PDA

View Full Version : E-pos vandag gekry - die boemelaar



Willem
Jun 2nd 2010, 10:53 PM
Nick Stander...Die boemelaar
Ek hou nie van "Private Number" oproepe nie, en dit moes seker so geklink het toe ek antwoord. Die stem aan die ander Kant praat dus nie storietjies nie, maar kom dadelik tot die punt:
" Kan ek u asseblief kom sien?"
"Seker ja, waaroor gaan dit?"
"Ek sal maar verduidelik as ek u sien."
"Wie praat nou?"
"My naam is Nick Stander. Ek het u nommer gekry deur die stukkie wat u in Pretoria News geskryf het."
"Nougoed, uhm, hierdie week is rof. Vrydag dalk? Sommer by
Greenfields... Castle Walk?"
Hy huiwer nie, en ons spreek die tyd af.
Toe ek sy naam op my selfoon kalender intik, wonder ek of hy dalk versekering verkoop. As dit so is, gaan dit 'n baie kort gesprek wees. Dalk hou hy nie van dit wat ek geskryf het nie. Dan ook maar soos dit is...
Vrydag vra Rethea my oudergewoonte uit wie ek sien die dag. "Een of ander 'Nick Stander'. Weet nie wie dit is nie. Bel maar die polisie as ek nie van my laat hoor nie..." grap ek sarkasties. My gedagtes is by alles wat nog moet gebeur voor die jaar eindig, terwyl ek na die koffieplek ry. Ek klim haastig uit, en stap na die trappe. 'n Stem agter my laat my stop.
"Dries Lombaard?" Ek draai om en is verbaas om die persoon voor my te sien.
Netjies, maar eenvoudig aangetrek, met 'n plastieksak in sy hand. "Nick?"
Ons groet mekaar, en ek stel voor dat ons koffie gaan kry binne.
Ons gaan sit, en ek maak een of ander verwysing na die weer. Hy beaam dit. Ons bestel koffie - hy stem met 'n knik van die kop in om dieselfde as ek te kry nadat ek bestel het.
"Eintlik wil ek net raad vra." begin hy dadelik. Hy vertel my van 'n sake konsep waar mens sjokolade en vorms koop by 'n fabriek in Johannesburg, en dan jou eie sjokolade vormpies maak wat jy verkoop. Daar is tans vorms vir sokkerballe, met die komende wereldbeker in gedagte. Hy wil dit graag doen. Maar daar is iets waarvan hy onseker is... en dis waarom hy my opgesoek het. Hy wil weet hoe hy kan weet of so iets sy 'roeping' is, en of dit bloot 'n begeerte is na sy eie doelwite... soos materialisme.
Ek sit aandagtig en luister (iets in hierdie man "intrigue" my), maar ek voel asof ek nie die kloutjie by die oor kan bring nie....
"Nick, kan ek jou net 'n paar vrae vra. Ek is deurmekaar. Waarom, en hoe het jy by my uitgekom om spesifiek dit te vra? Ek meen, ek is mos nie 'n besigheidsman nie. Vertel my net bietjie meer van jouself?"
Nick lyk vir 'n oomblik ongemaklik, maar kyk my dan reguit in die oŽ, en antwoord: "Meneer, ek het die stukkie gelees wat u in Pretoria News geskryf het, die stukkie oor "Abilities and Responsibilities". ( Ek onthou die stukkie. Ek skryf een maal 'n week 'n kort stukkie wat dan as deel van 'n vriend se onderneming se advertensie geplaas word.)
Hy praat verder. "In daardie stukkie skryf u dat elke mens sekere "abilities" het, maar dat dit ook beteken jy het "responsibilities". En ander mense het daaardie selfde verantwoordelikheid om ander se vermoŽns te erken."
Ek knik instemmend terwyl ek terugdink aan die stukkie. Nick sluk aan sy koffie, en praat verder. "Ek het baie nagedink daaroor, en het begin wonder hoe ek sou weet wat dan my roeping werklik is, en hoe ek dit sou kon onderskei van die selfsugtige begeerte om byvoorbeeld net geld te maak."
