Announcement

Collapse
No announcement yet.

Die lewe en werk op Funny Farm

Collapse
X
 
  • Filter
  • Time
  • Show
Clear All
new posts

  • Die lewe en werk op Funny Farm

    Liewe Protea en ander Ligvriende,
    Jammer ek het so lank geneem om van my te laat hoor, maar ons was omtrent van die buitewereld afgesny deur geweldige storms. Eers was dit vir dae so warm dat dit byna onmoontlik was om buite te werk en daarna het ons 'n geweldige donderstorm gehad. Internet, foonlyne en cellfoon was alles van die kaart af.

    Dit is vir my 'n groot voorreg om vir julle van ons lewe en werk hier op Horizon te vertel. Ek wil ook baie graag vir julle fotos wys van ons Kersvieringe. Ons het die geboorte van Jesus op die planke gebring ....... en was dit nou vir jou 'n grootse gebeurtenis. Omtrent al die mense vir wie ons uitnodigings gestuur het, het gekom. Ons ou eetsaaltjie was hopeloos te klein, maar die opgewondenheid en trots om voor familie en vriende te kan optree, was ongelooflik. Sal iemand asb. vir my stap vir stap kan verduidelik hoe ek fotos vir julle kan wys wat reeds op my rekenaar is. (Onthou, ek leer maar stadig, so skryf ook tog net s-t-a-d-i-g)

    Om dit vir ons mensies makliker te maak, het ek 'n 'narrator' gehad en so hier en daar kon ek dat een van die spelers 'n kort sinnetjie se. Hulle het my amper mal gehad voor die tyd. As ek nie dat ons elke aand na ete oefen nie, dan was ek diep in die moeilikheid. Ek het net my spelers mooi uitgewerk gehad en aan elkeen sy karakter verduidelik, toe Maria besluit sy wil nie meer Maria wees nie, maar 'n engel. Maria sou gespeel word deur Tessa. Sy is 20 jaar oud en is in 'n rystoel. Sy kan nie praat nie, maar kan geluide maak en na 'n tyd het ek geleer om te verstaan wat sy se. Sy hou van lag en is 'n baie vrolike mens. (Toe ons hier begin het en ek nog vreeslik teen die prikkels geskop het, het haar lag my baie ge-irreteer. Dit is hard en onnatuurlik. Nou maak dit my dag om haar te hoor lag.) Sy en Johan is baie verlief op mekaar. Hy het die rol van Josef gespeel en was nie baie gelukkig dat Tessa nie meer Maria wil wees nie. Johan het op 4jarige ouderdom enkefelites (ek spel dit soos ek dit se, weetnie of dit reg is nie) opgedoen. Hy het dit oorleef, maar met breinskade. Hy is egter nie dom nie en kan bietjie lees en skryf. Hy is 'n baie groot en sterk. Oor die 6 voet soos die ou mense sou se. Dit was hy wat met een hou twee van my ribbetjies afgeslaan het. Maar dit was nie sy skuld nie. Sy medikasie wat hy moet neem net om te sorg dat hy nie 4 tot 5 epileptiese aanvalle per dag kry, het hom baie agressief gemaak. Sy dokter het ander tablette voorgeskryf om die agressie te onderdruk, maar nou is hy so gedrug dat hy gedurig loop en kwyl. Tog is Johan 'n baie dierbare mens en is hy baie lief vir my. Sy toewyding aan Tessa is ook ongelooflik. Hy is altyd by haar en tel haar in haar rystoel, of sal partykeer vir my saggies in my oor kom vra of kan hy haar maar op die rusbank laat sit. Dan sal hy langs haar gaan sit met sy lang arm om haar klein skouertjies en my roep om te kom kyk. Die twee mense, so lief vir mekaar, so gelukkig in mekaar se geselskap, so tevrede langs mekaar - dit maak my skaam omdat ek wat so baie in die lewe het en kan ervaar so baie maal ontevrede is

