PDA

View Full Version : Nog n plaasstorie..



protea
Oct 27th 2009, 05:07 PM
Ek kan nou glad nie my vorige plaasstorie kry nie en daarom die nuwe draad.

Eendag lank , lank gelede (n hele twaalf jaar om presies te wees ) het dit vir klein Dawid van die plaas Springboklaagte tyd geword om skool toe te gaan want hy was n stewige 6 jaar oud. Sy beste speelmaatjie was Klonkie, die bruin seuntjie van een van sy pa se werkers op die plaas en hulle was soos Dawid en Jonatan - net nog nader. Alles het hulle saamgedoen , saam gaan skaap werk, in die watervore met skuitjies gespeel terwyl die lusern natgelei word , die skaapderms vol water getap as daar geslag is ,maar ook saam pak gekry as die onnutsigheid nou n rapsie te ver gegaan het. En so raak dit die vooraand van Dawid se skooltoeganery. Want die skoolding is nou nie die eintlike probleem nie, maar die weg wees van Klonkie vir n hele 5 dae ... voor die naweek weer aanbreek . Mens sal mos NOOIT al die week se speel in n naweek ingedruk kan kry nie.;)

Hy kry toe n blink plan en gaan vra sy pa of Klonkie nie net vir die eerste week kan saamgaan skool toe en koshuis toe nie. Dan sal hy dit oorleef en sal die spelery nie agterwee bly nie. Dit gaan toe baie goed en alles verloop toe volgens plan . Maar teen die end van die naweek begin Dawid swarigheid sien vir die week se alleenspelery en gaan vra sy pa of Klonkie nie nog n week kan saamgaan nie. Sy pa se toe ja en die lewe word weer n lied. So gaan n hele skoolkwartaal verby met 'Jonantan' aan Dawid se sy. Teen die end van Dawid en Klonkie se graad een jaar , besluit Dawid se ouers dat Klonkie so goed vorder op skool dat hulle die 2 seuns weer saam gaan stuur. Eintlik vorder Klonkie baie beter as Dawid want hy is baie meer toegewyd.

In die hoerskool word Klonkie gou tot die eerste rugbyspan bevorder en nog steeds is die 2 seuns nader as broers. Klonkie wil ook nie as Jonatan aangespreek word nie , maar as Klonkie. My storie eindig met Dawid en Klonkie wat nou besig is met hulle Matriek eindeksamen. Ek wens mens kon in die toekoms insien om te weet wat die 2 seuns binne die volgende 10 jaar gaan bereik. Maar ek glo dis n vriendskap waar meer as n sak sout al saam opgeeet is en ek glo nog saam opgeeet gaan word.

Groetnis vir eers.
Plaasmamma van 3 'meidjes' (my man se troetelnaam vir die meisies)

protea
Aug 13th 2010, 04:42 PM
SO 2 weke gelede kom my man hier aan met n klein bruin kalfie waarvan hy die ma net nerens kon kry nie. Ons vermoed dat n ouer boetie of sussie(wat nog nie bemark was daardie tyd nie ) hom verdring het by sy ma en dat hy alleen gelaat is om maar so van n gesteelde 'sippie' so hier en daar moes oorleef. Ons gee hom toe poeiermelk met n reuse 2 liter bottel en n kalfietiet en dis te heerlik om so n 'aansprakie' op die werf te he...... Gou het die meisies hom die naam van Bull-it gegee en almal wat kom kuier wil vir hom melk gee.

Gister het daar n jong koeitjie gekalf en haar kalfie is toe dood. Die dooie kalfie was massief groot en dis n wonder dat die koei normaal kon kraam.Toe bring ons die koei op na die 'hospitaal' kampie toe en sit vir Bull-it by haar. En siedaar: Bull-it het n nuwe ma, Magnum! Mens moet mos by die familiename bly..... Maar ek mis die kalfiegesiggie wat sy snoetjie so teen die venster druk as hy wil melkies he.....

Ons kan dit natuurlik nie waag om nou aandag te gee nie , want anders sal hy na ons toe kom. Ek dink toe so aan hoe die Here vir ons as mensekinders ook net die heel beste wil he, nie tweede beste nie. Natuurlik was ons n baie goeie tweede beste keuse , maar n eie mamma met eie melkies is die HEEL beste!

Toe die kinders klein was , het ons n hele paar hanslammers gehad en dit was die kinders se werk om hulle melk te gee. Mens moet maar n hele paar tiete en bottels aanhou want die skaaptandjies is nogal skerp en byt baiekeer die tiete n gat in. Tot op n dag dat die kinders hulle skool se jaarblad huistoe bring met o.a. Mirrelsus se graad 1 sinne daarin opgeneem: ' Die lammers byt my ma se tiete stukkend.......' (bloos-bloos)

Ta-An
Aug 15th 2010, 06:36 PM
:lol: :rofl::rofl: :rofl: :lol: :lol:

Sorri my vriendin, maar nou loop die trane van al die lag!!

