PDA

View Full Version : Getuienis: 'n Verhaal van ongehoorsaamheid , sonde , redding , genade



Mazal
Jan 5th 2012, 07:06 AM
Deel 1 van 6 :

Wikus se verhaal , 'n verhaal van ongehoorsaamheid aan God , hardkoppigheid en sonde
'n Verhaal van die wonder van God se oneindige genade, geduld en liefde
Alles in hierdie dokument is die waarheid soos ervaar deur my , Wikus


Bevoreg groot geword


My storie is nie 'n storie van swaarkry as kind en 'n onbevoregte jeug nie. Nee , my storie is die storie van 'n baie bevoregde kind wat baie goed groot geword het maar sy lewe in ongehoorsaamheid en sonde geleef het.


Ek was bevoreg om wonderlike ouers te hê. Beide is kinders van die Here en hulle het my reg grootgemaak. Hulle het my geleer wat is reg en verkeerd. Hulle het my geleer die pad van die Here. In my ouerhuis was daar altyd liefde , en die Here was altyd gedien.


Ons gesin was sterk kerkgangers. Ek het kategese gedoen elke Sondag van kleins af. So het ook die kerk my geleer van die Here en my geleer die verskil tussen reg en verkeerd.


Teen die tyd dat ek klaargemaak het met skool het my ouers en die kerk vir my 'n goeie grondslag gegee om mee die wêreld in te gaan. Ek was 'n baie bevoregde kind.


Vergeet wat geleer is


En so maak ek klaar met skool en begin te werk in 1992 en stap die lewe daar buite in. Ek het dadelik begin werk na skool.


Toe begin ek afdwaal. Ek het alles vergeet wat my ouers my geleer het. Ek het alles vergeet wat die kerk my geleer het. Ek het in ongehoorsaamheid aan God geleef. Ek het geleef soos ek wou. Ek het gedoen wat ek wou. Ek het die dinge van die wereld liefgehad , en vergeet van die Here.


Drank en dronkenskap was aan die orde van die dag.
Buite egtelike seks , onsedelikheid , pornografie , losbandigheid. Ek het my lewe gevul met al hierdie verkeerde dinge van die wereld. En hoe meer ek in die wereld se dinge geleef het , hoe verder het ek van die Here af geleef.


Ek was jonk en het gedink ek is die baas van my lewe en kan doen soos ek goed dink.
Ek het nie die Here meer gedien nie.


In my eerste week wat ek begin werk het , het ek 'n man ontmoet. Ons het vriende geraak by die werk en ek het hom gerespekteer. Die Here het hierdie man oor my pad gebring , Hy het geweet ek gaan hom nodig kry baie later in my lewe. Later , meer oor hom.


Die eerste skudding


Net 'n kort rukkie na ek begin werk het en in my sondige lewenswyse verval het word my lewe vir die eerste keer geskud.


Ek en twee vriende was in Brits , oppad na 'n vakansie oord. Ek het bestuur. Ons kom daardie dag in 'n ongeluk , en een van my vriende sterf !!!! My lewe word geruk soos nog nooit tevore nie !!!
My vriend is dood. Sielkundig en emosioneel is ek 'n wrak. Ek is vol pyn en smart en skuld gevoelens. Die skuld van sy dood hang aan my en versmoor my. Ek het geworstel daarmee , en vir jare lank myself blameer en kon eenvoudig nie myself vergewe nie. Die Here het hard met my gepraat in die gebeure , en my geroep om my wee te verander en na Hom toe terug te keer. Maar ek het nie geluister nie.






Ongehoorsaamheid gaan voort
Selfs na die skokkende dood van my vriend , en alles wat daarmee gepaart gegaan het , het ek nog steeds nie na die waarskuwings en roepstem van die Here geluister nie. Ek het volhard in my sondige lewe. Voortgegaan om op my eie insigte staat te maak. Voort gegaan met die losbandige lewenswyse wat ek vir myself gekweek het.


Die wereld se dinge was vir my te lekker. Al die drank , al die losbandige partytjies , en
onsedelikheid met vrouens. Ek was nie bereid om enige van dit prys te gee nie. Ek was selfsugtig en het voort gegaan om te lewe soos wat ek wou en te doen net wat ek wil doen. Ek het die dinge van die wereld liefgehad.


Hoe dwaas , selfsugtig en ongehoorsaam kan 'n mens wees !!!!!!!!!!


My selfsugtigheid en sonde in my huwelik


In 1997 is ek getroud. Het ek dit waardeer dat 'n vrou my lief genoeg gehad het om met my te trou ?
Nee. Ek het selfs in my huwelik voortgegaan met 'n selfsugtige lewenswyse.


Ek het voortgegaan met die losbandige lewenswyse van drank en partytjies. Ek het baie geflirt met sonde. Ek het baie vriendskappe aangeknoop met ander vrouens wat nie gesonde vriendskappe was nie. Ek het baie seksuele sugestie gebruik en openlik geflirt met die sonde van egbreek. Ek het dit geniet om te flirt , en in my dwaasheid gedink dis net “skadelose pret” om te flirt.
Nie vir een oomblik het ek besef dat ek in my hart en in my gedagtes my vrou verneuk en egbreek pleeg teenoor haar nie.
Ek het my vrou ook nie belangrik gemaak in my lewe nie. Ek het my vriende en ander dinge bo haar gestel. Al hierdie dinge was die gevolg van my eie selfsugtigheid en sonde. Omdat ek nog altyd so selfsugtig was het ek geen idee gehad van wat ware liefde was nie. En my liefde het altyd gekom met voorwaardes en terme.