"Het jy ander hieroor gevra... ek bedoel, jy het seker met ander mense ook gesels?" wou ek weet.
"Ek het probeer, meneer, maar..." hy huiwer, kyk my in die oŽ. Dit voel vir my asof hy probeer peil of hy maar mag sÍ wat hy dink. Ek knik om hom gerus te stel.
Hy gaan voort: "... meneer, die ding is, ken meneer kerke?" Sy vraag gooi my effe.
"Ek dink so, Nick. Waarom?"
"Meneer, kerke... of liewer, die meeste kerke, het tralies om. En ken meneer pastore en dominees?"
Ek antwoord nie... wag dat hy self antwoord.
"Pastore en dominees is baie besig, meneer. Hul het nie tyd vir gesels nie, veral nie as jy nie 'n lidmaat is daar by hulle plek nie."
"Nou Nick, wat van jou pastoor of dominee Dan?" vra ek.
"Nee meneer." Hy sluk weer sy koffie. "Meneer, kan ek maar eerlik wees?"
"Asseblief Nick."
"Meneer, eintlik het ek 'n probleem gehad vir lank. Vir 18 jaar lank.
Ek was 'n alkoholis. En vir die laaste 8 jaar was ek op straat."
Skielik maak die prentjie van die man by die trappe, met die enkele sak in sy hand, vir my sin...
"Maar so maand of wat gelede het 'n ding met my gebeur. Op straat bedel ons mos maar. En ek het gebedel vir ietsie by iemand, daar by die Uniegeboue. Die man vra toe vir my of hy vir my kan bid. Christene doen dit, ons ken hulle al. Hulle wil vir jou bid eers, voor hul jou iets gee. So ons laat dit toe. Hulle bid ook almal min of meer dieselfde. Hul bid dat die Here jou siel sal red, en hulle bid dat ons van die drank verlos sal word.
Daar is al honderde kere vir my siel gebid. Ek het honderde kere sogenaamde 'oorgawes' gemaak. Bid net agter hul aan. Nooit verstaan wat dit beteken nie, maar ek sorg net dat ek hartseer en ernstig lyk, en dan gaan hul baie opgewonde daar weg. Afgetick in hul boeke. Daar is ook al honderde kere gebid dat die drank my sal los, en ek die drank sal los. Sodra hul egter weg is, haal ons die bottels uit en drink verder..."
Die kelnerin onderbreek ons vir nog koffie. Sy los ook spyskaarte op die tafel.
"Wil jy iets eet, Nick?" vra ek.
"Nee wat meneer, dis reg. Net koffie."
Ek besef dat ek iets moet vra. "Nick, wanneer laas het jy geeet?"
Hy kyk af. "So drie dae gelede, meneer."
Ek is stil. My siel staan stil. My gedagtes ook.
"Kom ons eet iets", sÍ ek. Nick blaai versigtig deur die spyskaart.
"Ek gaan steak en chips eet. Vir jou ook?"
Hy knik dadelik sy kop. "Ja baie dankie."
Ons bestel, en ek vra hom om verder te vertel.
"Die man bid toe vir my, maar hy bid nie soos die ander nie. Hy bid verkeerd."
"Verkeerd?" vra ek.
"Ja, hy bid nie vir my siel nie. Ook nie vir my dronk lyf nie. Ek was half dronk, maar ek kon hoor hy bid anders. Hy bid dat die Here my moet genees van my depressie. Toe hy dit sÍ, toe kyk ek hom skeef. En toe hy klaar is, toe sÍ ek vir hom: "U het verkeerd gebid. Ek's nie depresief nie."
Maar hy het net geglimlag en dit daar gelaat. Toe is hy daar weg. En ek het verder gaan drink."
"Die volgende oggend het ek wakker geword, en nie dadelik lus gevoel vir drink nie. Maar dit gebeur soms. Eers later die oggend het ek agtergekom dat ek steeds nie lus het vir enige drank nie. Dit was vreemd. Maar ek het geweet dit sal verander as ek bewerig gaan begin raak, die middag se kant.