    Maria is gespeel deur Rosie. Sy is 53 jaar oud. Breinskade asgevolg van 'n mislukte breinoperasie. Beginstanduim van Altzheimer. Maar haar humor en haar vermoe om vir haarself te lag, maak haar baie dierbaar. Ek het die toneelstukkie presies volgens Bybel gehou en toe die engel vir Maria die boodskap bring van haar swangerskap het ek dat Tessa (die engel) vir Rosie 'n wit roos gee. Ons het dat Rosie ook in 'n rystoel sit, dit was makliker vir Josef om haar na die 'stal' te stoot. Die aand met die opvoering net nadat Tessa vir Rosie die roos gee se Rosie "Thank you my darling. Its lovely." Sy is dit nooit geleer nie, maar dit was so wonderlik dat daar nie 'n droe oog in die gehoor was nie. Ek het ook nie presies geweet hoe om die geboorte sinvol te laat geskied nie tot ek die idee gekry het die verhoog donker te maak en een van my kleinste engeltjies (sy is die dogtertjie van een van ons 'carers' en 4 jaar oud) die baba Jesus na Maria te neem met 'n enkele spotlight wat die engeltjie volg. Ag dit was regtig so mooi en treffend. Weer was Rosie se kommentaar: "What a beautiful baby!" Josef het hierna die baba my Maria geneem en die kleine Jesus in die krip neergele. Hy het dit met soveel teerheid gedoen asof dit werklik 'n baba was. Hierna het hy na die gehoor gekyk en gese: "His name is Jesus"

    My man het my gehelp en ons het 'n stal- 'n opeveld en 'n verhoog van Herodes se troomkamer gehad. Elke herder en wyse man het op daardie aand sy heel beste voet voorgesit en die speeltalent was beter as enige Oscar-wenner. Hulle was almal wenners. Met die fotos sal julle beter kan verstaan wat ek hier vir julle probeer vertel. Die aand was daar iemand in die gehoor wat so diep geraak was deur alles dat hy vir Tessa 'n splinternuwe elektriese rolstoel laat aflewer het. Sy het 'n baie ou elektriese stoel gehad en gedurende die opvoering het sy self al haar bewegings gedoen, maar met groot moeite. Haar stoel was lomp en moeilik om te 'bestuur'. Hierdie persoon het egter gevra om annoniem te bly en ons weet gladnie wie dit was nie. Ons loof en dank net die Heer vir die wonderlike geskenk vir Tessa.

    Ek wil julle nie verveel en my plasings te lank maak nie. Asb. stop my as ek teveel en te lank praat, maar ek het nog baie wonderlike stories om julle te vertel. Ek neem 'n klomp van my kinders altyd saam met my kerk toe, maar hiervan in my volgende episode want ek kan dit nie afjaag nie en Pa se ek moet nou eers bietjie slaap en kan weer more met my pelle gesels.

    Liefde vir julle vanaf Funny Farm - we here because we not all there.
    Mia.

  • #2
    Mia,
    Ek sou WAT wou betaal om daardie Kerskonsert by te woon! Dis aangrypend ! Na alles bly hulle maar net kinders in grootmenslyfies.... Dis seker die wonderlikste Kerspresent wat Tessa nog ooit gekry het en ons is intens dankbaar saam met julle. Met so n 'kinder' konsert kan enigiets mos gebeur ,maar in hierdie geval glo ek die Heilige Gees het die imprompto insetsels ingevoeg omdat die gehoor so aangegryp is deur die verloop. Vertel nog asb !
    Ta-An en Lanie!! HELP gou vir Mia met die oplaai van die fotos en gee vir haar n 'ramseppie' oor hoe om dit te doen.
    Die meisie wat haarself so gesny het : Hoe gaan dit deesdae met haar?
    Al my liefde
    Protea

    Comment


    • #3
      Ai Protea, jy is heeltemal reg. Daardie aand met ons opvoering was ons eregas die Persoon oor wie alles gaan. Daarom was dit vir my belangrik om die 'text' absoluut uit die Bybel te neem. Die teenwoordigheid en inwerking van die Heilige Gees was ongelooflik vir almal wat sensitief genoeg was om na die boodskap te luister.