Ek het soveel verkeerde dinge teenoor my vrou gedoen en soveel smart in haar veroorsaak. Ek het haar emosioneel vernietig in my optrede , my selfsug en my sonde.
Dinge het stadig maar seker al hoe verder agteruit gegaan in my huwelik. Ek en my vrou het verder en verder van mekaar af weggedryf agv my sonde.


Ek het selfs so ver gegaan as moord pleeg. Vroeg in my huwelik het my vrou swanger geword. Ek was so selfsugtig dat ek kwaad was. Ek wou nie die verantwoordelikhied van 'n kind in my lewe he nie. Ek het my vrou basies forseer en geen ander keuse gelaat as om 'n aborsie te kry nie. Ek het ons kind vermoor !!!!!!!!!! Vandag kan ek myself net indink watse hel dit vir 'n vrou moet wees , om haar kind op so wyse te moet verloor. En so raak my sonde net al erger en ek raak al dieper in satan se mag. Soveel so dat ek 'n kind vermoor agv my eie selfsug !!!!!


Na ongeveer 4 jaar in my huwelik het my aanmekaar geflirt met sonde gemaak dat ek val. Ek het 'n baie vieslike ding gedoen. Ek het begin smag na my beste vriend se vrou. Ek het vir moeilikheid gesoek omdat ek nie wou hoor nie en volgehou het met my losbandige ongehoorsame lewe en die satan het sy kloue in my ingekry. Ek het al meer en meer na die vrou begin smag. En hoe meer ek na haar begin smag hoe verder verdryf ek my eie vrou en hoe meer maak ek my eie vrou seer. Ek het haar skelm ontmoet , skelm gebel , maar wanneer ons dronk was tydens ons losbandige partytjies dan het ek sommer oop en bloot geflirt en haar onbetaamlike aandag gegee.

Mazal
Jan 5th 2012, 07:07 AM
Vervolg , deel 2 van 6

Nie net het ek my eie vrou se hart in stukke gebreek nie , maar ook my beste vriend verraai om na sy vrou te smag.

Wat 'n vieslike mens was ek !!!! Wat 'n ongehoorsame en selfsugtige mens wat gedrup het van sonde !!!!! Ek hoop dat beide my vrou en my vriend my sal kan vergewe vir dit.

Maar my afskuwelike dade teenoor my vrou het nie daar gestop nie. Die satan het my in so greep gehad en my gedagtes so oorheers dat ek totaal blind was vir die pyn en skade wat ek aanrig. Ek het selfs myself oortuig dat ek onskuldig is !!! En dat my vrou haar dit alles verbeel.
Ek was so blind , dat ek vir 'n tweede keer my vrou verneuk het met 'n ander vrou. Ek was uit saam met 'n paar vriende. Die drank het gevloei soos gewoonlik en die losbandigheid het hoog geloop. En dit was net kwessie van tyd of die satan met sy kloue kry beheer en ek smag na die een vrou by ons. In dronkenskap en losbandigheid vry ek daai vrou dik die heel aand in daai plek waar on gesit en drink het. Skaamteloos voor mense verneuk ek weer my vrou en pleeg weer groot sonde. En ek is so vark dat ek nie eers skuldig gevoel het daaroor nie. Ek regverdig dit vir myself deur vir myself en vir ander te se “Dis my vrou se skuld , sy dryf my na ander vrouens toe”.
Wat 'n sondige dwaas !!!!!!!!! Wat 'n vark was ek !!!!!!

Van my huwelik het ek niks oor gehad nie. By die huis was daar net gevegte en pyn. En ek het die skuld als op my vrou gepak. Maar in werklikheid was ek die skuldige. En hoe slegter dit gegaan het by die huis en in my huwelik hoe meer het ek my vrou blameer. Nie vir een oomblik het ek gaan sit en dink oor alles wat ek aan haar gedoen het en hoe ek sondig teenoor die Here nie. Ek het my vrou dood gemaak binne agv die vark wat ek was.

Die tweede groot skudding , hel breek om my los

November 2001 , Saterdagaand. Soos gewoonlik het ek 'n hele paar doppe gedrink soos ek maar op naweke gedoen het. Ek en my vrou het klaar tv gekyk en gaan slaap.
1 uur daai nag word ek wakker met geweldige maagpyn. Pyn so erg dat ek krul.

Ek het geweldig begin braak. Eers het ek gedink dis maar van te veel drink. Maar toe hou die braak en die pyn net aan. Elke 10 minute saam met geweldige pyn vir die res van daai nag. Teen 6 uur die oggend toe kon ek nie meer nie. Geweldige onbeskryflike pyn het in my bors ingetrek en ek het in 'n hoopie op die sitkamer bank gesit.

My vrou het by die sitkamer ingestap en gese sy gaan my hospitaal toe vat want ek lyk nie goed nie. Ek was 28 , jonk en fiks van al die sport wat ek gedoen het , en ek het nie sommer na dokters toe gegaan nie. Maar om een of ander rede het ek daai oggend nie gestry nie. My vrou het my in die kar gelaai en hospitaal toe gejaag met my. Ons dorpie is 'n klein dorpie en die hospitaal is nie baie groot nie. Toe ek voor die ongevalle se deur kom toe sak ek inmekaar. Ek het gekrul van pyn in my bors. Susters het my tot op 'n bed gehelp. Vandaar af was ek in sulke helse pyn dat ek nie veel geweet het wat aangaan nie. Hulle het 'n ekg op my gekoppel en ek onthou ek het geskreeu vir my vrou “Hoekom help hulle my nie , ek het helse pyn”. Ek het letterlik geskreeu van pyn. Die dokter wat op standby was en uitgekom het was toevallig my huisdokter. Hy het na die ekg gekyk en vir die suster gese “Dit kan nie wees nie , julle het dit verkeerd gedoen. Die man is 'n sportman ek ken hom”. Ek onthou daai woorde baie goed. Hy het toe die ekg self oorgedoen. Sy uitdrukking sal ek nie vergeet nie. Hy het skielik baie sag en ernstig gepraat en vir my gese dat hy onmiddelik 'n ambulans laat ontbied en my Wilgers hospitaal toe stuur want daar is fout met my hart. Hy het gestap en gaan bel.