Maar die middag, en die aand, het gekom, en die bewerigheid het nie gekom nie. Die ander het my vreemd aangekyk dat ek nie gedrink het nie. Ek het nie geweet wat aangaan nie. Vir die eerste keer in 18 jaar het ek gaan slaap sonder dat ek die dag enige alkohol gedrink het..."
"Die volgende oggend was die lus steeds weg. En vir die eerste keer in jare was ek werklik nugter, en kon ek nugter dink. En ek het gedink, en gedink, en gedink. Oor myself, my verlede, my toekoms, oor God."
Die kos kom, en ek kan sien Nick is effe oorweldig deur die groot T-Been in sy bord. Terwyl ons eet vertel, Nick verder:
"Ek het besef dat die gebed die vorige dag werklik my genees het van alkoholisme. Ek wou nuut begin. Ek wou God dien. Ek het besef dat daar 'n paar dinge is wat drasties sal moet verander in my lewe. Eerstens moes ek ophou bedel. En as mens nie bedel nie, lei jy honger." Hy eet heerlik tussendeur die gesels aan die steak, en ek besef net weer hoe maklik dit vir my was om dit te bestel, en hoe lanklaas ek werklik honger was.
Ek het begin werk soek. Vaste werk. Werk met 'n toekoms. Maar dit bestaan skaars. Tussendeur was jy 'n kar, of sny jy iemand se gras. Maar werk is daar nie. Veral nie as mens Kleurling is nie... want ons is min hier in Pretoria , en die swartes vertrou jou nie, en die witmense ook nie. Dis toe dat ek na die Staatsbiblioteek toe is, om die koerante te begin deursoek vir werksgeleenthede... enige geleenthede. Daar het ek aan die sjokolade-besigheid idee gekom. En daar het ek die stukkie gelees wat u geskryf het."
"Nick, jy het begin om te verwys dat dit moeilik was om by kerke uit te kom?" vra ek.
"Ja, meneer, ek kom nou juis by daardie deel van die verhaal. Nadat ek aan die sjokolade idee in die koerant gekom het, het ek dit begin navors. Ek het selfs Johannesburg toe geryloop en self met die vrou daar gaan gesels.
Sy het my als gewys en verduidelik. Maar ek het nie net koerant gelees in die Biblioteek nie. Ek het die Bybel gelees ook. En ek het baie vrae gehad.
Baie. Soos die een oor my roeping... wat God met my sou wou maak, noudat Hy my genees het. Hoe hy my kon gebruik. Hoe ek 'n verskil kon maak aan ander, en my lewe op koers kon kry."
Die kelnerin kom haal ons borde. Nick is nie klaar nie. Hy eet stadig.
Ek kry 'n SMS. Dis Rethea. "Leef jy nog?" vra sy. Ek antwoord eenvoudig met 'n J simbool.
"Die kerke het tralies om, meneer. Dis veral baie moeilik as mens regtig net wil raad vra. Hul gee kos, klere soms. Baie probeer help, maar so as 'outreach'. Hul wil nie gesels nie. Hul het nie tyd nie. Vir raad lyk dit my, moet jy afsprake maak, en lidmate kry nogals voorkeur.
"So kom ek by een kerk daar in die stad, en ek lui die interkom by die hek. 'n Vrou antwoord. ' Kan ek asseblief met 'n pastoor of 'n counsellor praat?' vra ek haar.
"'Soek jy kos?' vra sy my.
"'Nee, ek vra vir 'n pastoor of 'n counsellor. Ek soek raad.'
"'Soek jy berading?'
"'Nee, mevrou, net raad.'
"'Man, hier is niemand wat jou kan help daarmee nie!'
"Voordat ek dink wat ek sÍ, vra ek haar toe: 'Maar kan ek dan met Jesus Christus praat, 'seblief?'
"Vies antwoord sy: 'Man, moenie laf wees nie! Hy's nie hier nie.....'
"Meneer, toe ek daar wegstap, toe besef ek, sy is reg. Hy is nie daar nie."
Nick is klaar geŽet. Ek is regtig aangeraak deur sy verhaal sover. Hy neem 'n slukkie van sy koeldrank.