      Daar is 'n kort video gemaak en dit is kosbaar. Tog het dit my ongelooflik hartseer gemaak toe ek agterna na al die fotos kyk en sien wie sit almal met glasies drank in die hand. Dit het my verstand te bowe gegaan dat jy na hierdie eenvoudige mense se ongelooflike spel kan kyk, wegdraai en uit jou motor se kattebak vir jou 'n lekker lang dop skink.

      Op Kersoggend het ons kerk (Presbyterian) hulle kollekte aan ons geskenk. Die eerste Sondagoggend na die vakansie het ek en omtrent 8 van my 'kinders' kerktoe gegaan om te gaan se dankie. Die bedrag wat ingesamel is het my instaat gestel om vir ons nuwe kombuistoerusting soos ketels, panne en mooi kastrolle aan te koop. Ek vra toe vir Malcolm (ons pastoor) om asseblief namens ons vir die gemeente dankie te se. Nee, se hy, julle gaan dit self doen. Ons sal vir julle geleentheid gee en dan neem jy al jou manne en gaan staan voor en se dankie. Ag, was dit 'n ervaring. Dit het my etlike minute geneem om almal en vir Tessa in haar rystoel voor te kry en John, (hy is my baba. Hy is 35, groot en sterk, maar verstandelik niks ouer as 4 - 5 jaar nie) Hy is so skaam en probeer aanhoudend om agter my weg te kruip en hy is baie groter as ek. Ag, maar almal het dit so waardeer dat ons dankie gese het, en nou ken hulle ons ook sommer beter.
      Dit is 'n ervaring om met hierdie mensies in die kerk te sit. Hulle sing asof hulle nooit weer wil ophou nie. Hulle juig en Tessa raak so meegevoer dat sy sit en huil. Hulle pleit net altyd dat ons tog moet bly vir tee en almal wil net met Malcolm gesels. Oppad terug na die plaas word die preek bespreek en dan word dit vir my duidelik dat hierdie mense gewis en seker weet dat Jesus hulle Verlosser en Saligmaker is. Hulle kinderlike opregte geloof laat my my kop in skaamte sak.

      Ons het drie groepe mense op die plaas. Die eerste groep noem ons Villagers. Hulle bly in hulle eie klein hout 'cabin' en kan redelik na hulle self omsien. Hulle eet egter in die hoofhuis waar ons bly. Hierdie groep help baie met die werk op die plaas. Hulle verblyf is ook goedkoper as die ander sin, met die veronderstelling dat hulle help waar hulle kan. Hulle is of bio-polar, skisofrenies, borderline en Kleinfelder-sindroom. (Weetnie of alles korrek gespel is nie.) Hulle kan nogal somtyds moeilik raak en jou geduld moet maar lank wees. Tog het ek al geleer dat ek baie verder kom en meer met hulle uitgerig kry as ek nie kwaad word en hulle eerder prys en wys dat ek staatmaak op hulle. (Ek kan by tye vreeslik hulpeloos en vroulik wees en niks doen sonder die sterke hand van die manlike geslag nie. Dit werk elke keer en dan spring hulle)

      Die tweede groep is almal wat in die hoofhuis of in ons nuwe "Die Lodge" bly. (Die Lodge is 'n splinternuwe 8 vertrek houthuis wat aan ons geskenk is en wat nou ingebruik geneem word. Hierdie groep het nie toesig heeltyd nodig nie, maar kan gladnie op hulle eie funksioneer nie. Hulle kry epileptiese aanvalle en is verstandelik baie vertraag.

      Die derde groep is die wat een op een 'carers' nodig het. Tessa is een van hulle. Alles moet vir hulle gedoen word. Hulle word gebad en in die bed gesit en moet heeldag onder oog wees. Hulle dra ook meestal 'nappies'.

      Die oggend met my verjaarsdag het hulle my man baie vroeg saggies kom wakker maak en gevra waar kan hulle blomme kry. Gelukkig het ek 'n pragtige 'peacelily' wat blom en hy se hulle kan dit maar pluk. Sewe-uur toe ek die eetsaal binnestap, spring almal op en sing vir my "Happy birthday, mamma mia ...... en gee vir my die blomme. Almal wil my 'n drukkie gee..... ag mense julle weetnie hoe het ek gehuil nie. Jare gelede het my vier kleingoed altyd so vir my gesing en voor my bed gestaan met blommetjies wat my seunskind iewers in die bure se tuine gaan gaps het. Met al hierdie stukkende mensies om my het die Heer vir my gewys wat ek nie van die begin af wou sien nie. Hy het vir my soos vir Job weer kinders gegee, nie drie nie, maar amper 30. Hier is ook ganse en eende, hoenders en makoue en ek is RYK. RYKLIK geseen deur Sy Genade wat altyd beter weet as ons ou mensies wat nie weet wat die volgende uur vir ons inhou nie.