Die volgende oomblik toe kry ek weer helse pyn en krul en skree. Toe is alles skielik weg en stil om my. Dit was 'n hartaanval , en ek het gesterf. Meteens was ek in 'n tonnel van helder wit lig. Daar was niks anders nie. In die verte aan die einde van die tonnel het 'n gedaante nader gekom na my toe. Die gedaante was donker van kleur en het 'n lang swaard gehad. Die beste hoe ek die gedaante kan beskryf is dit het gelyk soos 'n samurai vegter. Hierdie gedaante het nader en nader na my toe gekom. Die volgende oomblik voel dit soos 'n hammer wat teen my skedel slaan , maar van binne af buite toe. Dis asof my brein teen my skedel vas geslaan het van die binne kant af buite toe teen my skedel vas. Ek was terug op die hospitaal bed en die dokter en susters was langs my. Ek onthou my vrou was eenkant en sy het hard gehuil.

Op daai stadium was ek half by en half nie by nie. Ek het nog nie besef wat met my gebeur het nie. Ek het in en uit bewussyn gegaan. Met tye bewussyn verloor en met tye weer bygekom. Ek onthou dat ek toe in die ambulaans was. Vaagweg onthou ek die rit na Wilgers hospitaal. Ek onthou toe ek in Wilgers ingestoot is op 'n bed met wielietjies. Ek het weer bewussyn verloor.

Ek het weer wakker geword in die ICU eenheid. 'n Suster het by my gestaan. Ek het haar later leer ken as tannie Joan. Sy het my uitgevra hoe ek voel en met 'n leer aantekeninge gemaak. Sy wou weet op 'n skaal van 1 tot 10 hoe erg pyn het ek. Maar ek het geen pyn meer gehad nie. Ek se toe vir haar “2 tannie”. Sy het my geantwoord dat dit onmoontlik is , en as sy so kyk na my ekg uitslae dat ek in baie pyn moet wees. Sy het verder gese dat dit 'n wonder is dat ek nog lewe en dat daar 'n kring van engele om my bed moes gewees het daardie oggend.

Ek het nog steeds nie besef wat met my gebeur het nie. Maar toe ek probeer myself opdruk om regop te sit toe skiet daar pyn deur my ribbes. Ek het afgekyk en sien toe vir die eerste keer die vierkantige brand merke waar die dokter my geskok het met die skok masjien om my hart weer aan die gang te kry. Toe ek die brand merke op my bors sien het ek met 'n groot skok besef wat met my gebeur het. Ek het besef dat ek weg was en was deurmekaar en bang oor wat ek gesien het in die helder tonnel. Wat ek gesien het was niks goed nie , en ek dink dat al wat dit kon gewees het was die doods engel. Ek was oppad hel toe. Dis wat ek dink dit was met my min verstand wat ek het.
En die Here het my letterlik teruggeruk uit die hande van die dood en my lewe gespaar.
Na alles wat ek gedoen het , na 10 jaar se volgehoue sondige lewe , is die Here se genade en liefde so ombeskryflik groot , dat Hy my lewe spaar. Hy het my gered van die dood en nie toegelaat dat daardie wese my siel kry nie.

Ek is toe in vir 'n nood angiogram. Die hele linkerkant van my hart se are het platgeval en my hart het nie suurstof gekry nie. Dis wat die hartaanval veroorsaak het. Dit was so merkwaardige wonder dat ek gespaar is dat my dokter die foto's van my angiogram mee gaan klas gee het by die universiteit. Die spesialis het stents ingesit om my are oop te maak en als was toe onder beheer.

Ek het 3 dae in die hospitaal spandeer en so goed herstel dat ek die Woensdag middag daar uitgeloop het. Sondag oggend is ek half dood daar ingestoot , en 3 dae later loop ek op my eie voete daar uit. Prys die Here !!!! Wat 'n donderwerk !!!!!!!! 'n Vieslike sondaar soos ek word uit die dood se kloue gered !!!!!!!!!!!
Tot vandag toe nog , tydens skrywe , het ek nog nooit weer 'n hart probleem gehad nie.

Drome en sielkundige stryd

Die eerste aand terug by die huis het ek 'n droom gehad. Ek het gedroom ek sit in 'n vertrek wat lyk soos 'n klaskamer. Die satan het deur die ruit ingesweef. Hy het teen my kom staan , sy gesig teen myne en vir my gese “Ek het jou nie nou gekry nie , maar ek sal jou nog kry”. Hy het 'n pakkie sigarette en 'n asbak op die tafel neergesit.

Ek was bang en vol angs en het toe uitgehardloop by die klaskamer se deur uit. Die satan het agter my aangesweef. Ek het by trappies afgehardloop en binne in wat gelyk het soos 'n groot binneplaas of binnehof ingehardloop. Ek het teruggekyk en satan was besig om by dieselle trappe af te sweef

Mazal
Jan 5th 2012, 07:09 AM
Vervolg , deel 3 van 6:

oppad na my toe. Meteens was daar 'n kring engele om my. Die satan kon toe nie naby my kom nie , want die kring engele het my beskerm.