"Nick, hoekom het jy juis besluit om my te kontak, net na aanleiding van daardie kort beriggie?"
Hy glimlag, en bly 'n rukkie stil.
"Saans, daar op straat, is daar 'n roetine. Ons kom bymekaar en deel wat ons het om te eet, en wat ons drink. Hier by sewe uur raak dit stil, en draai iemand die radio harder. Dan luister ons almal nuus. En net na die nuus, luister ons na ons dominee. Stephan Joubert, van die 'ekerk', se hul altyd. Ons geniet die man se gesels oor God, want dis asof hy met ons praat.
Baie keer bespreek ons dit na die tyd, so deur die gedrinkery deur, totdat die drank begin praat. Ons wonder ook oor die 'ekerk'. Toe sÍ iemand een aand dis nie 'n regtige kerk nie, dis 'n internet kerk."
Ek is verstom, want nooit het ek gedink mense op straat luister intensioneel na die aand oordenking nie. Wys jou net my vooropgestelde idees...
"Nou, ek weet nie van hoe 'n internet kerk kan werk nie, maar toe ek die stukkie lees, toe sien ek u naam daar staan, en en sien daar staan 'ekerk' by. En ek besef, dis ons dominee se internet kerk. En dit tref my!
As dit 'n kerk sonder geboue is, is dit net dalk 'n kerk sonder tralies. En miskien het daardie ouens tyd vir luister. Dalk kan iemand daar vir my raad gee..."
:::::::::::::::::::::::::::::
Nick Stander is sederdien ons gesin se gas in ons huis. Intussen het hy klere, 'n selfoon en 'n skootrekenaar gekry by verskeie mense aan wie ek sy storie vertel het. En ons by Ekerk het besluit om met hom 'n pad te stap om sy talente te help ontdek, en hom op te lei in iets waarmee hy werklik tot die lewe van produktiwiteit kan terugkeer. Ons sal sien waarheen dit lei... maar ons glo aan verhoudinge as die vertrekpunt vir enige hulp. Aan vriendskap. Nie aan "hit & run" uitreike nie.
Die stories wat Nick saans aan tafel vertel, is ongelooflik. Anderdag sÍ ek vir Rethea dat die kinders meer by hom geleer het al, as wat enige Sondagskool klas ooit sou kon. En ek. Ek leer daagliks by die man. Ons het sommer vinnig werklik vriende geword. 'n Paar dae nadat hy by ons kom bly het, sÍ hy eendag vir my: "Dries, wat my lewe verander is nie die dinge wat julle vir my doen of vir my gee nie. Ek waardeer dit ongelooflik baie. Maar wat my elke keer soos 'n tsoenami tref, is dat julle my van die eerste oomblik af in liefde ontvang het, en hoe jul my sonder rede vertrou het.
Baie mens het my al probeer help, en ek was gewoonlik te dronk om iets met daardie hulp te maak. Maar niemand het my nog ooit vertrou nie. Julle neem my, 'n vreemdeling, van die straat af in jul huis. Dit maak nie sin nie."
Toe verduidelik ek vir hom dit wat Stephan Joubert altyd na verwys as "veilige heiliges". En dat dit meestal 'n term is waaroor ons almal instemmend glimlag as hy dit noem. Maar dat dit nie werklik ons lewens prakties raak nie. Dit klink net mooi en oulik... en reg. Want ek het besef, ek en my gesin is ook 'n kerk agter tralies. En ek is ook te besig vir mense met stories en verhale. En dat hy my weer die geleentheid gegee het om die evangelie te herontdek as die gevaarlike boodskap wat dit is. En dat die Here hom gebruik om ons gesin se lewe te verander...
~~~~~~~~~~
Dankie aan... E-Kerk
~~~~~~~~~~
Just because you can't see God,
doesn't mean He is not there.
"For we walk by faith, not by sight."