      Hier het ek in die byna twee jaar meer lewenslesse geleer as in al my ander jare. Vandag kyk ek terug en weet ek dat ek baie arm sou gewees het sonder Horizon. (Dankie Here dat U nie moeg geraak het vir 'n ou vrou se klagtes oor wereldse ongerief nie, maar my versterk het met U Gees om dag na dag nader aan U te kom. Hoe liewer ek vir hierdie kinders word, hoe nader kom ek aan U. Amen)

      Tot volgende keer
      Funny Farm liefde vir almal.
      NS Dit gaan nie so goed met die kind wat haar so sny nie. Sy is al van die begin van Desember terug in die hospitaal en maak bykans geen vordering. Sy het 'n ondraaglike stryd met haar drang om te sny. Dit het so erg geraak dat hulle haar moes opneem. Help my bid vir haar asb.

      Comment


      • #4
        Sjoe Mia, en hier is ek besig om te kla oor allerhande nonsens ! Baie dankie vir jou wonderlike skrywe, en 'n draad wat werklik 'n sen is vir Lighuis.

        Comment


        • #5
          Mia , ek is sprakeloos..... Kyk net hoe seen die Here jou net bloot deur jou gehoorsaamheid , bereidwilligheid en empatie vir hierdie 'kinders'. Waar jy 3 kinders verloor het , las ons Vader n nul aan en maak Hy 30 julle verantwoordelikheid! Na julle dankie se in die kerk , glo ek is julle nie net meer bekend in die omgewing nie ,maar verseker ook bemind. Mense is nou maar eenmaal so : Jy wil weet (sover moontlik) waarheen gaan jou kollekte of offergawe en julle 'sigbaarheid' voor in die kerk het n groot verskil gemaak. Nie net wat finansiele bydraes betref nie, maar ek glo ook julle het nou n begin gemaak om n gemeenskap betrokke te kry by Funny Farm. Ons Vader het voorwaar jou gestuur om vir daardie mensies n moeder , vertroueling en ook n anker in baie opsigte te wees.
          Wat die meisie betref wat haar so sny betref: Ek het die ander dag oor die radio n program gehoor waar hulle praat van mense wat hulle self sny , wat n geweldige lae selfbeeld het a.g.v. watter rede ook al. Toe dink ek so aan die jong vrou by julle. Verseker sal ons vir haar bid!
          Terloops, wanneer was jou verjaardag?
          Groetnis
          Protea

          Comment


          • #6
            Mia , wat maak julle as een van die inwoners n dokter nodig kry? Is daar n sentrale dokter in die naaste dorp waarheen almal kan gaan of het elkeen maar sy eie dokter gegewe hulle eiesoortige behoeftes van bipolere depressie tot die ander uiterste van Tessa wat seker n ortopeed so van tyd tot tyd benodig?

            Comment


            • #7
              Ai tog, ek het 'n hele klomp nuus vir julle vertel en toe ..... weg alles ..... net af. Nou moet ek maar weer voor begin.
              Dankie vir jou belangstelling Protea. Meeste van ons kinders se ouers neem hulle maar na 'n staatsdokter of kliniek. Alhoewel hulle in lang rye moet sit en wag, kos dit minimaal. Iemand soos Johan wat 25 tot 30 pille per dag drink en nie 'n medies het nie, het geen ander uitweg nie.