Ek het wakker geskrik. Sop nat gesweet en angsbevange. Ek was oorlaai met vrees. Ek het 'n siele stryd gehad. Met dit wat ek in die tonnel gesien het en met dit wat ek toe gedroom het. Verder het ek toe gereeld , vir ongeveer 'n maand lank gedroom van demone wat 'n dorp aanval en dat ek en 'n paar vriende teen hulle veg.

Ek het 'n swaar stryd gevoer in my binneste oor hierdie dinge. Ek het besef dat ek die Here nodig het. Ek het besef dat my lewe geskud is. Ek het besef dat my lewe nie reg is nie. Ek het sielkundig baie swaar gekry. Een middag toe my vrou van die werk af kom het sy my gekry waar ek sit en huil op die bed.
Ek was gevul met vrees vir wat ek gesien en ervaar het.

Steeds te selfsugtig vir totale oorgawe

Ek het besef dat my lewe nie reg is nie. En ek het besef dat ek moet na die Here toe gaan. Ek kon sy roep voel in wat gebeur het met my.
Ek het probeer om my lewe reg te ruk. Maar ek het twee fatale foute gemaak.

Eerstens het ek nie erken en bely dat al my sondes my eie skuld en my eie toedoen was nie. Ek het nog steeds ander blameer vir baie dinge. Ek was nie eerlik oor al my foute in my lewe nie.

Tweedens , ek het nie ten volle my hele lewe en my hele hart onvoorwaardelik vir die Here gegee nie. Ek wou my lewe regmaak , maar het nog te veel aan van die lewe se dinge vasgehou. Het nog steeds te selfsugtig gelewe en gedoen wat ek goed gedink het. Dit was amper asof ek net genoeg wou doen sodat ek oraait sal wees. Ek was nie bereid om my lewe totaal en al vir die Here te gee nie.

En omdat ek nie my hart en lewe ten volle gegee het vir die Here nie het ek gevaal met die eerste aanslag wat die satan op my maak. Ek het gegaan en iets vreeslik geword. Ek het skeinheilig geword. Skaars 6 maande na als wat gebeur het , het ek begin om 'n ander man se vrou te begeer. Ek het baie lelike sonde gepleeg. In die oggend lees ek bybel , maar skaars 'n uur later sit en begeer ek 'n ander man se vrou !!!!!! So val ek net weer in die sonde , en weereens agv my eie selfsug.

Weereens dink ek net aan myself. Ek dink nie aan die Here teenoor wie ek sondig nie , ek dink nie aan my vrou teenoor wie ek alweer egbreek pleeg nie en ek dink nie aan die vrou se man nie. Alles is alweer net ek ek ek. !!! Ek het 'n totale obsessie met hierdie vrou ontwikkel. En hoe meer ek haar begeer en hoe groter my obsessie raak , hoe verder stoot ek alweer my vrou weg en hoe seerder maak ek weer my eie vrou. Dwase sondaar wat ek was !!! Ek gooi alles wat die Here vir my gedoen het in Sy gesig terug , hoe Hy my uit die dood gered het en my genadig was met my hartaanval vat ek en ek vertrap dit !!!!! Ek drup weer van sonde en doen dit nog in skeinheiligheid ook nog !!!!
Ek sidder as ek terugdink hieraan , hoe geweldige groot sonde ek gedoen het om so teen die Here te draai skaars 6 maande na hy my gered het uit die dood se kloue. Na wat ek gesien het , na wat ek gedroom het , ruk ek nie my lewe totaal reg nie , maar nee , ek gaan net weer voort met my ongehoorsaamheid en sonde !!!!

Huwelik verbrokkel , tyd van eensaamheid, verslawing aan tegnologie

6 Maande later , Desember 2001 vind my vrou uit van my ontrouheid met die getroude vrou en dit breek ons huwelik finaal en al. Sy kon nie meer vat nie.
Ek was so in selfsug en sonde toegevou dat ek haar blameer het vir alles. Na alles wat ek aan haar gedoen het het ek myself oortuig dat alles haar skuld is. En ek het dit geglo. Ek het geglo ek is onskuldig in alles. Myself bejammer en alles blameer , my vrou , die lewe , ander mense en ek het self sover gegaan om die Here te blameer. Ek het alles verloor !! My lewe het daar in duie gestort. My huwelik was verby , die lekker lewe was verby. My bates het ek ook verloor. Alles. En ek sit in sak en as en kry myself so jammer. Maar nie vir een oomblik dink ek of besef ek , jou dwase sondaar !!!!! Jy het alles oor jouself gebring !!!!! Nee , ek dink nie vir een oomblik daaraan nie. Ek is mos altyd die een wat reg is en nooit verkeerd is nie.

Ek het toe weer helemal weg van die Here af geleef. Weer aangegaan en net vir myself geleef. Ek het 'n tyd ingegaan waar ek baie eensaamheid en pyn beleef het. Ek het geval van die een verhouding na die ander een. Maar nooit kon ek geluk vind nie. Aanmekaar het ek met 'n gebroke hart weggestap. En elke keer was dit my eie skuld. Elke keer was my eie selfsug in die pad. Maar ek het natuurlik altyd die ander party blameer. So het ek voort geval , van die een verhouding tot die volgende een. Voortgegaan om in sonde te leef. Om in ongehoorsaamheid te leef. Al wat ek reggekry het daarmee was om pyn en eensaamheid te verkry.