Die Filadelfieer
Aug 16th 2010, 06:12 AM
Ek wens partykeer mens kan alle kinders vir 'n jaar of wat iewers op 'n plaas laat bly : dit is so 'n groot voorreg !

protea
Aug 18th 2010, 12:40 PM
Plaas kinders en dorpskinders se lewens is baiekeer so ver verwyderd soos pole. n Christen Evangelisasie groep was verlede jaar hier so vir n week en hoe hou hulle hulle toe besig in hulle bietjie vrye tyd tot hulle beskikking? n Kleilat oorlog. Ek dink baie dorpskinders sal nie eers weet waarvan jy praat nie.

Maar op n ernstiger noot: Plaaskinders verstaan die lewenssiklusse van lewe en dood en die feite van die lewe net baie beter as dorpskinders. Want daar is n hond of kat of lammetjie of kalf ens wat tog vrek en hulle kom dan daarmee in aanraking. Ek was n jong bruid van n paar weke toe ek vir die eerste keer in my lewe my eie troeteldiertjie gehad het nl n klein grys bokkie, n regte klein Bambi. Die bokkie en sy ma het verwyderd geraak tydens n groot veldbrand in die omgewing. En as ons hom gelos het , sou hy beslis gevrek het.

So elke maand het ons met die vragmotor af Boland toe gekom om nog plaasgoed aan te ry . Tydens een van die trips het Bambi toe by die bure gebly en toe ons terugkom , toe kry ons die verpletterende nuus dat die bure se hond hom doodgebyt het.... Ek kan jou nie die emmers vol trane wat geval het van vertel nie....

Die ander bure se kinders wil toe weet waar Bambi is en ek se toe (om die situasie n bietjie te versag ): " In die Bokkiehemel". Die kinders is toe daar weg met vraende ogies en voorkoppies op n plooi getrek om nou te probeer uit'figure' waar die Bokkiehemel nou is... Hulle vra toe hulle pa. (n melkboer) en hy se toe: "Bambi is vrek!" Nie sag heengegaan of die tydelike met die ewige verwissel nie....maar net :vrek! En TOE verstaan hulle , want hulle is mos plaaskinders wat baie in aanraking kom met diere wat of gebore word of vrek.

Juis hierdie melkboer buurman van ons het n groot stoetery gehad en vir ons 2 melkkoeitjies vir huisgebruik het hy sommer self(as n guns) hulle kom insimineer met van sy stoetbulsaad. Ons kinders het nou die situasie begryp dat voordat daar n kalfie kan wees , moet daar vir die koei eers n saadjie gegee word. En op n dag se Ousus (seker toe so 5 jr oud):" Pappa, jy moet vir Oom Daan bel en vra om vir Kolletjie n saadjie te kom gee....

protea
Aug 18th 2010, 12:47 PM
Ek wens partykeer mens kan alle kinders vir 'n jaar of wat iewers op 'n plaas laat bly : dit is so 'n groot voorreg !

Fila , ek dink nie jy sal die kinders weer na die jaar met stokke en swaarde in die dorpe en stede terugkry nie!

Die Filadelfieer
Aug 19th 2010, 06:40 AM
Maar op n ernstiger noot: Plaaskinders verstaan die lewenssiklusse van lewe en dood en die feite van die lewe net baie beter as dorpskinders. ....

Dit is so waar Protea ! My seuntjie is nou 3 en 'n half, en verstaan reeds die twee begrippe baie goed. Hy weet die vleisie in sy bord kom van 'n skaap/bees/vark/hoender af, en vra ook voor die tyd wat se vleis dit is. Die konneksie tussen die diere in die veld of hok en sy kos is reeds daar ........... anders as die hoŽrskool kinders waarvoor my vrou klas gee ! Die verbintenis tussen boer en kos bestaan gewoon nie by 'n stadkind nie : alles kom van Pick n Pay af en basta.

Hy is vreeslik lief vir diere, en diere vir hom, hy kan selfs 'n wilde stoorkat met 'n "kietsie-kietsie-kom-hier-katjie" nader lok... die enigste mens wat ek al ooit gesien het dit regkry.
So van stoorkatte en lewe en dood gepraat, vang een van ons honde mos nou die dag 'n kat, en gaan so ewe voor seuntjie met die bebloede lykie in die bek. Ek en mamma beloer die ding so, want ons wou sien wat sy reaksie was ..... nie een van ons kon egter sy "opdrag" aan die hond voorspel het nie : " Gaan haal nog een ! "

protea
Aug 21st 2010, 01:13 PM
Ag hoe lekker lag ek nou! Mens moes die opdrag seker verwag het van so n 'dog-whisperer'.....