1 Kon. 18:21 En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!

Vir jare merk ek geliefdes wat saam met die volk wandel in die kerk wat alles doen soos die heiliges doen. Die gewoontepatroon is so goed aangeleer en bemeester dat jy fyn moet oplet of daar regtig ʼn verhouding tussen die persoon en God is. Hulle sing saam, praat saam, dans saam, en selfs bid saam, tog is daar geen diepte of enige persoonlike verhouding tussen die persoon en die Here nie, want daar is altyd vrae en ontevredenheid in sy hart as dit kom by Bybelstudies. By die huis is daar geen verandering wat dui dat God daar teenwoordig of welkom is nie. Die hele huishouding is van so ʼn aard ingerig om plek te maak vir wêreldse vermaaklikheid. Ook sal jy vind dat daar nie van God gepraat word of dat enige godsdienstige ornament stigtend voorgelê word om iemand daarmee te bemoedig of versterk nie. Die persoon is ook nie oop vir verandering in die kerk of in sy lewe nie. Tog, sal die persoon by jou wees waar jy gaan en in die teenwoordigheid van die salwing wat op jou rus geniet om sodoende alle krag wat moontlik is uit jou te tap en as sy reg beskou. Sodoende verbly hy hom in jou teenwoordigheid en blydskap en verlustig hom in jou oorwinning. Hy is saam met jou bly en kan ook saam met jou huil, maar moet nooit alleen gelaat word of oorgegee word aan eensaamheid nie. Hulle word soos ʼn opgevoede skoothondjie wat gretig alles saam met jou doen om jou nie teleur te stel nie. Hulle sal nie sommer van jou sleg praat solank jy hom aanvaar soos hy is en nie konfronteer oor sy lewe en persoonlike goddelike verhouding nie. Indien jy daarop aandring word hy kwaad en jy word die vyand terwyl hy aanstaltes maak om ʼn ander gesalfde te merk as die volgende geestelike slagoffer wat sy behoeftes kan vervul omdat hy nie ʼn persoonlike verhouding met God wil hê soos alle christene nie.