So het ek rondgeval tot in 2008. Ek het 'n wonderlike vrou ontmoet vir wie ek baie lief geword het. Einde 2010 word sy egter van my af weggeruk. Ek was totaal en al gebreek !!! My hart het gevoel of hy vir die laaste keer gebreek het. Ek was weer in sak en as. 'n Stukkende en gebroke mens.
Dit het gevoel of ek nie meer kan nie.

Ek was gevul met haat , woede en pyn. Ek het weer alles blameer van mense tot die lewe tot gedink die Here straf my. Ek het 'n kluisenaar geraak en vir myself 'n verslawing gekry.
Ek het verslaaf geraak aan video games. Totaal en al het ek my oorgegee aan dit en vir niks anders geleef nie. Ek het geen verhouding met die Here gehad nie. My hart was gevul met permanente bitterheid en woede. Die seer wou nie gesond word nie. Dit het gevoel of ek nooit weer mens sal wees nie. Elke dag het 'n wroeging geword. Ek het gevoel ek sal nooit weer geluk smaak nie. Ek het net geleef vir na-ure sodat ek myself kon verdrink in die video games.

Ek het totaal verslaaf geraak aan die games. Ek het geleef net vir dit , gepraat net van dit , gedink net aan dit. 'n Baie leeg , eensame en sondige bestaan. Ek het steeds gedoen net wat ek wou en geen ag geslaan op die wil van die Here nie. My lewe was finaal en al dol leeg , en toetaal doelloos.
My hart was swart van die haat en pyn wat in my geheers het oor alles wat ek verloor het.
Ek was vasgevang in 'n greep van my pyn en die verslawing van video games. Ek het net gejaag om by die huis te kom elke dag dat ek die games kan aansit. Meeste van die tyd is ek al halfpad uitgetrek oppad kamer toe. Nie 'n enkele minuut mag verlore gaan wat ek kon games eerder speel nie !!! Meeste aande het ek nie eers geeet nie !!!! Baie keer het ek selfs mense seer gemaak en wou ek nie na vriende toe gaan nie. Want ek wou net elke vry oomblik wat ek het games speel. Die games het die belangrikste ding in my lewe geword. Selfs belangriker as my vriende en enige iets anders. Ek het selfs baie keer verskonings uitgedink om nie mense te gaan help nie , net sodat ek nie hoef my games af te sit nie.

Ek het verval in hierdie donker put. Ek en die tegnologie van video games , en niks anders het bestaan in my lewe nie. Die satan se kloue was diep in my vas.

Genade en liefde onbeskryflik groot

Dit was nou al 20 jaar wat ek in sonde en ongehoorsaamheid teenoor die Here geleef het. Alles wat Hy vir my gedoen het , selfs Sy redding van my uit die dood se kloue 10 jaar tevore wat ek so vieslik in Sy aangesig teruggegooi het.

Die Here kon my op enige stadium voor Sy aangesig weg van hierdie aarde afgevee het. Die

Mazal
Jan 5th 2012, 07:10 AM
Vervolg , deel 4 van 6:

ongehoorsame , ondankbare , selfsugtige sondaar wat ek was vernietig het soos die stofkorrel wat ek is. Maar nee , die Here het dit nie gedoen nie.


Die Here se genade , geduld en liefde is so onbeskryflik groot , dat Hy selfs 'n sondaar soos ek en alles wat ek gedoen het , my nie verlaat nie. Die Here stuur 'n gewone mens , my vriend wat ek vroer van gepraat het , om gereeld te kom kuier en saadtjies te plant in my. My vriend is 'n kind van die Here. Die Here het geweet ek respekteer my vriend en luister na sy opinies , en Hy besluit om hierdie vriendskap te gebruik om my in geduld en liefde na Hom toe te lei.


My vriend plant saaidtjies deur die dag , en in die aand wanneer ek alleen in my woonstel sit dan oordink ek alles. En ek begin al meer en al meer nadink. Oor die verlede , oor die hede , oor wat ek gesien het , oor wat ek gedroom het , oor wat ek alles gedoen het. En dag na dag begin ek al meer en al meer skuldig voel oor dinge. Die Here begin in my hart te werk.


So begin ek naderhand al hoe meer uitsien na my vriend se besoeke. En waar hy altyd gepraat het het ek nou begin praat , uitgevra , opinies gehoor. Ek het hom begin vra oor sy opinies van die Here se wil en sonde op verskeie aspekte van die lewe. En op 31 Oktober 2011 val die skille van my oge af !!!! Meteens sien ek duidelik hoe besmet my lewe met sonde is !!! Ek sidder in wat ek sien en besef wat in my lewe aangaan !!! Daardie aand kom ek ten volle tot bekering. !!! Ek gaan in aanbidding voor die Here en ek gaan met alles na Hom toe. Al my sondes, al my probleme , alles van my lewe. Ek pleit vir die vergewing van my sondes. En vir die eerste keer ooit gee ek my lewe en hart ten volle en onvoorwaardelik aan die Here !!!!!! Vir die eerste keer ooit se ek in totale eerlikheid “Spreek Here , ek luister”. En vir die eerste keer ooit is ek in totale oorgawe vir die Here sodat Hy my lei.
Prys die Here vir daardie aand !!!!