              In 'n ernstige noodgeval sal ons dadelik die ouers kontak en hulle onmiddellik na die naaste dokter neem. Gelukkig was dit nog nooit nodig nie. Tessa is egter vir my so 'n hartseer geval. Ek dink sy het sedert haar geboorte weinig behandeling vir rehabilitasie ontvang. Ons het haar geleer eet en alhoewel dit met baie mors gepaart gaan (ons brakkies gee nie om nie, hulle ruim die vloer gou gou op) is dit tog vir haar 'n groot oorwinning. Ek wens ek kon uitvind hoe om haar te help om beter te kommunikeer. Sy is so intellegent. Verstaan selfs 'n bietjie Afrikaans. Miskien is daar 'n soort skootrekenaar of iets waarop sy kan tik, alhoewel die ou handjies baie spasties en onhandig is. Enige idees van julle kant sal waardeer word.

              Verlede Maandag het ons 'n besoek van ons kerk gehad. Ons Jeugpastoor en 'n klompie jongmense het kom kyk wat ons doen en hoe dit hier lyk. Jy was reg, Protea. Die Sondag wat ek met hulle kerktoe was het die mense meer bewus geraak van ons en nou wil van die jeug hier kom kamp vir 'n naweek en kom werk. Ons is baie opgewonde hieroor.

              Is dit nie wonderlik hoedat God Hom in die natuur aan ons openbaar en Sy geaardheid aan ons demonstreer as ons net fyn wil oplet nie. Dit gebeur van tyd tot tyd dat van ons gevleuelde inwoners soos die ganse, Indiese runners of makoue nuwe babetjies kry. Ek kan my sit en verkyk hoedat die wyfie deur net 'n sekere waarskuwings roep almal gou gou bymekaar kry en veilig onder haar vlerk. (Onder Sy vleuels sal ek skuil) Die kuikens is al heel groot en dan kruip hulle maar nog onder die moeder se vlerk in. Sy kan hulle nie eers meer almal toemaak nie, maar dit maak nie saak nie. Dan kry ek so 'n wonderlike versekering in my hart dat my Hemelse Vader ook so my veilig in Sy liefdevolle arms toevou en veilig hou tot op die dag dat ek Hom kan aanskou.

              Ek moet tog net vir julle die storie vertel van die twee gansies. Op 'n keer het daar net twee gansies uitgebroei, die ma wou egter nie die nes verlaat en twee was skoon verlore. Die een is met klomp 'voete' gebore en kon gladnie loop nie. Al die tone was teenmekaar en voete was ingevou na die binnekant van die bene. Ek het die twee geneem en begin om hulle hans groot te maak. Die mank outjie het my egter baie gepla, want eintlik was daar nie 'n lewe vir haar nie. (Ek dink dit is 'n sy.) Toe op 'n nag terwyl ek nie kon slaap nie, dink ek daaraan dat indien 'n babetjie met sulke voetjies gebore word, sit die dokters dit dadelik in gips of 'n stut. So die volgende oggend vra ek vir my man vuurhoutjies en ek maak vir my eend met pleisters en vuurhoutjies stutte vir haar voete. Ek forseer die tone uitmekaar en buig die voete in die regte posisie. Alhoewel nog mank, kon sy al 'n paar tree gee. Om 'n lang storie kort te maak, sy is nou uitgegroei en hardloop die hele werf vol. Haar voete het volmaak reg gekom. Net die een toon is bietjie krom, sy het teveel in die water geboer en die pleisters wou nie lank genoeg aanbly nie. Al probleem wat ek nou het is dat die twee dink hulle is deel van die huisgesin en volg my orals. Hulle slaap reg voor ons kamer venster en roep my vroeg in die oggend vir kos.

              "Hy laat my rus in groen weivelde.
              Hy bring my by waters waar daar vrede is.
              Hy gee my nuwe krag"

              So ervaar ons wonderlike vreugde tussen al die gebroke mensies om ons en kan ons ons verlustig in hulle opregte en eenvoudige en onvoorwaardelike liefde vir ons.

              Tot volgende keer
              Plaasgroete - en julle kan maar kom kuier vir ons. Ek sal melktert maak.
              Mia.

              Comment


              • #8
                Ai , Mia, ek sit nou net en dink hoe lekker sal dit nie wees om by jou af te klim as my man hulle Mighty Men's Conference toe gaan nie ,maar nou is die voertuig al klaar vol..... Sulke gestremde mense het my nog altyd geinteresseer en getrek, maar wie weet , daar kom dalk net n dag wat ek aan jou voordeur klop!

