loop.
Jy is baie spesiaal vir Hom, en vir elkeen wat jou ken :hug:

Die beste terapie in die lewe is om Hom te worship :pp

Psalm
May 12th 2009, 06:59 PM
Hi Linda,

Ek het jou getuienis gelees en dit gee my so groot blydskap!

Wat is n wonderwerk?
Wanneer n berg (sonder n eie wil) in gehoorsaamheid aan die stem van n persoon wat speek in die Naam van Jesus deur wat alles geskape is homself ophef en in die see werp, of wanneer n skepsel met sy eie wil, KIES om die smal paadjie saam met Jesus te wandel met die wete dat n dienskneg nie groter as sy heer is nie?
Wat n GROOT wonderwerk vir die wat dit kan sien!

Linda,
hou net aan, hou uit, staan vas, al lyk dinge om jou hoe sleg en hoe swak, onthou dat God red ons uit die diepste donker uit! En as jy terugval, staan weer op IN die krag van Christus! Bly in die geloof, geloof wat nie gesien word nie, die hoop wat bly temidde van verdrukking ter wille van die Naam van Jesus, tussen al die stemme wat opgaan, en al die wondertekens wat gebeur, staan vas in die geloof!
Onthou wat Jesus ges het in Matt 24 Pas op vir die stemme wat opgaan, die groot tekens en wonders wat skares gaan trek, onthou oral waar die dooie liggaam l(die dooie liggaam nie die lewende liggaam van Christus nie), daar sal die aasvoels (valse profete, die wat tekens en wonders doen, die wat s: sien is glo, kyk hier of daar is die Christus) saamkom.

Groei in die Woord, IN Jesus!
Bewaak jou hart meer as alles!

CFJ
May 15th 2009, 04:12 PM
Hi Linda,

Dis ons getuienisse wat Jesus konkreet maak vir ander wat Hom nie ken nie. Moet nooit ophou getuig nie, maar ek moet myself ook aanspreek, want ek wou al hoeveel kere die mooiste getuienisse deel en dan los mens dit maar eers. Ons persoonlike getuienis is die fondasie wat nodig is, om vir God te werk en om Hom te dien.

RR van Wyk
May 16th 2009, 06:31 AM
Linda,

Deur jou sterk getuienis kan mens optel dat jy baie beslis gered is! Dit is vir my altyd wonderlik en interresant hoe mens verander as jy 'n baie sterk verhouding in Christus volg.
Dankie vir jou storie, dit kan baie lewens daarbuite verander, meer as wat ons dink!