Ek word daardie volgende oggend wakker en ek het 'n geweldige vrede in my hart. Ek het 'n ongekende vreugde in my hart. !!! Ek is 'n nuwe mens. !!!! Ek is vrygemaak van sonde , ek is vrygemaak van laste , ek is vrygemaak van pyn , my stukkende hart is heel , ek voel geen smart meer nie , ek voel geen skuld meer nie. Ek het hoop , ek het geloof , ek het lewe , en het die ware liefde van Jesus in my hart !!!!!!! Prys die Here !!!!! 'n Splinter nuwe mens. Die Here was my silwerskoon , verwyder al my sondes danksy die bloed van Jesus Christus , die Seun van God wat vir ons sondes gesterf het en uit die dood opgestaan het sodat ons vergifnis van sondes kan ontvang en kan lewe !!!


Die regte pad saam met die Here


En daar begin hierdie wonderlike pad saam met die Here. Ek het volle oorgawe en ek bid vir wysheid , en die Here lei my. Die eerste ding wat die Here my wys is wat tussen my en 'n goeie verhouding met Hom staan. En ek is so bly , die Here wys en ek doen !!!!! Die Here praat en ek
luister !!!! En hoe meer ek luister en doen hoe groter raak my blydskap. Die Here vat die blindheid weg by my en leer en wys my wat om te doen.


Die eerste ding wat die Here my wys is die verslawing met die video games. En Hy haal die blindheid van my oge af dat ek die inhoud kan sien van die games. Dat ek met nuwe oge daarna kyk. En ek sien al die Godslastering , monsters , demone , geweld , onsedelikheid en allerhande derglikhede in die games. En die Here wys my dit moet uit my lewe uit, en ek se dis reg !!!! Die Here praat en ek luister. Ek vaar in my games kas in en ondersoek elke een wat ek het. Ek gooi al die wat dreg van die satan het uit op hope om vernietig te word. En hoe meer ek uitgooi hoe groter blydskap kry ek !!! Ek doen dit met vreugde en nie een oomblik voel dit eers vir my of ek iets opgee nie. En hierdie is die goed waarvoor ek geleef het !!!!!!!! Maar dit voel nie eers of ek iets prysgee nie. My blydskap word net al groter soos ek dit uitgooi. Hoe wonderlik is dit !!!!!
En toe leer die Here my dis nie net die inhoud van die games nie , maar dis die aantal tyd wat ek altyd daaraan spandeer het. Die Here leer my van Hy moet eerste wees in my lewe en ek moet Hom dien en aanbid elke dag. Niks anders mag belangriker wees nie. En ek se dis reg Here en in blydskap vervang ek die game verslawing met stiltetyd saam met die Here elke dag. En die Here se Woord word vir my soos kos. Ek kan nie wag om by die huis te kom na werk nie sodat ek kan gaan stil word voor die here en sy Woord lees en bid en stilwees voor die Here. En die verslawing van die games verdwyn soos mis voor die son. En ek ontdek hierdie wonderlike lewe in die Here se Woord en spandeer in vreugde eerder my tyd daarmee.
En die Here seen my deur sy Woord en Hy leer my elke dag nuwe dinge !!! En ek raap alles op en wil net meer weet en meer leer !!!! En hoe meer ek tyd saam met die Here spandeer hoe groter word my bleidskap , hoe meer raak die liefde in my hart , hoe groter raak die vrede in my. My lewe is skielik gevul met Jesus se liefde en niks van die wereld se dinge maak meer saak nie !!!!
En hierdie man wat geleef het net vir die games en sonde vind nou sy vreugde in die Here en kannie genoeg kry van die Woord nie !!! 'n Totale transformasie. Prys die Here want Hy is groot !!!!!


Die volgende ding wat die Here my gewys het is die pornografie op my pc. Die Here leer my deur sy woord van onsedelikheid en seksuele losbandigheid en dat alle vorme daarvan uit my lewe moet uit. En ek se dis reg Here. Ek vernietig al die pornografie op my pc , ek vernietig al die backups daarvan.Ek gaan kas toe en ek haal al die dvd's uit waarop dit nog gebrand is. Ek is uit buite toe en ek breek die dvd's een vir een dat jy net stukke sien spat. En ek kry so warm gevoel in my hart. En hoe meer ek breek hoe warmder word my hart. Ek het alle pornografie vernietig , alle dvd's.


Toe vat die Here my op 'n reis deur my verlede. Hy wys vir my orals waar ek voorheen oortree het. Hy wys vir my elke mistap wat ek geneem het. Hy gee vir my al hierdie kennis uit my verlede uit om my te leer. Hy openbaar aan my elke fout wat ek gemaak het.


En een oggend voor werk , toe praat die Here met my oor 'n moeder met 'n stukkende hart. My eie ma , vir wie ek weggegooi en veroordeel het. Ek het haar geoordeel oor haar keuses en vir meer as 4 jaar skaars met haar gepraat en glad nie in haar huis gekom nie. En die Here se vir my ek moet regmaak met my ma , daardie moeder hart wat ek gebreek het. Ek moet omverskoning vra. En ek se dis reg Here , die eerste geleentheid wat ek in haar dorp kom. En die Here se nee , doen dit nou !!! Bel dadelik jou ma en moenie uitstel nie. En ek se dis reg Here. Ek het dadelik my ma gebel voor ek gaan werk het daardie oggend. Ek het omverskoning gevra vir wat ek aan haar gedoen het. En sy het gese dit maak haar hart so bly !!! 'n Moeder hart weer vol vreugde oor haar seun wat met haar praat. En sy het gese “Dis alles nou verby my seun en dis vergewe , ma se hartjie is nou baie bly”.
Net 'n paar weke later het ek by my ma gaan kuier , en vir die eerste keer in jare in my ma se huis gekom. Haar vreugde was ontsettend groot om haar seun weer by haar te kon he. 'n Moeder en seun weer bymekaar danksy die Here wat in my lewe gekom het en aan my ware liefde geskenk het. My ou slegte hart vervang het met 'n nuwe hart vol van Sy liefde. Ons het lekker gekuier en ek is terug huistoe , met vrede en vreugde in beide my en my ma se harte. Prys die Here !!!!