                Comment


                • #9
                  Protea,
                  Dalk moet ons dit 'n Lighuis aksie maak ! Operasie KuiervirmammaMia. ( patend pending. )

                  Comment


                  • #10
                    Fila, ek sien al in my geestesoog die helderkleurige Lighuis tentjies op Mamma Mia se grasperk......

                    Comment


                    • #11
                      Ai julle twee, julle maak my skoon opgewonde. Sal dit nie wonderlik wees om 'n klomp van my Lighuis-vriende hier te verwelkom nie. Na die baie reen, is ons dam vol en is dit pragtig groen. Ons het 'n lieflike boomhuis vir die wat van avontuur hou, vir die meer versigtige ouens, 'n groot saal waar julle kan slaap.

                      As julle eers hier was, gaan julle l--a---n---k kuier. Ag nee, is hier niemand op lighuis wat kans sien om my te leer van fotos plaas. Ek brand om vir julle ons plek te wys. Sebliefie, grooooot asb. help my.!!!!!!!!

                      Comment


                      • #12
                        Mia, laat die wat die minste weet jou help.... Ek het gou Soezie se 'ramseppie' gaan nadersleep.

                        1. Click on 'Go Advanced (just next to " Post Quick Reply)
                        2. Scroll down , click on " Manage Attachments"
                        3. In the window click on " Browse"- it takes you to file " My Pictures"
                        4. Select picture, click on it.
                        5. Then click on " open"(bottom right corner of window)
                        6. This takes you back to window with "browse" in it.
                        7. Click on " upload"
                        8. Once you notice picture has been uploaded, close window.
                        9. Now you are back in " Go Advanced"
                        10. CLick on icon resembling paper clip.
                        11. Another small window appears, also " manage attachments" with "image" just below.
                        12. Click on "image" and your picture will appear as "attached"
                        13. Then submit and your pic should appear on site.

                        Ek hoop regtig die reseppie help vir jou ook. Druk hom sommer uit vir volgende keer se gebruik ook. Plaas heel eerste vir ons n kiekie van die boomhuis want dis waar ek deps om te slaap!!
                        Toedels
                        Protea

                        Comment


                        • #13
                          Hi Protea
                          Baie dankie. Ek gaan gou probeer. Hoop nie ek blaas die hele lighuis se liggies met my poging.
                          1. Die uwe en haar 'beter helfte'.
                          2. Pret in ons plaasdam
                          3. Tessa ry perd met behulp van 'n spesiale saal.
                          4. My klein gansie met die 'stutte'.
                          5. Tessa en Johan (Die twee verliefdes).
                          Hoop nie ek het teveel geplaas nie. Volgende keer van die Kerskonsert.
                          Liefde
                          Mia
                          Attached Files

                          Comment


                          • #14
                            Dankie Mia, jy moes al lankal fotos geplaas het !
                            Die eerste ding wat ek gaan doen as ek by julle kom kuier is om in daai dam te spring.

                            Comment


                            • #15
                              Dis wonderlik om die fotos uitEINdelik te sien en nou kan ons ook n gesig by die naam Mia Ashton sit! Jy is uiterlik net so pragtig soos innerlik! Die perdrysaal is vir my baie interessant . Ek neem aan die gestremdes galop nooit alleen met die perde nie. Hulle word seker net gelei? Ek is veral geinteresseerd in die behandeling van gestremdes en ook getraumatiseerde mense d.m.v perde en ook ander diere. Ek het gelees van n drie weke oue baba wat na n baie getraumatiseerde geboorte met n abba doek voor die ruiter vasgemaak word en dan so op die perd rondgelei is op n gereelde basis. Dit was deel van die behandeling wat hulle op n spesiale perdeplaas erens in die Noorde toegepas het. So 2 weke gelede is daar n soortgelyke program vertoon op TV van n rehabilitasie sentrum erens naby Franschhoek. DIe vrou wat dit bedryf , spesialiseer in sielkunde. Het julle dit gesien?

                              Comment

                              Working...
                              X