PDA

View Full Version : Deur die Bybel in 'n jaar- wie is in?



Retha F
Jan 4th 2010, 12:12 PM
Hallo. Ek het eens op 'n tyd hier deelgeneem as Retha, maar dit was lank gelede en voor my rekenaar gesteel was. Ek kon nie weer daardie rekening maak werk nie, en het gou weer aangesluit.
Is daar dalk iemand wat saam met my deur die Bybel wil lees in 'n jaar?

Die slim mense reken dat enige doelwit wat jy vir jouself stel, SMART moet wees: Spesifiek, Meetbaar, Bereikbaar (Attainable), Realisties, en Tydsgebonde. Die Bybel-leesplan wat ons sal gebruik voldoen aan al daardie vereistes -Volgens die druk in my Bybel kan jy dit bv. doen in net oor drie bladsye per dag. En hierdie leesplan is so uitgewerk dat jy op sewe plekke lees- een vir elke dag van die week. As jy dus verveeld raak met een Bybelboek hoef jy net een keer 'n week daardeur te swoeg. Die res van die week lees jy dalk elders dinge wat jou motiveer om aan te hou.

As daar 4 of meer mense is wat sal belang stel, sal ek week op my blog 'n onderwerp pos waar ons ons week se Bybel lees bespreek. Dan praat ons oor wat ons getref het; en watter vrae ons het (of ons nou onder onsself die antwoorde kan kry of nie). Ons sal selfs die vrae wat pla- afdeling hier vir ons vrae gebruik. Dis nou, vier mense wat belang stel om op die Internet te bespreek wat hulle lees en leer, nie 4 mense wat wil lees en leer nie. Antwoord op my blog as jy sou belangstel.
(My blog se aankondiging hieroor by http://gelowigenondersoekend.wordpress.com/2010/01/03/deur-die-bybel-in-n-jaar-wie-is-in )
(Leesplan by http://www.bible-reading.com/bible-plan.pdf)

'n Ander goeie idee is om te kyk of jy, as jy in 'n omgeegroep/ selgroep is, hulle kan oortuig om vanjaar die Bybel i.p.v. 'n Bybelstudieboek te gebruik, en saam te gesels oor wat julle leer. Hierdie is in die bediening- afdeling oor ons mekaar kan bedien met so 'n groep.

CFJ
Jan 4th 2010, 01:05 PM
Welkom terug by ons Retha, ek onthou jou goed en het gewonder waar jy was. Op die voorblad van Lighuis het ons jou blog gelys vir almal wat belangstel. Klik gerus op die skakel, Goeie, Christelike, Afrikaanse Webwerwe... (http://bibleforums.org/showthread.php?165202-Goeie-Christelike-Afrikaanse-Webwerwe&p=2314800#post2314800) en neem kennis dat ons nie toelaat dat mense deurentyd hul eie webbladsye hier promoveer nie, bloot om te voorkom dat dwalings en afwykende inligting die oorhand kry hier, maar elkeen kan werklik aanbeveel word om jou skakels te besoek en juis daaroor het ons ook vrymoedigheid geneem om dit op ons voorblad te plaas.

Ta-An
Jan 4th 2010, 06:05 PM
Retha, welkom terug.

Ek het reeds begin met Matteus, ek wil die NT en Psalms die jaar deurwerk, en het reeds begin ;)

CFJ
Jan 5th 2010, 06:46 AM
Retha,

Ek dink jou skakels gaan ons net so los in hierdie draad, oor die meriete van die saak en ek hoop regtig daar is 'n hele paar mense wat belangstel. Ek stel ook belang, maar daar gaan 'n redelike tyd wees wat ek nie hier gaan wees nie en sal nog kyk hoe ek kan maak... :)

Retha F
Jan 5th 2010, 07:35 AM
Dankie. En toemaar, CFJ, ek sal nie aanhoudend my blog hier promoveer nie.

CFJ
Jan 5th 2010, 09:15 AM
Dankie. En toemaar, CFJ, ek sal nie aanhoudend my blog hier promoveer nie.

Dankie dat jy verstaan Retha. In 'n sekere sin behoort mens vrylik sulke blogs soos joune hier te promoveer, maar mens hou maar by 'n sekere beginsel om webbladsye wat mens nie graag wil promoveer nie, nie geleentheid te gee deur onnodig presedente te skep nie. Hierdie draad is gelukkig selfverduidelikend oor jou skakels...

Lanie
Jan 6th 2010, 06:22 AM
Hi Retha, welkom terug. Ek het bietjie gaan loer op jou blog en hou baie daarvan. Ek sal defnitief gereeld daar 'n draai maak. Ek sou graag die leesprogram saam met jou gedoen het maar ek is reeds besig met Grant Horner se leesprogram wat baie goed vir my werk en nie regtig tyd oorlaat om nog 'n leesprogram deur te werk as ek tyd wil oorh om intensiewe bybelstudie te doen nie.

Groete
Lanie

Johnny
Jan 6th 2010, 06:48 AM
Ek, my vrou en dogter van 13 het besluit om hierdie jaar met ons aandbybelstudie iets soortgelyks te doen. Ons het elkeen 'n boek gekies. Ons kan natuurlik uit 'n ander gedeelte ook lees sou ons voel die Here plaas iets ander op ons harte. My boek is Job. Die rede daarvoor is dat ons so baie terugslae in 2009 gehad het en ek voel dat Job se lewe my net kan inspireer. My moto vir 2010 kom ook uit JOb om soos hy "Godsvresend te lewe en af te wyk van die kwaad", ongeag wat met ons gebeur in 2010....goed op sleg. My vrou het Spreuke gekies en my dogter Openbaring. Sy het 'n groot liefde vir Openbaring op haar jong ouderdom. Elkeen kry 'n beurt in die aand om 'n gedeelte te lees en dan skryf ons ook punte neer. Die punte is soos volg:

1.) Wat is die hoofgedagte van die gedeelte?

2.) Watter beloftes is daar vir my?

3.) Watter voorwaardes is daar?

4.) Hoe kan ek dit toepas?

Bybelstudie behoort deel te vorm van elke christen, maar baie keer maak ons nie tyd vir die Here nie. Des te meer vir elke huisgesin vir die ernstige tyd waarin ons lewe met die verval van die kerk en leraars (Van hulle vooraanstaande) wat nie meer die WARE boodskap verkondig nie. Landswette en leiers wat God nie vrees nie. Sterkte aan almal wat 'n behoefte het om God se Ewig en Onveranderlike Woord te bestudeer in 2010.

Romeine 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.
Galasiers 1:12 Want ek het dit ook nie van n mens ontvang of geleer nie, maar deur n openbaring van Jesus Christus.
Openbaring 3:11 Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

protea
Jan 6th 2010, 03:35 PM
Dankie Retha! Ek het nounet vir my man en myself ook die Bybellees program uitgedruk. Lekker lees aan julle geestelike 'steaks'!