Toe begin die Here my leer. Deur sy Woord het Hy my begin leer hoe om my lewe te lei. Vir al die alledaagse dinge het die Here my antwoorde gegee. Dit is hierdie wonderlike reis saam met die Here wat Hy altyd met my is. My altyd leer hoe om te lewe , wat om te doen.
Ek vat stock van alles wat ek doen in my lewe. Elke ding , voor ek dit doen raadpleeg ek die Here , en Hy antwoord my. Hy help my. Hy lei my op die wonderlikste maniere.
Hy open my oge vir die satan se aanvalle , hoe die satan agter alles wegkruip in die lewe.
My vrae en kommernisse antwoord die Here op die wonderlikste maniere sodat ek geen twyfel in enige vraagstuk of kommernis het nie.


Die lafhard satan se aanvalle
Ek noem satan die lafhard want dit is wat hy is. Hy kruip agter al die “nice” dinge van die lewe weg

Mazal
Jan 5th 2012, 07:11 AM
Vervolg , deel 5 van 6:

en trek homself mooi klere aan en vang sy prooi op slinkse maniere. Hy is 'n leunaar en bedrier.
Hy probeer met allerhande snert wat hy in jou kop sit jou stelsilmatig weg te kry van die Here af sodat hy die groot goed kan doen aan jou.

En die lafhard satan sien hier is nou probleme. Wikus is by die Here en my planne misluk nou !!
En elke keer wat ek goed wil doen dan kom plaas daai lafhard 'n klomp snert in my kop om my te keer.

Ek maak my laptop oop en sit facebook aan , en ek dink by myself , hier is iets wat gebruik kan word en aangewend kan word om die Here se naam uit te dra. En die lafhard sit dit in my gedagtes “nee los dit , facebook is nie die plek vir sulke dinge nie”. En ek se voetsek los my uit en ek post vir die eerste keer ooit op my profiel 'n lofprysing vir die Here se naam. Later die dag toe gaan kyk ek en sien 'n klomp positiewe reaksies daarop en kry sommer weer 'n warm gevoel in my hart.

'n Game wat ek al lank voor die tyd bestel het arriveer. Nou my reels met games nou is dat ek toets hom en as die Here se naam misbruik word is die game uit en word vernietig !!! En hierdie game was een van die grootste releases van die jaar. Almal het daarvoor gewag. Hy het gekom in die pos en ek het hom op die bank neergesit. Maar ek het eers my stiltetyd saam met die Here gaan hou want niks is meer belangriker as die Here nie. Later die aand na my stiltetyd besluit ek dat ek nou die game gaan insit om te speel. En soos ek die game se verpakking oopmaak se die satan vir my “ja dit was maklik om ou games uit te gooi , ons sal sien of jy die een uitgooi wat splinternuut is en jy 'n jaar voor gewag het”. En ek se try my !!!! Ek sit die game in en sowar binne 'n paar minute toe steek daai siekte van die wereld sy kop uit en die Here se naam word ydelik gebruik in die game.
En ek is onmiddelik omgekrap en satan se “dis net nou en dan , dis nie so erg nie” Maar ek se een keer is klaar te veel. Daai game , so nuut soos hy is , het ek saam met die ander verbrand.

Ek kyk tv en nou kom daar 'n storie op wat ek altyd van gehou het. En binne amper sekondes is die vieslike gewoonte daar wat die Here se naam ydelik gebruik word. En die lafhard se “dis 'n baie goeie storie , kyk dit maar vir die storie wat so goed is”. En ek se nee , ek weier. En elke keer wat 'n storie of 'n fliek op tv kom en die Here se naam word ydelik gebruik dan kyk ek dit nie verder nie.

So kom die satan in alles in ons huise in , tv , flieks , musiek , games en hy maak jou so gewoond aan sy dreg en aan sonde , lastering van die Here se naam , seks , geweld , losbandigheid , al die dreg van die wereld , dat jy naderhand dit nie eers meer agterkom nie en die satan al hoe meer en meer sonde in jou lewe en huis inbring. En elke keer dan kom sit hy snert in jou gedagtes om jou te keer om die regte ding te doen. Want as jy die regte ding doen kan hy nie houvas kry nie. So kry hy mense om sonde oral in hulle huis en lewe toe te laat. En dit begin met die klein dingetjies. En as jy nie opstaan vir die Here met die klein dingetjies nie , dan vang die lafhard jou later op groot goed ook.

Ek is een oggend by kolonade en ek koop vir my twee Christelike dagboeke. En ek wou vir my 'n sakbybel koop vir my kar. Maar ek vergeet ongelukkig. Toe ek buite is toe onthou ek van die sakbybel en ek besluit ek gaan sommer nou een kry. En die lafhard se “ag los dit , jou oge is te sleg om daai klein skrif te lees” Maar ek se voetsek , ek het 'n bril. Ek het my sakbybel vir die kar gekoop en elke keer wat ek in die kar sit en wag vir iets of iemand dan lees ek te lekker my sakbybel.

So kom die satan telkens met aanvalle en snert wat hy in my kop plaas. Aanmekaar probeer hy om my afvallig te maak en val my aan op al my swak plekke. Maar die Here is goed vir my en gee aan my wysheid en maak my oge oop sodat ek die lafhard kan sien wanneer hy iets probeer.