Die Filadelfieer
Jun 3rd 2010, 06:17 AM
Dankie dat jy hierdie met on deel Willem , dit is 'n kosbare skrywe. Hierdie sin pla my erg :


As dit 'n kerk sonder geboue is, is dit net dalk 'n kerk sonder tralies. En miskien het daardie ouens tyd vir luister. Dalk kan iemand daar vir my raad gee..."

Hoe het dit gebeur dat ons kerke by hierdie punt gekom het ? Ai ai ai ...........

Gene
Jun 3rd 2010, 02:14 PM
My gemoed is vol, maar ek weet nie wat om te se nie..... Ek dink onwillekeurig aan 'n liedjie van Piet Smit ("Sal U my stuur") Hy sing oor die nood om ons, en dan is daar 'n frase wat min of meer iets se soos: "En as ek dan vra, Heer, waar is U liefde. Dan besef ek Heer, dit le nog by my. Want in my selfsug leef ek my lewe, en stap selfvoldaan by die nood verby...."

Wat my angsbevange maak, is die wete dat ek eendag voor God sal moet verantwoording doen vir al die Nick Standers wat my pad gekruis het, en by wie ek ewe selfvoldaan verbygestap het..... en vir die "tralies" om my, die kerk....

Willem
Jun 3rd 2010, 08:46 PM
Ja... ek het nie eerste keer kerk en kerk se verskil gevang nie, dankie Gene.... WOW .... laat die Here maar my hart sag maak en leer om te luister... oom Phil by werk het boemelaar uit straat gehelp sodat mense nie oor hom sou ry nie en is toe ge-hijack, maar toe stuur die Here iemand om te kom en hom kans te gee om weg te kom en met hom weg te jaag... dit kos en dis moeilik, maar gelukkig werk Sy Gees in ons en help ons om meer soos ons Here te word...

Dis nie net die geboue nie, maar ook ons kerk se harte ne? liefhe... barmhartigheid... oorwin slegte met goeie... rom 12

Laat dit nie wees wat ons se nie Here , maar wat ons doen...

Ta-An
Jun 5th 2010, 05:28 PM
Willem dis moeilik in ons land...... want soms wanneer jou hart oop gaan, dan word jy oor die kop geslat, jou beursie en jou motorsleutels daarmee heen, net soos jy hier bo noem...

:(

Gene
Jun 7th 2010, 08:52 AM
Ta-An, dit laat my dink aan die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan. Die Leviet sy maaitjie het anderpad verbygegaan, juis omdat hulle bang was om oor die kop geslaan te word en van hul beursies en motorsleutels beroof te word.... maar die Samaritaan was gehoorsaam toe die HG vir hom se om nader te gaan, ongeag die gevaar.....

Maar ek hoor wat jy se, en dis beslis waar, dis 'n komplekse situasie. 'n Mens kan (veral in ons land) nie altyd en oral help nie - afgesien van die potensiele gevaar is dit eenvoudig ook nie moontlik om elke boemlaar en bedelaar te help, of elke ryloper op te laai nie. Vraag is, waar trek 'n mens die streep? Ek dink 'n mens moet jou maar uiteindelik deur die Gees te laat lei, maar dit beteken 'n mens moet regtig 'n oop gemoed he en LUISTER wanneer die HG iemand spesifiek op jou hart plaas. En dan moet 'n mens gehoorsaam wees.

Maar wat my aangryp van hierdie verhaal, is die "ontoeganklikheid" van baie christene - die "geestelike tralies" om die kerk. Die manier hoe ons onsself dikwels ewe vroom op die skouer klop as ons iemand 'n bedraggie in die hand gestop het of selfs 'n gebedjie saam met hom opgese het.... maar ons spreek (gerieflikheidshalwe?) nie die werklike nood van daardie persoon (fisies of geestelik) aan nie.... Hoe ervaar daardie boemelaar / bedelaar / ryloper my, wat eintlik die kerk van Christus is? Word hy aangetrek deur my opregte liefde en empatie, sien hy Christus in my raak, of ervaar hy dat hierdie "kerk" omring is met tralies, waardeur hy nie kan breek nie?