Mazal
Jan 5th 2012, 07:12 AM
Vervolg, deel 6 van 6:

Die Here is goed vir my


My lewe het verander van die eensame kluisenaars bestaan in pyn en smart en haat en sonde , na 'n lewe toe wat gevul is met vreugde , vrede en liefde. Nog nooit het ek sulke dinge ervaar nie. Dis 'n onbeskryflike gevoel om die liefde en vrede van die Here in my lewe te he !!!!!
'n Lewe gevul met die wonderlikste seeninge.
Baie oggende as ek wakker word dan wonder ek in opgewondenheid wat die Here vandag vir my gaan doen !!! Wat die Here my vandag gaan leer !!! Dan raak ek bly en sien uit na die toekoms.
Die pad van die Here is die enigste pad wat ek wil loop. Die wil van die Here is die enigste ding wat ek wil doen. Dis 'n pad wat maar pas begin het , maar alreeds so wonderlik is !!! Dis 'n pad wat ware liefde gee , dis 'n pad wat ware vreugde gee , dis 'n pad wat ware lewe gee.
Die liefde en genade van die Here het my uit my duistere gat uitgehaal , en aan my lewe gegee.
Ek leef nou vir die Here , om die Here se wil te doen. Die selfsugtigheid bestaan nie meer nie , die liefde wat ek het is ware liefde , die sonde is skoon gewas. Die Here se Woord is waarvolgens ek lewe en nie meer my eie manier van dinge doen nie. En dis wonderlik lekker !!!!!
Jesus Christus , die enigste weg , die enigste waarheid , die enigste lewe !!!!!!!!!!!
Prys die Here !!!!!


Lesse wat geleer is uit my verhaal




Net omdat jou ouers Christene is maak nie van jou automaties een nie. Jy moet self ook die Here dien en liefhe anders sal die dinge van die wereld jou insluk en die satan sy kloue in jou kry die dag as jy die wereld in gaan.

MOENIE flirt met sonde NIE. 'n Losbandige wereldse leefstyl stel vir jouself soveel slaggate waarin jy gaan val en die sonde mag oor jou kan kry. Verkeerd is verkeerd , moenie dink ag dis 'n klein dingetjie nie. Want dan gaan jy later die groot dinge ook toelaat en doen.

Wees ten volle getrou in jou huwelik teenoor mekaar en wees lief vir mekaar. Verwerp ENIGE gedagtes wat nie rein is nie onmiddelik.

As die Here praat , luister en doen wat Hy se. As Hy na jou roep gaan na Hom toe. Moenie jou rug op die Here draai nie.

Moenie vir jouself leef nie , leef vir die Here. Selfsugtigheid beteken ondergang van jouself.

Bekeer jou van jou sondes en gee jou hele hart en lewe vir die Here onvoorwaardelik. Laat Hy jou lei in hoe jy moet leef.

As die Here vir jou iets wys , DOEN wat Hy vir jou se. As die Here iets wys wat moet verwyder word uit jou lewe , aandag kry , of wat jy moet na kyk. Doen dit sonder om te huiwer. Die Here weet wat is goed vir jou.

Wees wakker vir die satan se dreg wat hy in ons huise inbring met tv , flieks , musiek , games , internet. Bid vir wysheid , maak oop jou oge , en staan op vir die Here. Verwyder satan se dreg uit jou huis en lewe uit. Moet satan geen vatkans gee op enige gebied nie.

Maak tyd vir die Here elke dag. Dien die Here elke dag. Moenie toelaat dat enige iets belangriker as die Here is in jou lewe nie. Laat die Here jou lei deur sy Woord te bestudeer en stil te word saam met die Here elke dag.

Moet nooit ooit die “dis bietjie te erg” sindroom kry nie. Moet nooit se “dis bietjie te erg” as jy iets moet opgee vir die Here of iets moet doen vir die Here nie. Jesus het nie gese “dis bietjie te erg” toe Hy vir jou sondes moes sterf nie. Hy het Sy beste en alles gegee , en Hy verdien dieselfde van jou af.



En dan , die groot les wat uitstaan vir my:




Hoe onbeskryflik groot is die Here se liefde , hoe onbeskryflik groot is die Here se genade , hoe onbeskryflik groot is die Here se geduld , dat hy 'n sondaar soos ek , wat als in Sy gesig terugeggooi het , wat vieslike dinge gdoen het , wat volhard het in ongehoorsaamheid en sonde , nie van hierdie aarde af weggevee het voor Sy aangesig uit nie , maar geduldig gewag het en my in liefde na Hom toe gelei het en gered het !!!!!!!!!



Prys die Here !!!!!!!!!!!!!!!!! Aan Hom al die eer !!!!!!!

AndreHa
Jan 5th 2012, 12:26 PM
:amen:Wat 'n kragtige bevestging van God se grootheid. :amen:

protea
Jan 5th 2012, 05:37 PM
Alle eer en dank en aanbidding aan die groot en almagtige God van hemel en aarde vir Sy groot genade , liefde en verlossing deur Sy Seun! Dankie dat jy die getuienis met ons gedeel het Mazal. Lekker kuier hier op die forum in die toekoms!

CFJ
Jan 6th 2012, 08:30 AM
Dankie vir die mooi getuienis Wikus. Sulke getuienisse maak dat mense wat ook vasgevang is in wat jy van getuig, kan wakker word aan die een kant en aan die anderkant bring dit hoop vir iemand wat nie lig in die tonnel sien nie.